Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Geure en geskiedenis in fraaie platteland

Om vroegsomer in Brittanje te reis, is ’n fees vir die oog en hart. In dié koninkryk is Junie die mooiste, mooiste maand.

Die prentjiemooi Tenby in Pembrokeshire, Wallis, is beslis ’n besoek werd. Foto: Corné Coetzee

Die Hay-letterkundefees, tuine, Henry Moore se beelde. En kuier by die kinders – dis op my lys vir Brittanje.

Maar ek kry veel meer.

Ons eerste uittog uit Cardiff is na die letterkundefees by Hay-on-Wye, net ’n uur en ’n half noord van Cardiff.

Ons is gelukkig om by die Llangasty Retreat House ’n kamer te kry, dis eintlik ’n plek van oordenking. Dis in die Brecon Beacons Nasionale Park en van die terras voor die eetkamer sien ons die Llangorse-meer, en aan die oorkant die Black Mountains. Voor die meer wei koeie op die onmoontlik groen gras.

’n Binnetuintjie in die Helmsley-tuin, opgedra aan ’n geliefde. Foto: Corné Coetzee

Ek is amper jammer om elke dag vroegoggend weg te ry en eers donkeraand terug te kom.

Maar dis vir die fees wat ons gekom het en ons ry elke dag die 12 myl na Hay, al met die plattelandse lane langs. Hulle is meestal nie heeltemal breed genoeg vir twee motors nie, maar almal ry oplettend en bedagsaam. Die een wat naaste aan ’n lay-by – ’n uitham – is, trek daar af en gee toe. Niemand skel of toet nie, wys met ’n handgebaar “thanks”. Wat ’n plesier.

En hoe lieflik is hierdie kronkelende lane tussen die heinings nie. Plek-plek is dit nie heining nie, maar ’n laning bome wat bo toemaak. Die son maak helder spatsels geel op die pad.

Ons stap elke dag styf langs die struikheinings na die feesterrein.

Dit ruik soos vroegsomer: vars, groen, plek-plek soet van meidoring, vlierboom, hondroos en soetkastaiing in die blom.

Terug in Cardiff kuier ons eers ’n paar dae lank, veral in die lang skemeraande. Ons stap oral waar ons wil wees en ek verkyk my aan die klein, mooie tuintjies voor die skakelhuise.

Oral is rose. Dit word vir my die geur van vroegsomer in Brittanje.

Skape verfraai verder die prentjie wanneer ’n mens die Henry Moore-beeld in Yorkshire besoek. Foto: Corné Coetzee
’n Waterverfgeesdriftige in die Helmsley-tuin. Foto: Corné Coetzee

Tyd vir tuinplesier

Dan vat ons pad Engeland toe, noordoos met die snelweg, na Yorkshire. Buite die stede begin die heinings weer. Baie van hulle is laer hier, en ’n mens kan ver sien: nou in die vroegsomer, lappe smarag- en appel- en jongkoringgroen.

Ons hotel is presies wat ons soek: plek min, maar bed gerieflik, badkamer skoon, ketel, tee en koffie op die gewone effens ongerieflike plek.

Die volgende oggend, op pad na die Helmsley- ommuurde tuin naby York, ry ons deur die prentjiefraaie Engelse platteland wat ’n mens ken van flieks en TV. Soms kom ’n mens om ’n draai en word verras deur ’n hamlet, kompleet met ou kliphuise langs die hoofstraat, hier en daar een met ’n bordjie: “£1 eggs”.

Die Helmsley-tuin is twee hektaar groot en het eers groente, vrugte en blomme verskaf vir die “groot huis”, Duncombe Park. Dis deesdae oop vir die publiek. Die wins van die tuin finansier die tuinbouterapie-diens vir mense met gestremdhede of wat aan depressie ly.

Verskillende “kamers” is geskep met binne-heinings van espalier- of leiboom-appels – 52 soorte – en priële. Die irisse se blomtyd is nou verby, maar die regop vingerhoedjies, oordadige pioene en die rose, vol in die blom, is nou verstommend.

’n Spesiale binne-tuintjie ontroer. Rose en kanferfoelie rank teen ’n draadheining op, daar is ’n bank om op te sit en ’n fonteintjie met ’n smal watervoor. Op ’n bordjie: “In ever loving memory Linda Weyer 1951 – 2006”.

’n Bont toeristedorpie by die eeue oue vyfpoort-hek, Tenby. Foto: Corné Coetzee
Vrolike vlaggies by die Hay-fees. Foto: Corné Coetzee

Terug in York, deels funksionerende stad, deels studentestad en deels toeristeaantreklikheid, stap ons oor ’n verkeerslig en deur die Middeleeuse Micklegate Bar – stadspoort – na die ou stad. Oral kry ’n mens hierdie stokoue en nuwe langs mekaar.

Ons systap die Ghost Tour, die Wizard Quest en die sjokoladetoer en gaan na die katedraal, York Minster. Een van die stories wat die gids vertel, is oor die 15de eeuse brandglasvenster, verdiepings hoog en onlangs teen £20 miljoen gerestoureer. Die oorspronklike betaling aan die glasmeester was £56. Ons gids gee vir ons ’n neutedop-variasie van ’n deel van die geskiedenis: Toe kerke in die middel 1650’s gedurende die Engelse burgeroorloë gevandaliseer is, het ’n generaal van Cromwell se parlementêre magte in Yorkshire uitgevaardig: “Die man wat glasvensters in die York Minster breek, sal hang!” Dankie, generaal.

Daardie aand gaan koop ons vis en tjips en mushy peas om op die ou stadsmuur te gaan eet. Die eienaar van die winkel begin met ons gesels terwyl ons wag, en vertel hy kom van Turkye en is ’n Koerd. Ons sê vir hom ons lees graag Orhan Pamuk, die Turkse Nobelspryswenner, en hy beweer dat Orhan sy goeie vriend is. Hyself was ’n joernalis en ’n digter, sê hy, maar was lank in die tronk oor politieke aktivisme. “Hoe lank was julle Nelson Mandela in die tronk? 27 jaar? Ek, 17 jaar. Toe hulle my uitlaat, kom ek hiernatoe en begin hierdie winkel. Dis nou 20 jaar en hier is ek nog.”

Detail van die kunsinstallasie Beyond Time in die Yorkshire-beeldepark. Foto: Corné Coetzee
Die Middeleeuse brandglasvenster in York Minster. Foto: Corné Coetzee

Beeldskone Wallis

Die volgende dag ry ons na die uitgestrekte Yorkshire-beeldepark. Ons wil veral Henry Moore se groot bronsbeelde sien. En net soos in die foto’s is dit inderdaad reusagtig, indrukwekkend en wonderlik. Ons sien selfs ’n paar skape tussen die beelde dwaal.

’n Skoolseun drentel op die Middeleeuse stadsmuur van York. Foto: Corné Coetzee
Op pad na Helmsley is dié oulike padteken. Foto: Corné Coetzee

Maar dis die installasie in die 18de eeuse kapel wat my asem wegslaan. Die Japanse kunstenares Chiharu Shiota se Be­yond Time lyk soos verskeie reusagtige spinnerakke binne-in mekaar. Dit is van 2 000 balle wit gare- of woldraad gemaak en tussen die lae dryf velle bladmusiek. Voor ’n venster staan ’n lewensgrootte klavier van draad gemaak. Dis asof sy die musiek en stemme, lofsang en gebede wat deur meer as 200 jaar in die kapel gehoor is, tyd self, in ’n web vasvang.

’n Week later ry ons weer, saam met die kinders, na die mooie Pembrokeshire in die suidweste van Wallis. Walliesers is baie erg oor die mooi sandstrande hier – die meeste Britse strande het spoelklippe.

Toevallig noem ons waarheen ons gaan aan ons buurvrou.

“Dan móét julle na Laugharne gaan!” (Uitspraak: laahn.) “Dis waar Dylan Thomas gewoon en geskryf het! Leen my CD van Under Milk Wood!” en, immer Brits en bedaard, “As julle wil, natuurlik.”

Ons wil, en ons luister die aand voor ons ry na Thomas se eie diep, sangerige stem wat lees oor die drome, soet en suur van die kleindorpse inwoners: “Oh, isn’t life a terrible thing, thank God?” Toe ons by Laugharne aankom, is dit byna ’n teleurstelling om ’n heel gewone, moderne dorpie te sien, met oral toeristerige verwysings na sy beroemde inwoner.

Ons stap nietemin letterlik in die voetspore van Dylan Thomas se Birthday Walk, ’n mooi wandelpaadjie langs die see, gaan kyk na sy werkplek – ’n motorhuis wat sy studeerkamer geword het – en ’n ent verder, sy huis langs die mudflats van die seearm (estuary). Pleks van sy huis te gaan bekyk, bestee ons liewer die geld aan tee en bara brith, ’n broderige soort vrugtekoek.

Papawers voor ’n muur waarteen ’n appelboom groei in Helmsley. Foto: Corné Coetzee

Ons slaap oor in Tenby ’n entjie verder noord aan die Pembrokeshire-kus. Dis ’n vakansiedorpie, toeriste- en aftreedorp met ’n lieflike strand. Die Five Arches Gate is tipies: Langs die massiewe struktuur wat van die 13de tot die 16de eeu gebou, hoër en breër gemaak is, hang klaterbont strandhoede en blink ballonne.

In ons hotel se ontbytkamer voel ons soos ’n karikatuur van Britte-op-bekostigbare-vakansie: die gaste sit styf en strak teen mekaar ingeprop, ignoreer hul bure en wag om bedien te word deur die bestuurder-kelner-kombuisassistent. Selfs “please pass the butter” word gefluister.

Die hartseer laaste dag gaan kyk ons na die Dyffryn-tuine. Dit behoort aan die National Trust, wat geld gee vir die onderhoud, maar waar vrywilligers ook kom help. In my volgende lewe . . .

Lank stap ons in die boogtuin met sy rankrose en oordaad van vroegsomer-fyntuin, die roostuin, die wingerdprieel, die tuin van esdorings met hul fyn blare. Onder ’n manjifieke akkerboom – maklik 200 jaar oud – hou ons ’n beskeie piekniek. Agter ons girts-girts iets soos ’n klein besempie. Dis ’n swartlystertjie wat rustig blare rondvee, op soek na wurms – asof daar al die tyd in die wêreld is.

En ek dink die beste van alles was om tyd hier te hê. Wat ek huis toe neem, is die lang skemeraande, die heininglane, die rose en die geskiedenis, tasbaar net waar jy gaan.

Goed om te weet
  • Kruideniersware se pryse is ’n bietjie duurder as in Suid-Afrika, en dit hang af waar jy koop. Tesco is billik, Waitrose is deftig. Op die Special Offers-rakke word vars produkte soos gaar vleis, klaargemaakte slaai en toebroodjies naby hul vervaldatums met 50% of meer afgemerk. 
  • Uiteet: Vir middagete met iets te drink daarby het ons gemiddeld R480 vir vier mense betaal.
  • In hotelle het ons gemiddeld R1 000 per nag vir twee betaal.
  • Toegangsgeld vir museums en National Trust-eiendomme is ongeveer R170 per persoon, maar baie plekke is gratis.
  • Die huurmotor, saam met die verpligte versekering, het R3 800 vir ’n week gekos.
  • Om Brittanje te besoek, het Suid-Afrikaners ’n visum nodig, wat tans om en by R1 600 per persoon vir ’n sesmaande-visum kos.

Meer oor:  Brittanje  |  Reis  |  Vakansie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.