Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Groet die grotwyn!

By La Cave du Clos des Menuts kan jy gratis ingaan om die grotte en kunswerke te bekyk. Jy kan dit ook nou aanlyn besoek op hul webwerf, clos-des-menuts.com. Foto’s: Ilse Zietsman
Saint-Émilion in Frankryk staan op ’n netwerk tonnels  wat gevorm is toe kalksteen vir die bou van die dorp  se geboue uitgegrawe is, skryf Ilse Zietsman.

Die heuweldorpie Saint-Émilion in Bordeaux, in die suidweste van Frankryk, het sy ontstaan te danke aan die kluisenaar-monnik Émilion. Hy’t in die 700’s vir hom ’n grot uitgekap en in afsondering daar gewoon. Dit was die begin van ’n netwerk van grotte en tonnels wat vandag nog onder die dorpie kronkel.

Die wonderwerke wat Émilion glo verrig het, het al hoe meer monnike na die omgewing laat stroom.

Die wonderwerke wat Émilion glo verrig het, het al hoe meer monnike na die omgewing laat stroom. Oor ’n tydperk van sowat 300 jaar het hulle die Monolitiese Kerk van Saint-Émilion uit een yslike kalksteenrots gebeitel – voorwaar ’n wonderwerk. Die kerktoring is al wat bo die grond uitsteek. Die monnike het ook die Drie-eenheid-kapel, grotte vir woonplek en moontlik ’n netwerk van katakombes uitgebeitel (sommige bronne reken die katakombes dateer van voor hul koms). Die kalksteen in die streek is mosselkalksteen, waarin algemeen fossielskulpe gevind word. ’n Kilometer buite die dorp, by die Château Franc Mayne (chateaufrancmayne.com), kan jy ook ’n seester-fossiel sien.

Oor die jare is vele fresko’s op die tonnelmure onder die dorp geskilder, maar min daarvan het behoue gebly, aangesien baie muurskilderye tydens die Franse Revolusie vernietig is. Skilderye in die Drie-eenheidkapel het egter behoue gebly, te danke aan die kuiper wat in daardie tyd daar gewerk het. Om die hout te buig is vuurgemaak en die roet het die muurskilderye bedek, sodat dit nie meer sigbaar was nie.

Die Monolitiese Kerk van Saint-Émilion, wat uit een kalksteenrots gebeitel is.

Omdat Saint-Émilion op die destydse pelgrimsroete na Santiago de Compostela in Spanje geleë was, het die distrik in die 11de eeu al hoe welvarender geword. Die kalksteen in die omgewing was gewild in die bou van groot klipgeboue soos kerke en kloosters, verdedigingskanse en monumente en só is die ondergrondse tonnelnetwerk tot in die 1900’s uitgebrei.

Volgens die toerismeburo loop die tonnels tot 200 km onder die heuwels. Saint-Émilion se kalksteengrotte en -tonnels is nie almal deur die monnike uitgegrawe nie; sommige kom natuurlik voor.

Wyndruiwe word al vir eeue in dié streek verbou en soos die geluk dit wou hê, was die grotte met hul konstante koel temperatuur ideaal om wyn in te bêre.

Wyndruiwe word al vir eeue in dié streek verbou en soos die geluk dit wou hê, was die grotte met hul konstante koel temperatuur ideaal om wyn in te bêre.

Tot vandag toe word dié katakombes vir die berg van wyn gebruik.

Sommige grotte is as atmosferiese wynwinkels of kunsgalerye ingerig. By party moet jy toegangsgeld betaal om die gangetjies te verken; by ander staan daar geskryf entrée gratuite of entrée libre.

Die Cordeliers-klooster (lescordeliers.­com) se tonnelgange is tot 20 meter diep en loop tot 3 km buite die dorp. Daar maak en verouder hulle al sedert 1892 vonkelwyn.

Meer oor:  Bordeaux  |  Saint-Émilion  |  Frankryk  |  Wyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.