Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Frankryk met ’n frangipani-blom

Dit is ’n bestemming wat jou in ’n warrelwindromanse met sy eksotiese skoonheid en pretensielose sjarme bekoor, verlei en verower. Jy sal altyd weer wil terugkeer na Réunion, skryf Retha Fick.

Die Trou de Fer in die Salazie-krater.Foto: ISTOCK

Die Indiese Oseaan se grootste geheim is ’n plek van duiselingwekkende kontraste, toegedraai in ’n Franse baadjie en net vier uur van Johannesburg af.

Dis reg. Jy kan binne vier uur in “Parys”, Réunion se hoofstad Saint-Denis, wees, soos ’n prôpperse Europeër aan café by ’n straatkafee teug of ’n baguette by ’n boulangerie koop – en dit alles sonder ’n visum.

Die eerste indrukke van ’n toeoogafspraak kan jou egter flous, so moenie dat die wyn uit Bordeaux en die croissantsjou laat dink dat jy die eiland so gou reeds kleingekry het nie.

Die see is altyd naby. Drink ’n skemerkelkie onder ’n sambreel. Jy sien dalk dolfyne.Foto’s: RETHA FICK (tensy anders vermeld)

Meer as die tipiese eilandvakansie

Die eiland is ’n “departement” van Frankryk. Die geldeenheid is euro en Frans is die amptelike taal. Maar as jou Frans tot “bonjouren “au revoir”beperk is, pak jou Franse fraseboekie in, want Engels is skaars. Die fassinerende tongval van Réunionse Kreools word oral gehoor.

Die eiland is ’n mengelmoes van kleur, kulture en ongerepte natuurskoon – Frankryk met ’n frangipani-blom in die hare. Die meeste van die 800 000 inwoners is Réunionese Kreole. Die res is Europeërs, Afrikane, Indiërs, Chinese en Malgasse. Die eiland is net-net groter as sy buurman Mauritius, 63 km lank en 45 km wyd, en is ’n paradys vir stappers, fietsryers, adrenalienslawe en avontuursoekers.

Graffiti in Cilaos. Graffiti is algemeen op die eiland.

“Dit is Frankryk; ’n ander soort Frankryk. ’n Meer ontspanne Frankryk,” verduidelik die gids.

Réunion bied alles wat jy met ’n tipiese eilandvakansie vereenselwig: die uitgestrekte palmboomstrande, goue sonsondergange, tropiese vrugte . . . en natuurlik rum.

Die eiland gaan jou egter nie toelaat om te veel tyd op jou dekstoel deur te bring nie.

Die maanlandskap van die asvlakte is ’n skerp kontras met die tropiese natuurskoon van die eiland. In die verre agtergrond is Piton de la Fournaise.Foto: RETHA FICK

Tot binne-in sy hart

Die eiland se hart lê in die drie skouspelagtige amfiteateragtige valleie in die weste wat soos ’n klawerblaar oor ’n groot gedeelte van die eiland strek.

In teenstelling met die energie in die kusdorpe, is die kraters byna stil in hul grootsheid – geheimsinnig en onverstoord.

Piton des Neiges, die hoogste piek van die eiland waar ’n prehistoriese vulkaan miljoene jare gelede uitgebars het, is die middelpunt. Die lawa-tonnels het mettertyd ingeval en die asembenemende kranse, grasgroen klowe en voue in die landskap is met die hulp van reënval en erosie gevorm.

Die beste manier om ’n opsommende blik van die kraters te kry is per helikopter, wat daagliks vanaf Saint-Gilles vertrek.

’n Vrou stap huis toe ná ’n besoek aan die mark in Cilaos.

Die Salazie-krater met sy sowat 100 watervalle, waaronder die wêreldbekende Trou de Fer, is die grootste van die drie kraters en is die sentrum van Kreoolse kultuur. Die Mafate-krater, die kleinste, kan net te voet of per helikopter bereik word. Sowat 650 mense woon hier in afgeleë nedersettings, grootliks van die buitewêreld afgesonder.

Vir ’n besoek aan die derde krater, Cilaos, kom ’n karsiekpilletjie of twee handig te pas. Die laaste gedeelte van die sowat 36 km vanaf Saint-Louis in die suidweste is ’n baie nou bergpas met 432 haarnaalddraaie. Die pad kronkel verby klein nedersettings of hamlets en daar is heelwat uitkykpunte.

Notre-Dame-des-Neiges is in die hoofstraat van Cilaos.

Cilaos self is ’n skilderagtige dorpie met ’n pragtige kerk, Notre Dame des Neiges, en winkeltjies wat jou toerismehart vinniger laat klop. Die omgewing is bekend vir sy lensies, gebottelde water en borduurwerk.

Geniet plaaslike wyn en rougail saucisseof cari pintade met verfrissende palmetto-slaai onder ’n bougainvillea of slenter rustig deur die strate en verkyk jou aan die helderkleurige Kreoolse argitektuur en graffiti.

Of trek jou stapskoene aan en stap die kort entjie na die uitkykpunt by La Roche Merveilleuse, wat jou ’n fantastiese blik op Piton des Neiges gee. Doen dit egter voor 11:00, voor die mis en wolke klokslag oor die berge gerol kom.

Ontdek die kraters vanuit ’n helikopter.

Hartstog wat vlamvat – letterlik

Een van die aktiefste vulkane ter wêreld is in die ooste. Die eiland en sy inwoners is in ’n eiesoortige ritme vervleg met die wispelturigheid van Piton de la Fournaise.

Uitbarstings wissel in intensiteit en kan maande lank duur. In die laaste jaar het die vulkaan reeds vyf keer uitgebars.

Die vulkaan, wat sowat 530 000 jaar oud is, is een van die min vulkane ter wêreld wat vir toeriste toeganklik is. Wanneer hy nie uitbars nie, kan jy letterlik tot op die rand stap.

Plaine des Sables, oftewel die asvlakte aan die voet van die vulkaan, laat ’n mens werklik na jou asem snak. Dit lyk soos ’n verlate maanlandskap. Beleef dié eindelose vlakte op die rug van ’n perd en verbeel jou jy’s op ’n ander planeet. Daar is ook ’n staphut as jy wil oorslaap om douvoordag die tog na die piek van die vulkaan aan te pak.

Die gehawende slingerrypad dwarsoor die vlakte is die moeite werd. Dit neem jou tot by Pas de Bellecombe en die ingang van die vulkaan-gebied. Die baie steil stappaadjie het meer as 500 “trappe” en strek tot by Formica Leo, oftewel die miernes, ’n klein vulkaniese krater. Van daar af is dit nog sowat drie uur se stap tot by Piton de la Fournaise.

Die vulkaan, asook die kraters is deel van ’n nasionale park en is ’n wêrelderfenisgebied. Daar is nêrens toegangsgeld ter sprake nie.

Formica Leo, oftewel die miernes (op die voorgrond van die foto), is ’n klein vulkaniese krater op pad na Piton de la Fournaise, Reunion se aktiewe vulkaan. Foto: ISTOCK

’n Blywende indruk

’n Medereisiger skryf ’n dag ná ons terugkeer van die eiland: “Die lewe is baie beige ná die reënboogontploffing wat Réunion was.”

Inderdaad. Dit is ’n romanse wat jou altyd sal bybly.

  • Fick was ’n gas van Réunion se toerismeraad en het met Air Austral gevlieg. Besoek en.reunion.fr en www.air-austral.com.
Meer oor:  Frankryk  |  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.