Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Gaan op dié staproetes gedurende blommetyd

Die Namaqua-Weskusstreek lewer elke jaar van die mooiste blomme, maar jy moet die regte roetes kies om dit te kan aanskou. Tasneem van Rooyen het die beste staproetes in dié streek gaan uitsnuffel.

Hier is van die staproetes waarna jy in dié streek kan uitsien in die blommetyd:

Matzikama-stapklub:

So lyk die uitsigte wat jy gaan aanskou as jy ’n staproete saam met die Matzikama-stapklub aanpak. Foto: Christie Koch

As jy lief is vir uitsigte op bergreekse teen ’n billike fooi wat later aan die gemeenskap of skole geskenk word, is die Matzikama-stapklub vir jou. Christie Koch en Rensche Dalziel van die pragtige dorpie Vanrhynsdorp, het agtergekom die gemeenskap smag na ietsie meer om in aanraking te kom met die natuur. Dié twee bied staproetes vir gesinne én vir diegene wat lus is vir ’n groter uitdaging. Die roetes wissel van twee of meer dae na gelang van jou wense. Vir meer inligting, skakel Christie gerus by 076 957 4005 of stuur e-pos na christiematzihiking@ gmail.com.

Maskam-gasteplaas:

Jy sal pragtige berguitsigte en fraai blomme op die roete kry as jy Maskam Guest Farm besoek tydens blommeseisoen. Foto: Christie Koch

Dié gasteplaas, ook in Vanrhynsdorp, bied opwindende staproetes tydens die blommetyd, wat wissel van 5,6 km tot 7,8 km, met verskeie voëls en steenbokkies wat jy op die roetes sal opmerk. Die omgewing spog ook met 1500 blomspesies wat blomkykers sal bekoor. Maskam-gasteplaas is hard besig om ’n restaurant gereed te kry vir die toeris se gerief tydens blommetyd. Gaan ontmoet blomme met koddige name soos Piet Snotjie! Kontak vir Ancarene van der Westhuizen by 027 219 2589 of 076 119 0242. Stuur gerus ook e-pos na mgf@mylan.co.za vir meer inligting.

Tania Fouché se staproetes:

Foto: Tania Fouché

Tania en haar man woon in die pragtige kusdorp Strandfontein. Dié twee onverskrokke natuurliefhebbers bied drie gewilde roetes wat jy saam met familie of vriende kan geniet, veral as jy die see en natuur liefhet. Hul Kransrant-roete (16 km) strek van Strandfontein na Doringbaai en terug, die Noordkyker-roete (16 km) van Strandfontein na die Olifantsriviermond en terug, en die Olifant-dagstaproete in Strandfontein (slegs 4 km). Al die roetes begin in die Strandfonteinrotstuin waar jy verskeie vetplante en blomspesies kan besigtig. Jy sal ook swartgordelakkedisse, meerkatte, steenbokkies en rooipensskilpaaie op die roetes teekom. Gereed vir opwinding? Bel vir Tania by 072 154 3887 of stuur e-pos na noordkykers@mylan.co.za.

Kusroetes:

Foto: Christie Koch

Staproetes aan die Namaqua-Weskus wat hope oornagverblyf, rotse en rotskuns bied, is perfek vir langer avontuurkuiers. Die Suidelike roete strek oor drie dae en is ideaal as jy die Sandveld wil verken. Die Kreefroete duur ses dae en is die toppunt van avontuur, met sandstrande, fynbos, motorfietsbane en rivierbanke al langs die roete. Vir meer inligting, stuur e-pos na info@crayfishtrail.co.za.

Silent Steps se Shoreline of the San:

Foto: Clare Wise de Wet

Hierdie roete tussen Elandsbaai en Strandfontein fokus op die bewaring van San-geskiedenis. Stappers kry ’n besonderse ervaring, waar hulle oorspronklike San-kuns kan gaan besigtig. As deel van hierdie roete oornag stappers by gasteplase naby die see en smul aan geregte wat eie is aan die Weskus. Kry jou en jou gesin gereed en gaan verken die kus en hierdie gedeelte van die wêreld se interessante geskiedenis! Kontak gerus vir Anette Grobler by 082 903 5445 of besoek haar webtuiste by www.silentsteps.co.za.

Hier is van die staproetes waarna jy in dié streek kan uitsien in die blommetyd:

Matzikama-stapklub: As jy lief is vir uitsigte op bergreekse teen ’n billike fooi wat later aan die gemeenskap of skole geskenk word, is die Matzikama-stapklub vir jou. Christie Koch en Rensche Dalziel van die pragtige dorpie Vanrhynsdorp, het agtergekom die gemeenskap smag na ietsie meer om in aanraking te kom met die natuur. Dié twee bied staproetes vir gesinne én vir diegene wat lus is vir ’n groter uitdaging. Die roetes wissel van twee of meer dae na gelang van jou wense. Vir meer inligting, skakel Christie gerus by 076 957 4005 of stuur e-pos na christiematzihiking@ gmail.com.

Meer oor:  Namaqua-Weskusstreek  |  Namakwaland  |  Reis  |  Blomme  |  Staproetes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.