Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Goudkoorskuier in die Limpopo
Die huis waar pres. Paul Kruger tuisgegaan het wanneer hy leeus in die Leydsdorp-omgewing kom jag het.

Met inperkingsregulasies wat besig is om te verslap, mag sommiges oor provinsiale grense reis. Hopelik kan toeriste ook binnekort op die spore van goudsoekers – en soldate – in Limpopo terugloop, skryf Sam J. Basch.

Tog vreemd – die mensdom se eeue oue fassinasie met goud. Goudsoekers is aangevuur deur goudkoors: vinnige rykdom, nes die mitiese koning Midas. Hierdie avonturiers se spore vind jy oral in Suid-Afrika.

Sowat 20 km duskant Polokwane, vroeër Pietersburg, staan ’n padbord op die R101-roete: Eersteling Monument. Draai gerus daar af, want vyf kilometer hiervandaan was die eerste goudmyn in die Transvaal.

Die goudprospekteerder Edward Button het die plaas in 1871 van Jacobus du Preez gekoop, vir ’n spotgoedkoop £50. Op grond van sy goudertsmonsters het die Volksraad van die bankrot Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) die Marabastad-goudvelde ge­proklameer. Button en ’n vennoot kon toe beleggingsfinansiering van £50 000 in Engeland bekom om die Transvaal Gold Mining Company Limited op te rig – Suid-Afrika se eerste goudmynmaatskappy.

Die Eersteling-monument wys jou waar Suid-Afrika se eerste goudmyn in die Transvaal was. Foto’s: Sam J. Basch

’n Skildery deur die befaamde reisiger en kunstenaar Thomas Baines wys hoe die gouderts aanvanklik gemaal is. Twee werkers ry skoppelmaai op ’n lang paal wat bo-op ’n groot rots vasgebout is. Sodoende is kleiner stukkies erts wat deurentyd met die hand onder die rots ingedruk is, fyngemaal. Dit was tydrowend en gevaarlik.

Button het toe ’n stoomaangedrewe stampmeul uit Brittanje ingevoer, waarvoor hy ’n hoë skoorsteen moes bou – van Skotse klip. Hoewel die myn teen 1875 reeds meer as 10 000 onse goud gelewer het, sou Button uiteindelik weens politieke onrus en hoë produksiekoste die handdoek ingooi.

Baines se Eersteling-skildery is in Port Elizabeth se openbare biblioteek te sien. Die Eersteling-myn is in 1938 as ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar.

Van hier af moet jy na Haenertsburg naby Tzaneen ry. Dié is vernoem na Carl Ferdinand Haenert, ’n Duitse grootwildjagter wat mettertyd goud gesoek en klein hoeveelhede in die Wolkberg-omgewing gekry het.

Hier is ’n goeie oornagplek. Linda Changuion se Pennefather Gold Mining Company (015 276 4885) in Rissikstraat skep die indruk van ’n myndorpie in die 1880’s. Die ry sinkgeboutjies lyk soos outydse handelshuise; vol boeke, antieke meubels, klere, gedenkwaardighede en eetgoed, wat jy saam met ’n koppie koffie of glasie wyn op die stoep kan geniet.

Langsaan is ses goed ingerigte selfsorg­huisies, elk met ’n kaggel, met name soos Karl Mauch, Long Tom, Doel Zeederberg (wie se koetsdiens hier aangedoen het) en Rider Haggard (skrywer van King Solomon’s­ Mines).

Oos van Haenertsburg lê die Murchison-bergreeks, waar Leydsdorp in die laat 1880’s aangelê is. Die einste Edward Button van Eersteling-faam het die bergreeks na die beroemde Skotse geoloog sir Roderick Murchison vernoem. Hy was in sy loopbaan so hoog aangeskryf dat selfs ’n krater op die maan sy Murchison-naam dra.

’n Verlore dorp

Leydsdorp daarenteen is na die destydse ZAR se staatsekretaris dr. W.J. Leyds vernoem. Vir die hedendaagse reisiger raak dinge nou interessant. As jy van die R71-pad afdraai op ’n grondpad na Leydsdorp, gaan jou GPS-navigasietoestel ná etlike kilometer die netjiese blokplanuitleg van ’n dorp vertoon. Maar daar is geen dorp te sien nie. Volgens die GPS moet jy kan afdraai in Ashton-, Steel-, Biccard- of Dewitt­hammerstraat – maar dis net ruie bosveld, sonder enige strate. Daar is ook Boom-, Olifant- en Kerkstraat; waarvan jy nie een kan sien nie. Ooglopend is die dorp daarmee heen toe die goud verdwyn het.

Langmarktstraat neem jou wel in die rigting van enkele geboue, verby ’n naambord, Leydsdorp Boerevereniging, skuins oorkant die hotel op die hoek van Selati­straat. Tydens die goue jare was die dorp deel van die Selati Goldfields, vernoem na die plaaslike Tebula-stam se kaptein, ’n vrou met die naam Shalati.

Vier jaar gelede het Kobus Smuts, ’n ondernemende boer van die omgewing, besluit om vir toeriste Leydsdorp se eertydse glorie te wys deur die hotel te herskep. Daar is nou 11 en suite-kamers in periodestyl versier. Besoekers kan vir aandete aansit in die elegante eetkamer met ’n gepoleerde Oregonvloer en oorspronklike gedrukte staalplafon – en die aand afsluit met ’n konjak in die gedempte lig van die biljartkamer met sy ouwêreldse lampe.

By Leydsdorp het verskeie inwoners hul rusplek gevind ná malaria of onderlinge vetes.

In die 1890’s het duisende goudsoekers van oral in die Murchison-berge hier in Leydsdorp se vele kroeë hul dors kom les – en die ander plesiertjies van ’n gouddorp geniet. Malaria en onderlinge bakleiery het vir baie ’n laaste rusplek in die begraafplaas besorg.

Van kroeë gepraat; buite die dorp, op pad na Gravelotte, is ’n reuse-kremetartboom waarin ’n drinkplek vir ’n “dosyn dorstige goudsoekers” glo ingebou is. Dis hoe David Hilton-Barber dit in sy boek oor die Laeveld beskryf – dalk ’n oordrywing, soos baie goudstories, of dalk nie!

President Paul Kruger het leeus in hierdie streek kom jag. Dan het hy in ’n groterige huis, tot onlangs die Leydsdorp Lodge, tuisgegaan. Omdat hy die ZAR se staatsdokumente slegs in ’n stad kon onderteken, het hy Leydsdorp in 1890 glo as “stad” verklaar. Vir die president was die ontdekking van goud egter problematies. Leo Weinthal, redakteur van die Pretoria Press, het Kruger in 1885 só aangehaal:

“Moenie met my oor goud praat nie, die element wat meer verdeeldheid, teenspoed en onverwagte plae as enige voordele in sy spore sal laat.” Hy het soos ’n doemprofeet gesê elke ons goud uit die aarde sal in trane afgeweeg word.

Hy was dalk reg, want goud het die ZAR tegelyk baie welvarend gemaak – en ook die teiken van imperialistiese aggressie. Die gevolg was die Anglo-Boereoorlog vanaf 1899 tot 1902.

Antieke kultuur

Hierdie bord is een van die min aanduidings dat jy ‘n dorp binnegaan. Foto:
Volgens oorlewering kon daar tot ’n dosyn delwers in hierdie boom se stam ’n sopie bestel.
Straatkos in Limpopo is hoender op die kole.
Die Pennefather Gold Mining Company in Rissikstraat, Haenertsburg, skep die indruk van ’n myndorpie in die 1880’s.
Teen die grens in die Mapungubwe Nasionale Park het soldate in die Bosoorlog hul name op ’n uitgekrap.Foto:

Wat 1 000 jaar tevore teen die Limpoporivier gebeur het, is egter ietwat van ’n raaisel. Die kultuur wat ons met Mapungubwe verbind, was bedrewe in die verwerking van goud. Hierdie mense het handel gedryf, nie slegs met ander Afrika-mense nie, maar met Arabiere, Chinese en Indiese volkere. In ongeveer 1290 het hulle onttrek en hulle moontlik verder noord in die huidige Zimbabwe gevestig.

Sou jy die Mapungubwe Nasionale Park besoek – ’n Unesco-wêrelderfenisgebied – vra dat die gids Johannes Masalesa jou op die kultuurtoer na die “Heuwel van die Voorsate” neem. Volgens sy boek het die Mapungubwe-koninkryk van meer as 5 000 onderdane tot niet gegaan as gevolg van malaria en hongersnood deur droogte, asook die koning se afsterwe. Hy vertel ene Van Graan het in die 1930’s ’n jong man, Jim-Chewana Mokwena, omgehaal om die verskuilde roete na die heuweltop te verklap. Dié miskenning van hul kultuur het die voorsate sodanig omgekrap dat die jongeling lewenslank blind geword het.

Argeoloë van die Universiteit van Pretoria het ’n asemrowende skat van seldsame goue kunsvoorwerpe in die koninklike grafte bo-op die heuwel gevind. Die bekende klein goue renoster, ’n septer, duisende goue krale en ander kultuurskatte word by die universiteit bewaar. Jy kan wel replikas in Mapungubwe se pragtige interpretasie­sentrum sien. Dié gebou, wat die ongewone landskap verbeeld, is ook ’n bekroonde argitektoniese struktuur.

Dele van die geëlektrifiseerde heining wat die Suid-Afrikaanse Weermag in die 1970’s teen die grens met Zimbabwe en Botswana opgerig het.
Vra vir die gids Johannes Masalesa in die Mapungubwe Nasionale Park as jy werklik meer wil leer.
In die Mapungubwe Nasionale Park sien jy nie net historiese besienswaardighede nie, maar ook wild, soos kameelperde.

Grenswagters

Ook iets ongewoons waarop jy in die park afkom, is oorblyfsels van militêre vestings en die geëlektrifiseerde heining wat die ou Suid-Afrikaanse Weermag in die 1970’s hier op die noordelike grens gebou het. Dit was deel van die Bosoorlog. By die samevloeiing van die Limpopo- en Shasherivier, waar Suid-Afrika, Botswana en Zimbabwe bymekaar kom, lê ’n groot plat klip, ongeërg agtergelaat, waarop verveelde soldate hul name gegraveer het – ’n vergete aandenking van ’n lang verlore stryd.

Bygewerkte bronne

Martin Meredith. 2007. Diamonds, Gold and War. Jonathan Ball Publishers; David Hilton-Barber. 2015. Footprints: On the Trail of Those Who Made History in the Lowveld. Southbound; Kgomotso Phalandwa Johannes Masalesa. 2014. Mapungubwe: Place of Ancestors; www.sahistory.org.za/place/eersteling-monument-polokwane; www.theheritageportal.co.za/article/thomas-baines-eersteling-sketches.

Slaap oor

Met die lang afstand na Mapungubwe ingedagte, oorweeg gerus Makhado (voorheen Louis Trichardt) as gerieflike oornagplek.

Cuckoo’s Nest Guest House is net 5 km buite die dorp op die R524-pad. Dit bestaan uit die oorspronklike groot plaashuis en verskeie netjiese kothuise in ’n boomryke tuin. Vra die eienaar of jy self lekker wyn uit sy versteekte wynkelder kan kies om saam met aandete te geniet. (Cuckoosnestguesthouse.co.za of 082 566 7856)

By die Misty Mountains B&B hoër op in die Soutpansberge moet jy beslis hul heuning koop, die produk van hul eie proteas. (Mistymountainsguesthouse.co.za of 015 516 9702)

Akkommodasie in die Mapungubwe Na­sionale Park bestaan uit die Leokwe-ruskamp se selfsorghutte en die Limpopo-woudtentekamp (wees net bedag op skelm ape wat jou proviand vaslê.) Daar is ook kampering, ’n wilderniskamp vir agt persone en die luukse Tshugulu Lodge. (www.sanparks.org)


Meer oor:  Limpopo  |  Goudkoors  |  Inperkingsregulasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.