Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Glimlag agter ’n sluier

In Djedda staan ‘n multiverdiepinggebou wat lyk of dit in masjrabijas geklee is. Foto’s: Ilse Zietsman
“Masjrabijas” is ’n argitektoniese masker van waaragter Moslem-vroue die buitewêreld kon beskou, skryf Ilse Zietsman.

Ek het al ophou tel hoeveel keer ’n week ek aan ’n frase van die lirieke in Pink Floyd se liedjie “Wish You Were Here” dink. Dit lui onder meer: “So, so you think you can tell . . . A smile from a veil? Do you think you can tell?”

Oral waar ons gaan, moet ons deesdae met ons oë agter “sluiers” glimlag, want ons mond is agter ’n masker versteek. Jou oë moet jou glimlag verklap — by die kafeekassier as jy melk en die koerant koop, in die strate in jou woonbuurt as jy soggens tussen ses en nege gaan stap en by die supermark as die huisvoorraad vars groente en vrugte aangevul word.

Dis alombekend dat vroue in veral die Midde-Ooste en sekere dele van Noord-Afrika ’n sluier of hidjabdra. Wat minder bekend is, is dat “argitektoniese sluiers” bekend as masjrabijas of haremvensters reeds sedert die Middeleeue in hierdie dele van die wêreld voorkom.

Dié haremvensters lyk soos ’n tipe houtbalkon met filigraan-sneewerk. Die filigraan verskil van streek tot streek. Die houtfiligraan het honderde of duisende gaatjies; soms is loodglas gebruik om die gaatjies van die balkonfasade te versier.

Van agter die houtskerms kon ingeperkte Moslem-vroue — in koelte en skadu — die alledaagse lewe beskou sonder dat hulle gesien kon word. In werklikheid ’n argitektoniese “sluier”.

Juis hierom sit die masjrabijas aan die straatkant van geboue, van die tweede verdieping boontoe. Dit word soms ook in binnehowe aangetref. Sommige het wel vensters gehad wat kon oopskuif.

Masjrabijas was tot die middel-1900’s nog algemeen in die Midde-Ooste en Noord-Afrika in gebruik. Presies wanneer die eerste haremvenster gemaak is, is onduidelik. Daar was vermoedelik reeds in die 12de eeu haremvensters in Bagdad, Irak, te sien.

Die woord is ontleen aan ’n ou Arabiese woord wat “plek waar jy drink” beteken. Die houtbalkonne is so genoem omdat dit ook die plek is waar drinkwater koel gehou is. In Marokko word die haremvensters ook moutsjarabieh genoem.

Voordat die geskiedkundige waarde van masjrabijasin ag geneem en terwyl die argitektoniese skoonheid daarvan nog onderskat is, is baie van die vensters in die Midde-Ooste verwyder.

’n Nader blik van ’n masjrabija in Sidi Bou Said, Tunisië. Die vensters kan oopmaak om lug deur te laat.

Verkyk jou aan haremvensters in Djedda

In die vroeë 2000’s in die Ou Dorp van Djedda, Saoedi-Arabië, is van die mees gedetailleerde haremvensters afgebreek en nuwes is gebou wat soos die oues lyk. Dit was hartverskeurend om te aanskou.

Gelukkig is ’n bewaringsprojek in Bagdad in die lewe geroep om haremvensters van honderde jare oud sowel as meer onlangse houtbalkonne, wat in die 1920’s en 1930’s deur die art nouveau- en art deco-beweging geïnspireer is, te red.

Die Ou Dorp van Djedda beslaan omtrent 1 km2. Die mure wat dit eens omring het, bestaan nie meer nie. Drie van die stadspoorte is oorgebou, maar by die noordhek staan nog ’n paar geboue wat as uitstekende voorbeelde van tradisionele Arabiese argitektuur dien.

Sou jy die geleentheid kry om Ou Djedda te besoek, wees op die uitkyk vir Sjarbatly-huis; Bait Albalad, ofte wel die munisipale museum; en Naseef-huis. Tot die 1920’s was die groot boom links van die Naseef-voordeur die enigste in Djedda!

Die villa van Rodolphe d’Erlanger in Sidi Bou Said, Tunisië, met sy talle “haremvensters”.

’n Houtbalkontoer in Tunisië

Van die mooiste masjrabijas is in Tunisië te sien. Tradisioneel word Tunisië se deure, hortjies, vensters en houtbalkonne in skakerings van turkoois en ligblou geverf. Dit steek mooi teen die spierwit geboutjies af; pers, pienk en oranje bougainvilleas voltooi die prentjie.

Sidi Bou Said, ’n heuweldorpie in Tunisië, spog met haremvensters by amper elke huis. Sommige is volgens die grootte eerder ’n venster as ’n balkon.

Van die voormalige villa van baron Rodolphe d’Erlanger (1872-1932) kyk die haremvensters oor die strand van Sidi Bou Said en die turkoois see uit.

D’Erlanger het hom in 1912 in Sidi Bou Said gevestig nadat hy op die dorpie verlief geraak het. Sommige sê dis dié baron wat die dekreet laat uitvaardig het dat al die houtwerk in dieselfde skakering van blou geverf word. D’Erlanger se villa is ná sy dood in ’n museum omgeskep wat ook die Sentrum vir Arabiese en Mediterreense Musiek huisves.

Sidi Bou Said se masjrabijas is so fotogenies dat dit op amper elke brosjure en in elke reisartikel oor hierdie Mediterreense dorpie verskyn. Ook in die Ou Dorp van Tunis, die hoofstad, en in die hawestad Bizerte loop jy blou houtbalkonne raak.

’n Poskaartfoto van haremvensters in Janboe, Saoedi-Arabië.

’n Moorse mirador in Granada

Die Alhambra-paleis in Granada, in die suide van Spanje, is ’n Moorse paleis en fort wat tussen die vroeë 1200’s en middel 1300’s opgerig is. Andalusië (Suid-Spanje) is destyds deur Moorse konings of sultans regeer.

Die paleis se hoofharemvenster heet die Mirador de Daraxa. Mirador beteken masjrabija en die res “oë van die sultane (sultansvrou)”, wat daarop dui dat sy die buitewêreld van daar betrag het. Dié mirador is ’n volwaardige vertrek wat ’n deel van die harem beslaan.

Ongeag die vervalle geboue in Djedda behou die masjrabijashul bekoring.

Moderne masjrabija-argitektuur

In Kaïro het sommige van die hotelle die styl van die ou houtbalkonne by hul ontwerp ingevoeg.

In Dubai het argitekte die filigraanpatrone herskep om aan wolkekrabbers ’n ongewone voorkoms te verleen.

Oud of modern, masjrabijasverleen aan hierdie soort inperking ’n element van misterie.

Meer oor:  Masjrabijas  |  Vensters  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.