Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Gaan hap aan die Groot Appel
As jy daarvan droom om die wolkekrabbers van New York met jou eie oë te sien, hoef dit nie net ’n droom te bly nie. Met slim beplanning kan ook jý in die strate van die Groot Appel gaan ronddrentel.

Met slim beplanning is ’n besoek aan die Groot Appel nie onmoontlik nie. Foto: iSTOCK

Bekostigbare New York! Wat? Ja, toemaar, dit is drie woorde wat ek self nooit gedink het saam in dieselfde sin sou verskyn nie.

So lank as wat ek kan onthou, was die Groot Appel op my emmerskoplysie. Ek droom al lank van hoe dit moet wees om tussen die wolkekrabbers te loop in die stad wat nooit slaap nie.

So besluit ek toe 2019 is die jaar wat dit gaan gebeur. Ek sit al vyf jaar lank met die visum, maar stel elke keer uit as gevolg van die wisselkoers. Maar toe besef ek, dit gaan nie beter word nie, en die lewe is te kort.

Ek begin toe met alle erns navorsing doen van hoe ek moontlik op die goedkoopste manier dié droom van my kan waar maak.

Dié treffende beeld is naby die World Trade Center-gedenkplek.

Nadat ek my vlugte bespreek het en geweet het hoeveel ek oor het van my begroting, begin ek kyk na verblyf.

Hotelle in Manhattan self is redelik duur vir ons wat in rande moet betaal, maar ek wil graag daar bly en minder tyd op vervoer deurbring.

Ek het al voorheen Airbnb suksesvol in Europa gebruik, en begin toe rondspeel op die webwerf om te kyk wat pas my beursie en voorkeure. Die goeie ding van dié webwerf is dat vorige gebruikers daarvan hul persoonlike menings kan laat sonder dat dit deur die gasheer beïnvloed word.

Met Airbnb is dit belangrik dat jy jou huiswerk voor die tyd behoorlik doen. Jy sal weet ’n plek is die moeite werd as daar heelwat positiewe resensies – wat al ’n paar jaar terug strek – geskryf is deur vorige mense wat daar gebly het.

Maar dis duur in Manhattan, en ek het later na alternatiewe gekyk wat nie heeltemal sentraal geleë is nie, maar wat tog naby ’n metrostasie is. (Ek het die stad se metroroetes glad nie moeilik gevind om te navigeer nie.)

Pragtige muurkuns deur Tristan Eaton in New York se Little Italy. Foto’s : Lizeth du Preez

Ek vind toe iets wat kan werk, in die noorde, die voorstad genaamd Washington Heights – net twee minute se stap van die metrostasie af.

Vir drie aande in ’n woonstel in Washington Heights in die noorde van Manhattan het ek maar R3 600 betaal, en ek was baie in my skik met wat die woonstel gebied het.

Volgende aan die beurt is die besienswaardighede. Ek begin kyk na staptoere in Manhattan en vind een maatskappy wat omtrent al die areas en meer dek wat ek graag wou sien.

Ek trek my kalender nader en begin dit soos ’n legkaart aanmekaarsit. ’n Mens moet in gedagte hou om genoeg tyd tussenin die toere te los om van die een na die ander te kom. Ek stel voor drie uur, want die eiland is groot en ek het ’n hele paar keer verdwaal al het ek ’n kaart én Google Offline Maps byderhand gehad.

Dié toere dek groot moet-sien-dele van Manhattan, en hulle het selfs pragtige nagtoere waar jy halfpad oor die Brooklyn-brug stap en terugkyk na al die liggies van die stad.

Wonderskoon net soos in die flieks, ek kry skoon hoendervel.

Gee jou energievlakke ’n hupstoot met ’n roomkaas-bagel en ’n yskoffie.

Hoeveel keer het ek nie die een of ander toneel of gebou in ’n televisiereeks gesien nie, en nou het ek dit met my eie oë aanskou. Dié oomblikke is elke sent werd.

Die enigste dolk in my hart was die toegangsgeld by al die wêreldbekende galerye en museums – dit is nie soos Washington waar die meeste absoluut gratis is nie. (Dit is ’n baie goeie idee om ’n besoek aan Washington te kombineer met een aan New York, as jy kan.)

Maar in ons wonderlike era van die wêreldwye web kan jy al voor die tyd na virtuele toere gaan kyk en besluit wat in jou smaak val. Baie van die plekke het ook sekere ure in die week of ’n dag in die maand wanneer toegang gratis is.

Maak dus seker jy doen jou beplanning voor die tyd as jy suksesvol jou sente wil omdraai.

Van die ikoniese smeeyster-geboue in die historiese SoHo-distrik.

Moenie die uitstalling van dinosourus-fossiele by die natuurgeskiedenis-museum misloop nie. Hier kan jy jou verkyk aan ’n skelet van die titanosourus, tans die grootste in die wêreld.

Maak ook ’n draai by die St. John-katedraal, die grootste in Noord-Amerika, en volgens oppervlakte ook die grootste in die wêreld.

En dan seker een van die belangrikste aspekte: Wat gaan ons eet nadat ons ure op ons voete was en dood is van die honger?

Jy kan ’n heerlike bagel gevul met roomkaas op straat koop vir sowat $2 (sowat R28). Dit is groot en heel vullend.

Dan is daar ook snye pizza en worsbroodjies oral te koop, en natuurlik al die gewilde kitskosplekke.

Vir drinkgoed moet jy jou voorraad maar gereeld probeer aanvul as jy by ’n supermark soos die 7 Eleven verbystap. Dit is nou wel miskien nie die gesondste opsie nie, maar glo my jy gaan met al die stappery al daardie suiker verbrand.

Eg New York – dié bottel pak ’n mens in jou tas as ’n aandenking aan jou besoek!

Werd om te weet
  • Lugrederye stel hul vlugte so tien maande vooruit bekend, en hoe langer voor die tyd jy begin uitkyk vir spesiale aanbiedinge, hoe beter.
  • Suid-Afrikaners het ’n visum vir die VSA nodig, en maak seker jou sosiale media verwys na niks negatiefs teenoor Amerika nie; deesdae kyk hulle selfs daarna voordat hulle jou aansoek oorweeg.
  • Die SAL vlieg elke dag regstreeks na New York. Die vlug duur so 16 uur – so, jy mors nie te veel tyd nie.
  • Neem beslis reisversekering uit, want as iets daar met jou gebeur, is dit so duur, party mense moes al verbande op hul huise uitneem om die onkoste te dek.
  • Ek het my staptoere bespreek deur https://freetoursbyfoot.com/new-york-tours/#walk. Dit is gratis, maar die gidse se salaris hang van fooitjies af.
  • Hulle werk in myle en Fahrenheit, so maak miskien voor die tyd ’n kort lysie met omskakelings om jou lewe te vergemaklik!
  • ’n Metrokaartjie vir ’n week sal jou ongeveer $34 (R480) kos.

Meer oor:  New York  |  Besoek  |  Reis  |  Wolkekrabbers  |  Groot Appel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.