Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Herlaai jou batterye in die Laeveld

Dis Vrydagmiddag laat toe ons eers by die huis wegkom vir ons wegbreeknaweek by die Sabi River Sun-oord net buite Hazyview, en ek vrees om die pad soontoe aan te durf, maar dit is toe glad nie so erg soos ek verwag het nie. Dis dubbelpad tot net duskant Machadodorp, en die res van die roete is heeltemal rybaar en gemaklik.

Die seekoeie in die dammetjie by die oord.

Net ná negeuur stop ons by die luukse oord en is gelukkig nog heeltemal betyds om te gaan aansit vir die heerlike buffet wat hulle in die restaurant bedien. Ontspan. Haal diep asem. Laat die naweek begin.

Die volgende oggend toe ek die deure na die balkon van ons kamer oopmaak, is ek aangenaam verras. Ek word begroet deur die mooiste uitsig en is verbaas dat alles nog so lowergroen daar is. Hier in Johannesburg maak als wat groen is nou plek vir die herfskleure rooi, geel, bruin en oranje.

Tot ons groot verbasing is die oord ook die tuiste van die Hazyview Parkrun, en ek en my 12-jarige seun, Benno, besluit dat dit die ideale manier is om die oord te gaan verken.

Marietjie Roodt voer een van die olifante by die Elephant Sanctuary. Foto: Teresa Coetzee

Dis ’n vriendelike groepie hardlopers wat ons by die Parkrun verwelkom en ’n pragtige roete regdeur die hele oord wat tot op die meter oor 5 km strek. Ons hardloop selfs verby ’n dammetjie met ’n klompie seekoeie in. Gelukkig is daar ’n elektriese heining tussen ons en hulle, anders het ek die Parkrun beslis in ’n veel korter tyd afgelê.

Ná ’n heerlike ontbyt waar daar selfs smoothies bedien word, meld ons aan by die spa in die oord en word bederf met ’n heerlike uur lange vollyfmassering. Die masseuses is goed opgelei en baie professioneel. ’n Beter manier om van die week se stres ontslae te raak, is daar nie.

Vir gholfspelers bied die oord ’n pragtige gholfbaan, maar ons kies die opsie om langs die swembad in die sonnetjie te lê en bak.

Die hotel is omring deur pragtige tuine en lowergroen grasperke. Foto:

En voor ’n mens kan sê “oggend-siësta”, is dit tyd om aan te meld vir ons toer Kruger-wildtuin toe saam met Tickets & Tours. Ons gids, Bongani, ken sy storie en is entoesiasties om vir ons so veel as moontlik diere te wys. Op ons rit terug sien ons selfs twee luiperds, wat maak dat ons raas kry by die hek omdat ons laat is.

Die Nasionale Kruger Wildtuin is sowat 40 minute se ry vanaf die Sabie River Sun in Hazyview. Foto: Terésa Coetzee

Aandete is ’n braai by die gholf-klubhuis en ons verlustig ons aan die tjoppies en steaks en selfs gebraaide garnale.

Dit was ’n volgepakte dag en teen die tyd dat ons teruggaan kamer toe, is ons is gedaan.

Die volgende oggend meld ons reeds agtuur aan by die Elephant Sanctuary net so vier kilometer van die Sabi River Sun-oord af, en ’n besoek aan hierdie veilige hawe vir die twee olifante is beslis die moeite werd. Buiten die magdom feite en inligting wat ’n mens oor die grootvoete kry, kan jy ook interaktief met hulle wees en aan hulle raak en selfs vir hulle kos voer in hul groot slurpe.

Die toer sluit ook ’n stappie saam met die olifante in en daar is meer as genoeg geleentheid vir foto’s saam met die magtige diere.

Die naweek het omgevlieg, maar teen Maandag het ek beslis weer nuwe moed en durf vir die week gehad nadat my battery daar in die Laeveld herlaai is.

Meer oor:  Hazyview  |  Wegbreek  |  Toerisme  |  Doendinge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.