Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Hantam-dorpe met groot harte verwelkom die blommetyd

Belinda Jackson het verlede jaar self gaan kyk of die blommetyd in die Namaqua-Noord-Kaap wel iets vir die oog sou wees. Sy was nie teleurgesteld nie en gaan vanjaar weer terug vir nog ’n kykie en ’n kuier.

Die pragtige sandsteenkerk in Neo-Gotiese styl waak statig oor Nieuwoudtville en sy mense. Foto: Belinda Jackson

Namaqua-Noord-Kaap-juwele wat beslis ’n besoek werd is gedurende blommetyd en waar jy gerus kan gaan oornag, is Nieuwoudtville, Loeriesfontein en Calvinia.

Ek en ’n paar vriende het verlede jaar in die blommetyd die pad soontoe gevat en is behoorlik oorweldig deur die pragtige kaleidoskoop van kleure op velde wat net twee maande tevore met my inligtingsveldtog (vir 2018 se Blomme-bylaag) nog poedelnakend was met slegs spikkels van groen hier en daar en hope droë koppies.

Nieuwoudtville se besonderse ligging bo-op die Bokkeveld-plato en geil blomtapyt na ’n effens senutergende rit oor die Vanrhynspas met sy uitstekende uitsigte op die Knersvlakte, slaan jou asem behoorlik weg.

Besoekers aan Nieuwoudtville maak hulle tuis vir smullekker pannekoek en vars koffie in die kerksaal waar pragtige handwerk verkoop word. Foto: Belinda Jackson

Oral waar jy kyk, sien jy net plate oranje, pers, geel, rooi en wit, sommer so langs die dorp se strate, in voortuine en agterplase.

Ons tuiste by die Mi Casa-gastehuis (selfsorg) op Nieuwoudtville was gerieflik, ruim en warm met vriendelike gashere Debbie en Gabriel wat ons behoorlik tuis laat voel het.

Met jou aankoms verstaan jy waarom dié dorp die “blombol-hoofstad van die wêreld” genoem word.

Jy hoef net jou voete by die voordeur uit te sit, en jy is in ’n natuurtuin sover as wat jou oë kan sien.

Stap in Kerkstraat af tot by die pragtige Neo-Gotiese NG Kerkgebou wat oor die dorp waak en doen aan by die kerksaal vir heerlike varsgebakte pannekoek, koffie en kunsvlyt. Hier wemel dit van toeriste wat by toerbusse uitpeul om te gaan smul aan die varsgebak. Ontbyt was lanklaas so lekker! Daarna swenk jy terug na die hoofstraat tot by die Skuinskoekpaleis net voor jy die dorp uitgaan vir eiesoortige lekkernye soos skuinskoek en roosterbrood om later saam met braaivleis te geniet.

Die blomme is oral langs strate en in agterplase te sien. Foto: Belinda Jackson

Hantam Botaniese Tuin

Die beste bestemming op die dorpsgrens waar jy oor die 400 blomspesies op een slag sien blom, is hierdie ongelooflike 6 000 hektaar-natuurtuin van elke moontlike kleur.

Hier word verskeie begeleide toere deur die tuine aangebied. Jy kan kies uit sewe staproetes of net jou hart volg en die paadjies stadig bewandel sodat jy kan streel oor teksture en kleure.

Elke dag in die tuine lyk anders oor dié tyd soos die verskille bolplante (geofiete) oopgaan.

Nieuwoudtville se eiesoortige geografie beslaan ’n mengsel van Nieuwoudtville-skalie-renosterveld, Nieuwoudtville-Roggeveld-doloriet-renosterveld en die Hantam-vetplant-Karooveld, wat hierdie tuin ’n paradys van biodiversiteit maak.

Blomme waarvoor jy hier moet uitkyk en wat jou sal betower is perskussinkies, rooikatstert, Karoo-satynblom, perdeblom, koppie-en-piering, vygies en vele meer.

Maak ook seker jy soek vir die blombestuiwertjies soos die langtongvlieg (nou Prosoeca marinusi sedert vroeg vanjaar, vernoem na die kurator Eugene Marinus).

Die Hantam Botaniese Tuin is ’n lushof van honderde blomspesies. ’n Maand vroeër was die veld nog dor. Foto: Belinda Jackson

Waterval

Nieuwoudtville is ideaal as oornagbestemming. Van hier af kan jy dagbesoeke aflê in Calvinia en Loeriesfontein (gaan loer in by die Fred Turner- windpomp- en kultuurmuseum) of selfs Clanwilliam se rigting vir eiesoortige ervarings. Elke dorp is sowat 60 km vanaf Nieuwoudtville.

Die Nieuwoudtville-waterval aan die R357 (Loeriesfontein-pad) moet beslis jou tweede stop wees. Die 90 m lange waterval, rotsformasies en pragtige plante en kleure se aantrekkingskrag is magies. Ons sou net hier tent opslaan as ons kon!

Pragtige satynblomme pronk in die veld. Foto: Belinda Jackson

Gannabos-kokerwoud

Ook op die Loeriesfontein-pad, het hierdie woud ons amper laat vergeet van die werklikheid. Die mensagtige kokerbome staan stil en hou jou oë vasgenael in ’n greep van verwondering. Die pad tot by die woud is ongeteer, so ry maar stadig.

Moenie vergeet om af te draai by Brandkop se “spookdorp” terug na Niewoudtville nie. Eens ’n lewensaar op dié pad, staan plaasbouvalle droewig op die verlate “dorpswerf”. Die TV-reeks Manakwalanders is blykbaar hier geskiet, met die vervalle filmstel steeds daar.

Madeliefies blom vrolik in die veld, asook in agterplase en voortuine op hierdie dorpe. Foto: Belinda Jackson

Papkuilsfontein op die Rooibosroete

Voorwaar ’n moet. Jy ry verby die Hantam Botaniese Tuine in die rigting van Clanwilliam en sien net plate blomme oral waar jy kyk. Op Papkuilsfontein wag die varsgebakte brood en heerlike warm sop as jy terugkeer van een of meer van die blomroetes op die plaas. ’n Dagpermit kos slegs R10.

Blommetyd het my en my vriende klaar in sy web gevang, want vanjaar is dit noord al die pad tot in Springbok!

Die kokerwoud se magiese krag wil jou nie laat los nie. Foto: Belinda Jackson
Die Waterval (daar’s ’n grote en ’n kleintjie) is ’n heerlike lafenis. Foto: Belinda Jackson
’n Koppie-en-piering glimlag in die wintersonnetjie. Foto: Belinda Jackson
Ruspertjies maak gereed vir die volgende fase. Foto: Belinda Jackson
Gaan besoek die Fred Turner- windpomp- en kultuurmuseum in Loeriesfontein. Foto: Belinda Jackson
Papkuilsfontein het ook ’n hele paar roetes teen slegs R10. Foto: Belinda Jackson
Die Skuinskoekpaleis op Nieuwoudtville bied heerlike vars skuinskoek en roosterbrood. Foto: Belinda Jackson

Meer oor:  Hantam  |  Namakwaland  |  Reis  |  Blomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.