Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Glampeer tussen die grootvoete

Aan die voet van die Lebombobergreeks en op die oewer van die Pongolapoortdam wag ’n eiesoortige, kommervrye kampervaring op jou. AfriCamps by White Elephant Safaris naby Pongola, KwaZulu-Natal, is ’n bestemming wat vir ieder en elk natuurskoon én luuksheid verseker.Die Pongola-wildreservaat is die oudste private reservaat in Afrika en die tweede oudste in die wêreld.
’n Olifantkalf kruip onder sy ma se slurp weg tydens ’n olifant-projek-safari.

Verbeel jou: ’n Olifantkoei kom uit die bosse gestap. Sy is so naby jy kan die gerommel en grom van die matriarg se boepmaag hoor. Sy trompetter en waai haarself koud met haar ore.

Dan maak die res van die trop hul verskyning: nog koeie, ’n reuse-bul en twee jong bulle wat mekaar soos halsstarrige tieners met hul slurpe slaan.

’n Swetterjoel kalfies volg – die kleinste een kan nie meer as twee weke oud wees nie.

Dié knapie is baie opgewonde en hardloop met klein treetjies na die water van die Pongolapoortdam (Jozini-dam in die volksmond).

’n Asemrowende skemer by die Pongolapoortdam, met Eswatini se grens in die verte. Foto: Hanri Wondergem

Hy pootjie oor sy eie slurpie en ploeg in die modder neer. Jy hoor hoe die water spat. Dan rol die kleinding in die modder, terwyl die res van die trop hul skurwe velle met modder smeer.

Jy sien dit alles uit ’n ander oogpunt – jy is nie in ’n wildbesigtigingsvoertuig om die trop uit die verte te aanskou nie; jy is op ’n boot, by die einste dam waarin die grootvoete tans hul modderbad vat.

Dié ervaring is slegs moontlik omdat White Elephant Safaris die enigste lodge in die land is wat dié tipe bootsafari’s bied. Gewoonlik moet jy na die Karibameer in Zimbabwe of Chobe of Moremi se kant toe mik as jy iets soortgelyk wil beleef.

Dis juis op dié wildreservaat wat AfriCamps 12 van sy luuksetente staangemaak het.

Die vooraansig van die dek en die kombuis en leefarea, knetterende kaggel en al.

Bosreuse van naby

AfriCamps se gaste by White Elephant Safaris kan teen ’n sakpasprys ’n riviersafari geniet.

Die boot vertrek vroegoggend of laatmiddag en vaar al langs die dam sodat gaste luilekker vanaf die boot se dek kan wild kyk.

Begroot egter ’n bietjie ekstra, en bespreek vir jou plek op die olifant-projek-safari, ’n voldag-ervaring wat jou dieper insig tot die bewaring van die bosreuse gee.

’n Rit op die Pongolapoortdam is ook hierby insluit.

Saam met jou op die boot is Sipho “Hotstix” Mtshali, die veldgids en sommer ook die skipper. Mtshali het ’n valkoog, hy sien reeds van ver diere op die dam se oewers raak.

Suzette Boshoff, wildmonitor by die Pongola-wildreservaat, en Sipho “Hotstix” Mtshali, veldgids en skipper by White Elephant Safaris, staan by die olifantbul Douw se skedel.Foto: Hanri Wondergem

Neffens hom vertel Suzette Boshoff, Pongola-wildreservaat se wildmonitor, jou al die skinder van die reservaat se grootvoete – wie elke olifant is, waar hulle vandaan kom en selfs wanneer hulle gebore is.

“Daai is Antares,” sê sy terwyl sy deur haar verkyker seker maak sy sien reg.

“Antares is die matriarg van die trop.

“Sy is in 1963 gebore en sy was een van die olifante wat in 1997 hier hervestig is vanaf die Krugerwildtuin.”

Boshoff is ’n onuitputbare bron van kennis oor die reservaat en sy inwoners, maar jy kom agter die olifante is haar eintlike passie.

Ná die safari klim jy op ’n wildbesigtigingsvoertuig vir ’n wildrit op pad na White Elephant Safaris se navorsingskamp.

By dié kamp is daar ’n inligtingsentrum waar jy meer leer oor die olifante en renosters.

Hier is Boshoff in haar element. Sy ken elke detail oor die olifante se lewens, hul vrektes en bedreigings.

Die treinspoor wat deur die reservaat loop, is die rede vir baie sterftes onder die olifante. Elke lewensverlies raak die personeel diep.

Daar is ook stropers wat hulle bedreig.

“Daai een was Klunker,” en sy wys na ’n foto van ’n olifant wie se voet in ’n vragmotorband se velling vasgesit het.

“Wanneer hy geloop het, het dit so klunk-klunk-klunk gemaak.”

Sy vertel van die vasektomie-projek onder die bulle om die olifantbevolking onder beheer te bring.

Dan begin die prettige deel: Jy kan aan die kakebeen van ’n olifantskedel vat, probeer om die meter lange femur van een op te tel, binne-in ’n olifant se navorsingshalsband klim en ’n foto neem langs die kolossale skedel van Douw, een van die reservaat se legendariese ontslape bosreuse.

“Ons fokus hier op opleiding, onderrig, bewusmaking en bewaring,” sê Boshoff.

’n Buitelugbad wat met ’n houtvuur warm gemaak word, ’n dek wat oor die veld uitkyk en luukse slaapgeriewe . . . alles en meer wat jy van ’n boetiek-kampervaring kan verwag.

Boetiek-kampering

Ná ’n lang dag in Noord-Natal se tropiese hitte wil jy in gemak uitspan.

As ’n lekkende opblaasmatras, gedeelde ablusiegeriewe, ’n tent wat nie waterdig is nie en leef uit ’n rugsak nie vir jou gemaklik klink nie, is AfriCamps by White Elephant Safaris ’n vakansiebestemming wat jy ernstig moet oorweeg.

Dis ’n ervaring wat die lekkerste dele van kampering – om afgesonder tyd in die ongerepte natuur deur te bring – met gemaklike verblyf, ’n leerskool oor natuurbewaring en onvergeetlike avontuur laat saamvloei.

Boonop is die selfsorg-tente gesinsvriendelik met lêplek vir vyf mense in twee kamers op twee koningingrootte kooie en ’n enkelstapelbed.

Die tent het houtvloere, maar jy word steeds aan die slaap gesus met natuurgeluide wat jy deur die tent se seile kan hoor. Die wind loei buite, maar raak jou nie.

Die kriekekoor is hoorbaar, maar darem nie tasbaar nie.

Jy hoor jakkalse huil, seekoeie snork en die olifante trompetter, maar jy voel veilig in jou luukse tentnessie.

As dit reën of dou, bly jy heerlik droog en snoesig.

Boonop is daar ’n elektriese kombers vir die koue wintersnagte en kraakvars beddegoed en lugverkoeling om jou ná ’n snikhete dag af te koel.

Albei kamers het toegang tot die badkamer, wat bestaan uit ’n stort, toilet en wasbak. Die badkamer is luuks, maar sonder enige oordadige fieterjasies – verwag sinkplate en koperkrane.

Daar is ook ’n klerekas in elke kamer sodat jy nie uit jou koffer hoef te leef nie en meer as genoeg muurproppe om jou elektroniese toestelle (wat jy sal wil gryp vir foto’s) gelaai te hou.

Van nat handdoeke in jou kleresak is daar ook nie sprake nie – bad- en gesighanddoeke word verskaf.

Besoekers met babas kan selfs ’n bababed en babastoeltjie versoek.

Kuiertyd en knetterende vure

Die pragtige Pongolapoortdam lê aan die voet van die Lebomboberge. Foto: Hanri Wondergem

Wat is vakansie dan nou sonder braai?

Die reuse-houtdek voor jou tent het ’n ingeboude braaiplek en daar is bondels hardekoolhout te koop by die lodge se ontvangs om te verseker jy kry die volle braai-in-die-veld-ervaring.

Die dek het twee gemaklike stoele en ’n piekniektafel waarby die hele gesin kan aansit om in die buitelug te eet.

In elke tent is daar ook ’n kuierarea wat bestaan uit ’n oopplankombuis, sit- en eetkamer.

’n Kaggel knetter in dié vertrek terwyl die ten volle toegeruste kombuis ingespan word om kos voor te berei wat ook by die soliede hout-eetkamertafel bedien kan word.

Die kombuis het ’n gasstoof, ’n yskas, mikrogolfoond, ketel (wat fluit), broodrooster, potte, panne en alle eetgerei wat jy moontlik kan nodig kry.

Maar terug na die houtdek . . .Hier kan jy nagte omsit, terwyl jy die hemelruim deursoek vir verskietende sterre. Span bedags jou verkyker in om voëls te kyk of te sien hoe die Pongolapoortdam lééf. Dis immers hier waar die seekoeie, krokodille en tiervisse in die water plons.

Op warm dae kan die hele voorkant van die tent opgerol word sodat dié wat in die kombuis werskaf, steeds die prag van die natuur en die briesie kan geniet.

’n Bonus is die buitelug-vaatjiebad, koel lafenis in die somer.

As dit egter koeler word, is daar ’n donkie wat jy kan stook wat die bad verhit. Hier kan jy dan salig week met die natuurlewe wat om jou sy gang gaan.

  • Wondergem was ’n gas van AfriCamps by White Elefant Safaris.
Die Pongola- wildreservaat

In 1894 het die president van die Republiek van Transvaal, Paul Kruger, dié gebied as bewaringsgebied geproklameer.

Die bewaringsgebied is later in twee gedeel – die natuurreservaat (wat in staatsbesit is) en die wildreservaat (wat in private besit is en waar White Elephant Safaris geleë is).

White Elephant Safaris word deur dr. Heinz Kohrs, ’n veearts, besit.

Kohrs het ’n sleutelrol gespeel om weer diere soos olifante en renosters in die reservaat te hervestig.

Die reservaat spog met ander natuurlewe soos 12 verskillende bokspesies, kameelperde, krokodille, seekoeie, vlakvarke en meer as 350 voëlspesies.

Dit is slegs 450 km se ry vanaf Johannesburg en 350 km vanaf Durban, die ideale bestemming vir ’n langnaweek-wegbreek.

Ek wil ook gaan
Africamps het tans ’n middel-van-die-week-wegbreek-aanbod, wat tot einde September duur.
Dit kos R1 340 per nag vir twee volwassenes wat deel. Ekstra volwassenes (ná die twee eerste gaste) betaal R275 per persoon per nag. Kinders (tussen drie en 16 jaar oud) betaal R175 per nag en kinders onder drie bly gratis.
Bepalings en voorwaardes geld en die tariewe geld nie vir langnaweke en skoolvakansies nie.
Oor naweke kos dit R1 840 per nag vir twee volwassenes wat deel. (Tariewe word opwaarts aangepas in seisoentyd.)
Daar is tans ’n spesiale aanbod van R3 290 vir twee volwassenes vir drie nagte.
Die eenhede is selfsorg, maar jy kan ’n ontbyt- en braaimandjie bestel. Die ontbytmandjie bevat brood, botter, kaas, konfyt, spek, eiers, wors, vrugteslaai, jogurt, muesli, graankos, koffie, vrugtesap en muffins. Dit was ’n vrag kos en ons het sommer twee dae lank daaraan geëet. R130 per kop vir volwassenes en R90 vir kinders.
Die braaimandjie het knoffelbrood, steak, wors, mengelslaai, beetslaai en malvalekkers bevat teen R195 per kop vir volwassenes en R125 per kop vir kinders.


Aktiwiteite en pryse

Aktiwiteite is gratis vir kinders jonger as drie. Vanaf die ouderdom van 13 jaar geld tariewe vir volwassenes.

Olifantprojek-safari (bootrit, wildrit en besoek aan die navorsingskamp): Volwassenes R950 per kop/kinders R475 per kop.
Olifantsafari (’n Bootrit op die Pongolapoortdam, waar jy vir olifante op die oewer kyk.) Volwassenes R660 per kop en kinders R330 per kop.
Rivier-safari per boot : Volwassenes R440 per kop, kinders R220 per kop.
Wildrit: Volwassenes R440 per kop, kinders R220 per kop.
Begeleide stapsafari: R440 per persoon. Geen kinders onder 16 toegelaat nie.
Let wel, dis ’n private reservaat en geen wildritte in jou eie voertuig word toegelaat nie.
Meer oor:  Leef  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.