Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Grigori Raspoetin: Skadu van ’n groot invloed

Grigori Raspoetin het homself gevestig as ’n “heilige” geneesheer, met baie mag oor Rusland se laaste tsaar. Foto: Getty Images
Met ’n besoek aan die Joesoepof-paleis in  St. Petersburg beleef Ilse Zietsman Grigori Raspoetin se laaste oomblikke en sy vind uit wat die aanloop tot sy laaste asem was.

Met die deurstap in die Joesoepof-paleis (ook bekend as die Moika-paleis omdat dit aan die Moika-kanaal lê) in St. Petersburg is dit keiserlik stil. Nie onheilspellend stil, soos ’n mens verwag van die plek waar Grigori Jefimowitsj Raspoetin (1869-1916) vermoor is nie.

Raspoetin was ’n Russiese lekeprediker en geloofsgeneser (of kwaksalwer, afhangende van jou beskouing) wat in Pokrofskoje, Siberië, gebore is.

Sommige verwys na hom as ’n heilige, profeet of siener. Soms word hy ook die “Mal Monnik” genoem.

Sommige verwys na hom as ’n heilige, profeet of siener. Soms word hy ook die “Mal Monnik” genoem, maar hierdie benaming is misleidend omdat hy nie werklik ’n monnik was nie. Hoewel hy skoolopleiding ontvang het, was Raspoetin in ’n groot mate ongeletterd.

Hy is een van die mees kontroversiële karakters in Rusland se geskiedenis.

Geneser van die tsarewitsj

Raspoetin het bekendheid verwerf as die persoon wat (tsaar) Nikolaas II Aleksandrowitsj Romanof, die laaste keiser van Rusland, en tsarina Alexandra bygestaan het omdat hul seun (die tsarewitsj Z wat “oudste seun van die tsaar” beteken) Aleksei Nikolajewitsj (1904-1918) aan hemofilie (bloeiersiekte) gely het.

Mettertyd het dit aan hom gróót invloed oor die tsaar en tsarina, sowel as in die Russiese politieke arena, besorg.

Raspoetin het klaarblyklik as jong man in godsdiens begin belangstel nadat hy drie maande in ’n klooster gewoon het.

Sommige bronne meld dat sy kloosterlewe ’n boetedoening vir diefstal was. Baie oor Raspoetin se lewe is egter gegrond op hoorsê en oorvertellings.

Só word ook vertel dat Raspoetin deel van ’n sekte genaamd Chlisti (“Geselbroeders”) was. Daar is gegis dat godsdienstige en seksuele ekstase deel van hul rituele was.

Hoewel Raspoetin in 1889 getrou en drie kinders (sommige bronne beweer daar was vier) by sy vrou gehad het, het hy sy Siberiese tuisdorp in 1901 verlaat om ’n strannik (godsdienstige swerwer) te word.

’n Spotprent van Raspoetin met tsaar Nikolaas II en tsarina Alexandra as sy skoothondjies.
Raspoetin se ‘skoothondjies’

In 1903 het Raspoetin in St. Petersburg aangekom. Daar raak hy met verloop van tyd bekend as ’n “heilige man”, wat siekes gesond kan maak en die toekoms voorspel.

Ondanks sy wilde hare en die gewoonte om hom nie veel aan bad te steur nie, raak hy ’n gerekende en gewilde mistikus. In 1905 word hy aan die keiserlike familie voorgestel. Teen 1908 word hy ingeroep om die keiserlike familie met kleine Aleksei by te staan toe die seuntjie weer begin bloei. Hoewel daar geen genesing vir hemofilie was nie, het die tsaar en tsarina gehoop Aleksei kon genees word.

Raspoetin het, volgens oorlewering, daarin geslaag om Aleksei se lyding te verlig. Daar is bespiegel dat hy hipnose, dalk gepaard met een of ander medikasie, gebruik het. Heel opportunisties het Raspoetin die ouers oortuig slegs hý kan Aleksei – erfgenaam van die vorstehuis (dinastie) – red.

Elke keer wanneer die seun begin bloei het, is Raspoetin ingeroep; keer op keer kon hy die kind help. Op hierdie manier het Raspoetin se invloed oor tsaar Nikolaas, maar veral oor tsarina Alexandra, met rasse skrede toegeneem.

Boonop is hy deur van die vooraanstaande families van St. Petersburg verdink van verskeie misdade, sowel as ’n uiters losbandige lewe.

Enigiemand wat die tsaar of tsarina wou spreek, moes eers deur Raspoetin werk. Kort voor lank was hy omstrede en is beskuldig van politieke inmenging en beïnvloeding, ook tydens die Eerste Wêreldoorlog. Boonop is hy deur van die vooraanstaande families van St. Petersburg verdink van verskeie misdade, sowel as ’n uiters losbandige lewe.

Spotprente het in koerante begin verskyn waarin die tsaar en tsarina as Raspoetin se skoothondjies uitgebeeld word.

Daar was gerugte in die omloop dat Raspoetin in ’n buite-egtelike verhouding met die tsarina betrokke was. Respek vir die tsaar het al hoe meer getaan.

Een van die leefvertrekke in die Joesoepof-paleis, waar Raspoetin in ’n keldervertrek onthaal en vergif is. Foto: Getty Images
Drie skote én verdrinking

Aanvanklik wou die tsaar niks slegs van Raspoetin glo nie. Diegene wat Raspoetin by die tsaar verkla het, is summier na die mees afgeleë gebiede van Rusland verplaas of afgedank.

Ná ’n ondersoek deur die eerste minister het die tsaar Raspoetin wel verban, maar die tsarina het gesorg dat hy gou weer kon terugkeer.

Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het tsaar Nikolaas, onder die invloed van Raspoetin en Aleksandra, bevel van die Russiese leër oorgeneem. Terwyl die tsaar weg was, het Raspoetin se invloed oor die tsarina, wat aan die tuisfront in beheer van sake was, toegeneem. Hy het haar soms selfs aangesê wie om in sekere poste aan te stel.

Daar was ’n paar aanslae op Raspoetin se lewe, maar sonder sukses. Sy doppie is uiteindelik in Desember 1916 geklink.

Raspoetin het ’n uitnodiging na die Joesoepof-paleis, hoofwoning van dié familie, ontvang. Prins Felix Joesoepof en ’n paar ander adellikes was kop in een mus om die “heilige” te vermoor. Sommige glo ’n vrou is as lokval gebruik.

Dit het naastenby só gebeur: Raspoetin het ’n uitnodiging na die Joesoepof-paleis, hoofwoning van dié familie, ontvang. Prins Felix Joesoepof en ’n paar ander adellikes was kop in een mus om die “heilige” te vermoor. Sommige glo ’n vrou is as lokval gebruik.

Die tuin van die paleis. Volgens oorlewering het Raspoetin na buite gestrompel nadat hy gif ingekry het. Daar is hy drie keer geskiet. Foto: Ilse Zietsman

In die keldervertrek van die paleis het hulle vir Raspoetin rooiwyn geskink en versnaperings aangebied. Volgens oorlewering is daar genoeg sianied in sy wyn en happies gegooi om ’n paar mense (of ’n perd, volgens ander bronne) dood te maak. Raspoetin het olik begin gevoel, na buite geloop, maar niks oorgekom nie!

Die toneel wat hom daar afgespeel het, is in die keldervertrek herskep en die ameublement het oor die jare weinig verander. As jy deesdae by die kelder instap, word jy deur lewensgrootte mannekyne begroet.

’n Bebaarde Raspoetin sit by ’n ronde tafel waarop ’n kandelaar, wynkraffies en eetgoed gerangskik is. Bo die tafel hang ’n loodglaslantern; die sitgedeelte van die stoele is verweer en onder die tafel lê ’n rooi Oosterse tapyt.

Niemand anders sit by die tafel nie; slegs een persoon staan by die tafel. Dit lyk of hy ’n militêre uniform dra en seker maak dat Raspoetin sy geskinkte wyn drink.

Nêrens anders in die paleis sien jy enigiets wat verklap dat dié woning Raspoetin se uithangplek was nie.

Terug by wat op daardie aand gebeur het: Prins Felix moes vinnig dink en reageer. Hierdie kans om van Raspoetin ontslae te raak, moes nie verspil word nie.

Hy het ’n rewolwer gegryp en Raspoetin geskiet.

Onder die indruk dat hy dood is, het hy hom net daar gelos en teruggeloop na waar sy medesamesweerders gewag het. Raspoetin was egter steeds nie dood nie.

Toe hulle dit agterkom, het hulle hom ’n tweede keer geskiet. Net om hééltemal seker te maak, het hulle hom ’n derde keer – in sy voorkop – geskiet.

Die samesweerders het Raspoetin se lyk in ’n tapyt toegewikkel, toegebind en in die ysige Newarivier gegooi.

Toe sy lyk oplaas gevind is, het ’n lykskouing getoon selfs teen die tyd dat hy in die rivier gegooi is, was hy nog nie dood nie.

Toe sy lyk oplaas gevind is, het ’n lykskouing getoon selfs teen die tyd dat hy in die rivier gegooi is, was hy nog nie dood nie. Daar is water in sy longe gevind; hy het dus verdrink.

Kort daarna, aan die begin van 1917 het die Februarie-revolusie uitgebreek.

  • Dit was die begin van die einde vir die Romanof-dinastie. Bykomende bronne: Wikipedia en www.britannica.com.) In 1978 het die Euro-Karibiese groep Boney M., wat bekendheid met sy disko- en Kersmusiek verwerf het, ’n poptreffer met “Rasputin”, ’n humoristiese liedjie oor Raspoetin, gehad.

Voor die eeuwisseling het die gerekende reisskrywer Colin Thubron in sy boek In Siberia beskryf hoe hy in Raspoetin se geboortedorp, Pokrofskoje, na een van die Rus se familielede gaan soek het.

Daar aangekom, het inwoners hom na die huis van ene Wiktor gestuur.

Wiktor het uitgestrompel gekom. Hy was die ewebeeld van Grigori Raspoetin! Sy hare was wild, hy was ongewas en sy oë het ’n stille geslepenheid weerspieël.

Aanvanklik het hy gesê dat hy nie aan Raspoetin verwant is nie, maar dat sy oumagrootjie in Raspoetin se huis gewerk het.

’n Ruk later het hy beweer dat Raspoetin “sonde met sy oumagrootjie gepleeg het” en dit is hoekom hulle op ’n haar na mekaar lyk.

Die Moorse vertoonkamer in die paleis. Foto: Ilse Zietsman

Soos soveel oor Raspoetin sal dit maar ’n raaisel bly.

  • Die Joesoepof-paleismuseum het sy deure op 1 Junie 2020 heropen.
  • Die paleismuseum is elke dag van die week van 10:30 tot 17:00 oop.

Kaartjies kan aanlyn (aanbevole) of by die kaartjiekantoor gekoop word. ’n Afsonderlike kaartjie word benodig om die keldervertrek waar Raspoetin sy laaste ure deurgebring het, te besigtig.

Die kelder kan net op begeleide toere – meestal in Russies – besigtig word. Die toere word op vaste tye aangebied maar soms, só voel dit, na willekeur verander. Die getal besoekers per dag word ook beperk. Bespreek vooraf vir die keldertoer en spesifiseer dat dit in Engels moet wees.

Meer oor:  St. Petersburg  |  Rusland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.