Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Georgië sal jou ‘inval’ verwelkom

Die piepklein landjie Georgië het ’n atmosfeer wat moeilik is om te beskryf. Daar is ’n prikkelbaarheid aan die plek, ’n blywende gevoel van wetteloosheid, en ’n taai, amper norse houding aan sy mense wat gesamentlik daarvoor sorg dat dié land, iewers tussen Europa en Asië, ’n betowerende plek is om te besoek. 

Kazbeg-berg en die plaaslike klooster sorg vir ’n treffende foto. Foto: Lesley Stones

Georgië is ’n pragtige, vrugbare land bespikkel met oulike dorpies op heuwels, antieke vestings, sneeubedekte berge en geil valleie gevul met okkerneutbome en kronkelende riviere.

Maar sy onsekere ligging tussen Oos-Europa, Rusland en Turkye het ’n duiselingwekkende geskiedenis van invalle geskep en dit het ’n veggees aangewakker toe die Georgiërs hulself moes verdedig teen ’n lang rits veroweraars.

Die Russe was dekades lank in beheer en die kommunistiese regime het gesorg vir swaarkry en buitensporige korrupsie.

In 1991 het Georgië onafhanklikheid verkry, maar die verlies aan Sowjet-finansiering het gelei tot ’n ekonomiese ineenstorting, stygende werkloosheidsyfers en ’n tekort aan basiese dienste.

As jy dink Eskom is ’n ramp, praat met die Georgiërs, wat maande aaneen sonder elektrisiteit moes leef . . .

Die Narikala-fort bo-op ’n heuwel in Tbilisi is ’n besoek werd. Foto: Lesley Stones
’n Mens loop maar versigtig as jy die grotdorpie Vardzia besoek. Foto: Lesley Stones
’n Orkes vermaak toeriste wat Tbilisi besoek. Foto: Lesley Stones
Die St. Trinity Katedraal in Tblisi. Foto: Lesley Stones

Nou het massiewe vooruitgang gesorg vir groot veranderinge en dit is ’n uitstekende tyd om die land te ontdek voordat toerisme dit verander in net nog ’n bestemming.

Die hoofstad, Tbilisi, word deur die Mtkvari-rivier in twee verdeel en omvou deur heuwels wat veroorsaak dat sy paaie soos slange kronkel en draai. Ek het ure lank rondgesnuffel in die nou systraatjies en breë lane, met geboue met imposante fasades aan weerskante (sommige wat reeds grasieus aan die verkrummel is).

Die meeste besienswaardighede is gekonsentreer in ’n maklik bewandelbare area. Begin by die ou stad, waar geheimsinnige koepels uit die grond uitbult – dit is die dakke van badhuise, gebou rondom warm swawelbaddens.

Op someraande is dié strate die speelgrond van sypaadjie-restaurante en mededingende straatmusikante.

Die nuwer deel van die stad is gefokus om Vryheidsplein en Rustavelilaan, met winkelsentrums, die nasionale museum, operahuis en kunsmuseum, asook ’n verbasende vermenging van elegante pre-Russiese argitektuur, brutale Sowjet-blokke en teenstrydige, blink modernisme om jou aan te verkyk.

Die mooiste nuwe toevoeging is die voetgangerbrug, die Vredebrug, ’n golwende glas-en-staalskepping wat in 2010 in gebruik geneem is. Van hier af kan jy op ’n kabelkarretjie klim en na die ruïnes van die Narikala-fort bo-op die heuwel ry, of net die uitsig geniet van die stad wat onder jou oopvou.

Ontdek kloosters en grotdorpe

Die antieke hoofstad Mtskheta is prentjiemooi. Foto: Lesley Stones

Ongeveer 45 minute van Tbilisi af is die antieke hoofstad Mtskheta, wat sedert 1000 v.C. bewoon is. Die inwoners bedryf deesdae meestal stalletjies wat aandenkings verkoop, en daar is ook oulike kafees wat in rye langs die keisteenpaadjies staan.

Vir die meeste mense is die grootste trekpleister die treffende Svetitskhoveli-katedraal wat van 326 n.C. dateer, maar ek was net so beïndruk deur die dorp se meer moderne trekpleister, ’n intens pers wynroomys!

Vir ’n reis waar jy die natuurtonele wat gaan verbyflits net soveel geniet as jou uiteindelike bestemming, neem die “militêre hoofweg” na die Kazbegi-streek, naby die Russiese grens. Dié hoofweg klou aan die kante van die Kaukasus-berge vas met sneeubedekte pieke aan een kant, ’n rivier aan die ander kant, en eindelose haarnaalddraaie wat beslis lewensgevaarlik moet wees wanneer die swaar sneeu begin smelt.

Ná ’n paar uur bereik ’n mens Stepantsminda, ’n klein dorpie met ’n asemrowende uitsig van ’n klooster wat pryk op ’n heuwel in die verte, met sneeu wat glinster op die berge daaragter.

Dit het pragtig gelyk, maar heeltemal te veel van ’n uitdaging om te bereik.

Lesley Stones

Maar ons jong gids, Levan Chalauri, het saam met ons die voetheuwels ingevaar met ’n belofte dat ons terug sal wees betyds vir middagete. Dit was toe uiteindelik ’n verbasend maklike twee uur se stap, maar ek sal beslis nie graag die monnik wil wees wat aangewys word om gereeld die inkopies in die dorp te gaan doen nie . . .

Die antieke Georgiërs was duidelik ’n ratse klomp, want as hulle nie bo-op berge in kloosters gewoon het nie, het hulle in stede gewoon wat totaal uit grotte gebou is. Uplistsikhe is die oudste grotkompleks in die land. Huise, kerke en bymekaarkomplekke is uit die rots gekerf.

Selfs nog interessanter is Vardzia, ’n massiewe, multiverdieping-kompleks van grotte gekerf uit ’n krans – dit is bedoel as ’n wegkruipplek vir ingeval die Turke sou besluit om die area in te val. Nadat ek hier uiters versigtig langs baie nou paadjies van een grot na ’n ander gekruip het, dink ek ek sou eerder my kans met die vyand gewaag het . . .

Vandag is Georgië se hoofvyand Rusland, wat steeds twee betwiste gebiede van die land beset. Maar die nuutste invalle kom eerder van toeriste wat dié fassinerende land met sy ryk en onstuimige geskiedenis, heerlike kos en ’n baie meer bekostigbare ekonomie as die gemiddelde oorsese bestemming, kom ontdek.

Vir een keer in hul geskiedenis is dit ’n inval wat die Georgiërs eintlik verwelkom!

Goed om te weet

Hoe om daar te kom: Ek het met Turkish Airlines via Istanbul gevlieg en van daar ’n vlug gekry na Tbilisi. Suid-Afrikaners het nie ’n visum nodig nie. Busdienste in Tbilisi is verbasend goedkoop en ’n rit sal jou ongeveer R2,50 kos. Taxi’s is ook goedkoop, en ’n gekwansel is normaal. As jy van die lughawe na die middestad kan kom en net 25 lari (R125) betaal, kan jy jouself amper ’n local noem! Vervoer in die res van die land is onbetroubaar, en ek het aangesluit by ’n toergroep (www.explore.co.uk). Living Roots (travellivingroots.com) wat in Tbilisi gesetel is, organiseer ook kulturele toere en daguitstappies.  

Wanneer om te gaan: Die winter, van November tot Maart, is dikwels ysig, terwyl Junie tot Augustus weer bloedig warm kan wees. Die beste maande is Mei en September. 

Die kos: Bekende bestanddele word dikwels op kreatiewe maniere gebruik. Daar is geregte soos ’n slaai van boontjies en blomkool in ’n ryk bruinsous, of okkerneut-pastaballetjies toegedraai in repe eiervrug. Een van die bekendste eetgoed is khinkali, of klein deegpakkies, gevul met vleis en vleissous. 

Meer oor:  Georgië  |  Vakansie  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.