Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Hakuna matata: salig kalm

Zanzibar is deesdae ’n gewilde opsie vir Suid-Afrikaners wat op soek is na ’n eilandvakansiebestemming. Veral ook omdat die laekostelugdiens Mango direkte vlugte van Johannesburg bied met gerieflike aansluitingsvlugte uit Durban en Kaapstad.

Zanzibar se dhows (seilbote) gee aan dié eiland ’n besondere bekoring. Foto: Eppie Strydom

Zanzibar is so eksoties soos die naam klink. Die piesangs is ’n voet lank, die vroue se helder gewade blom teen ’n agtergrond van tropiese woude, karkasse van slagdiere hang in stoepwinkels sonder yskaste, handgekerfde houtdeure staan skuins opgestapel voor ’n paar huise langs die pad, en op die see dobber die dhows met hul kenmerkende driehoekige seile, die kleur van ivoor, terwyl ’n man met ’n paar kappe van ’n mes ’n drankie uit ’n kokosneut reg voor ’n mens optower.

Ja, dié eilandgroep naby die ewenaar aan die ooskus van Afrika is gans anders as wat ons aan die suidpunt van die vasteland gewoond is: geen groot branders, verraderlike seestrome en woeste winterstorms nie; eerder ’n soel somerklimaat regdeur die jaar met moesonagtige reënstorms van April tot Junie wat net so vinnig oorwaai as wat dit arriveer.

Die water bly louwarm wanneer die son in die weste sak. Foto: Eppie Strydom

Hier kan ’n mens in die louwarm seewater dryf sonder koue wat jou weldra inhaal of ’n brander wat jou verras.

Die water is kalm soos die inwoners self.

Die mense van Zanzibar is gevorm deur vlae verbykomelinge wat oor die eeue heen hier vasgemeer het. Die Persiërs het die eiland sy naam gegee, vertaal deur die Arabiere as zanjibar – oftewel kus van die swart mense. So vertel Jay, ons gids van Sun Tours, wat ’n onontbeerlike pendeldiens aan toeriste lewer in ’n land waar die openbare vervoer beknop en wispelturig is.

Van die agtste eeu af het handelaars uit die Midde-Ooste, asook Indië, Maleisië, China en Indonesië hier aangedoen. Die gebied was sedert die 1500’s ook onder beheer van die Portugese, Britte en die sultan van Oman.

Die bevolking is byna 99% Moslem, maar ander geloofsgroepe aanbid in vrede. In Stone Town staan die Malindi-moskee byvoorbeeld reg langs die St. Josef-katedraal.

Die LGBT+-gemeenskap word egter nie openlik verwelkom nie. Homoseksualiteit is onwettig in Tanzanië en paartjies met dieselfde van in hul paspoorte moet liewer sê hulle is familie as ’n egpaar.

Ek gesels met Lungishu, ’n Masai wat kunsvlyt in die “Afrika-dorpie” by die Gemma dell’Est-oord verkoop. Foto: Eppie Strydom

Besoek gerus Stone Town

Stone Town, die historiese ou deel van die stad, bied ’n ervaring wat ’n mens slegs in Zanzibar kan vind. Dis ’n doolhof van klip en koraal en keisteen-straatjies te nou vir motors.

Op sommige plekke is daar skaars plek vir ’n mens, ’n fiets en ’n bromponie langs mekaar, wat nog te sê van die houtkarretjies waarin mans swaar vragte voorraad sleep.

Die meeste inwoners oorleef op sowat R28 ($2) ’n dag, sê Jay.

Gedisoriënteer in die stegies sonder patroon en vestings wat vier verdiepings bo ’n mens uittroon, slaan elke nuwe oomblik deur die sintuie met die trefkrag wat reisigers so begeer: om die vreemde te ervaar, te leer ken, en uiteindelik te tem.

Die buffet-aandete word Vrydagaande op ’n beskutte deel van die strand voorgesit. Foto: Eppie Strydom

Uit die donker winkeltjies op die straatvlak probeer sommige winkelassistente jou arm draai om in te loer en jou dollars of shillings vir hul geweefde materiale of houtsneewerk te ruil.

Kort-kort hoor jy ’n bromponie toet voordat dit om die draai kom, en hier en daar speel kinders op die sementpaadjies.

Ander winkelassistente is op hul selfone doenig en steur hulle nie aan die stroom toeriste wat in groepies beweeg en alles be-oe en be-aa nie.

Slawehandel in Zanzibar is om en by 1873 gestaak. Die slawemuseum, waar twee selle behoue gebly het waar mense uit die vasteland aangehou is voordat hulle op markdag as slawe opgeveil is, is ’n skokkende en insiggewende besienswaardigheid vir enigeen met ’n liefde vir die geskiedenis.

Die Christ Church- Anglikaanse katedraal daarnaas skep ’n gepaste kontras. Die plek waar die boom gestaan het waar die slawe destyds met ’n sweep geslaan is (om kopers van hul uithouvermoë te oortuig), is tydens die bou van die katedraal getransformeer tot ’n altaar. En die kruis in die katedraal is gemaak van die hout van die groot kremetart in Ilala, Zambië, waaronder dr. David Livingstone, die Skotse sendeling, ontdekkingsreisiger en uitgesproke teenstander van slawerny, se hart begrawe is.

Die paleismuseum in Stone Town, met sy uitsig op Prison Island in Dar es Salaam se rigting, gee ’n mens die kans om aan die koninklike meubels en materiale uit die verlede te raak en te sien hoe die sultan en sy gevolg geleef het. Die seebries word deur die argitektuur gelei en verskaf natuurlike lugversorging in die groot, donker vertrekke met hul hoë plafonne en kaal vloere.

Mense wat Stone Town wil ontdek, kan gerus ’n aand in ’n hotel daar naby oornag sodat hulle genoeg tyd het om ook die ou fort, Livingstone se huis, die House of Wonders en Freddie Mercury se grootwordhuis te sien. Kontak Africa Stay vir verblyfopsies.

Die vlug tussen Johannesburg en Zanzibar duur drie en ’n half uur. Foto: Eppie Strydom

Wenke vir jou Zanzibar-verblyf

Vakansieoorde is om die eiland ingerig waar toeriste kan tuisgaan. Baie toeriste bestee hul ganse vakansie binne die oord – van swembad, tot strandkroeg, tot buffet, en terug.

Vir mense wat daarvan hou om in die see te swem, eerder as die swembad van ’n hotel, is die noordweste van die eiland die beste bestemming. Die see trek hier nie ver terug met laagwater nie. Op ander plekke kan dit ’n ewigheid duur om met laagwater deur die klewerige sandoppervlak te stap tot by dieper water.

By die idilliese Gemma dell’Est-oord van die Diamonds-hotelgroep trek die see nie terug met laagwater nie. Foto: Gemma dell’Est

By die Gemma dell’Est-oord van die Diamonds-hotelgroep in die noordweste (waar die wenbruide in Beeld se Bruid van die Jaar-kompetisie ’n tweede wittebrood gaan hou), is die see die heeltyd in die baai, lou en kalm. Die sand glinster soos fyn ivoor en palmbome gooi koelte.

En vir dié wat nie van sand hou nie, staan die groot swembad langs die strandkroeg met sy skemerkelkies, kamma-skemerkelkies (mocktails), melkskommels en peuselhappies gereed.

Poskaarte, voetgangers, helder lappe en houtdeure in Stone Town. Foto: Eppie Strydom

As jy ’n vakansie in Zanzibar bespreek, kies die full board-opsie, sê Deborah Magrath, ’n reisagent van ClubTravel in Kaapstad, wat ek een aand raakkuier. Met dié opsie is alle etes (buffet) en drankies by die strandkroeg by die prys ingesluit; jy kan fokus op ontspanning en hoef nie sommetjies in jou kop te maak oor wat jy in ’n vreemde geldeenheid kan bekostig nie. Magrath raai mense ook aan om hul vakansiebegroting só uit te werk dat hulle ’n bykomende 50% van die bedrag wat hulle aan die vakansie bestee het, kan saamneem vir sakgeld.

By Gemma dell’Est het jy byvoorbeeld ekstra geld nodig vir enjingedrewe watersport (soos diepseehengel of duik) of dalk ’n eksklusiewe aandete in die restaurant wat op stelte in die oseaan staan.

Sommige watersportaktiwiteite is egter ingesluit, soos die paddle boat.

Vir ’n groentjie soos ek is die klein baai langs die oord die ideale plek om die kuns te bemeester om op ’n branderplank te staan en met ’n spaan te roei. Een van die lekkerste ervarings is om teen die wind in te roei en dan plat op my rug op die plank te lê en na die wolke te kyk, terwyl die plank stadig terugdryf na die oord.

Al wat kort, is ’n bordjie: “Hakuna matata – just meditating”, want kort voor lank is daar ’n dhow met ’n paar locals wat kom hoor of ek nog leef.

Ook ingesluit by dié vyfsteroord is ’n besoek op ’n Vrydagaand aan die “Afrika-dorpie” waar die buffet in ’n beskutte deel van die strand aangebied word.

’n Groep Masai-mans, wat handgemaakte kunsvlyt langs die voetpaadjie na die dorpie uitstal, kom later die aand na die verhoog om ritmiese, hipnotiese sang- en dansnommers uit te voer.

En vlak bokant hul skouers, vir ’n vlietende paar oomblikke, val ’n helder vuurbal uit die hemel tot ’n entjie bokant die swart-swart see.

  • Strydom het Zanzibar op uitnodiging van AfricaStay besoek.
  • Vir inligting of besprekings kontak Africa Stay by 011 592 9000, stuur ’n e-pos na sales@africastay.com of besoek africastay.com.

Sun Tours kan gekontak word by info@suntoursznz.com of besoek suntoursznz.com.

Die nou stegies van Stone Town prikkel al die sintuie. Foto: Eppie Strydom
Die lekkerste gim waar ek al geoefen het, is by Gemma dell’Est in Zanzibar. Foto: Eppie Strydom
Eppie Strydom

Meer oor:  Eppie Strydom  |  Zanzibar  |  Vakansie  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.