Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Hiér eet muise nie die kaas

Een van die lekkerste tydverdrywe vir toeriste in nuwe stede is sekerlik die straatwandelings en die ontdekking van nuwe produkte in winkelvensters of -rakke, en om onverwags op ’n winkeltjie in ’n agterstraat af te kom wat die ongewone verkoop. Amsterdam, die “ongewone”, vry, verdraagsame en liberale stad, is vol sulke juwele.

Dié Penny Bull sal jou byna R3 miljoen uit die sak jaag. Foto: Jacob Rooi

Koeieby die kilogram

Hier en in die omliggende stede en dorpe is honderde museums van verskillende soorte, maar in Leliegracht naby die middestad van Amsterdam is ’n ander soort “museum” wat ’n mens nader trek. Dit is die enigste koeimuseum in Europa en is ’n uitvloeisel van die CowParade, ’n tentoonstelling van geverfde koeie wat ’n wêreldwye kunsverskynsel geword het en al in meer as 80 lande gehou is.

Hier tref jy ’n wonderlike versameling miniatuurkoeie aan, maar ook ’n paar geverfde olifant-, perd- en ander dierebeelde.

Sommige is seldsame versamelstukke wat net deur rykes bekostig kan word, soos die Penny Bull (wat natuurlik nie ’n koei is nie) – dit kos €150 000 (oftewel sowat R2,5 miljoen)! Dis ’n bul waarop duisende goudkleurige pennies geplak is.

Die diere word sedert 1999 deur sowat 6 000 kunstenaars oor die wêreld heen geverf. Die pryse (van klein tot groot) wissel tussen €18 en €90.

Porseleinware vir énige smaak. Foto: Jacob Rooi

Porseleinpaleis

As jy Golden Bend Tableware in oud-Amsterdam betree, stap jy in ’n unieke winkel met unieke produkte. Daar is porseleinware vir Afrika. Jy moet versigtig trap, want daar is spasie vir net een mens se voete op enige gegewe plek.

Dis die grootste versameling porseleinware wat ek nog ooit gesien het: wit, goud, groen, blou – feitlik alle kleure met allerhande patrone.

Oral op die vloere in al die vertrekke, teen die mure en op rakke is daar borde, koppies, pierings en melkbekers van alle soorte, klein en groot.

Dorothee Verdaasdonk, eienaar, sê sy voer dit van Amerika af in. Van die besonderse breekware is die borde met goud geborduurde rande met die logo van eksklusiewe hotels of gholfklubs.

Dit is alles nuut. Die prys van die gewone borde wissel van €5 tot €25.

Rubbereende vir ’n vale. Foto: Jacob Rooi

Rubbereende, enigiemand?

En wie sou nou kon dink daar bestaan spesialiteitswinkels in Amsterdam wat net rubbereendjies verkoop? In dié stad is daar twee.

“Die rubbereendjie ken geen grense nie, diskrimineer nie teen mense nie en het geen politieke verbintenisse nie. Hulle is vriendelik, en ’n dobberende rubbereendjie het helende waarde. Die rubbereend is sag, vriendelik en geskik vir alle ouderdomme,” staan daar teen die muur geskryf.

Baie toeriste koop dit aan as versamelstukke, van groot tot klein. Daar is selfs ’n Donald Trump-eend en ’n Star Wars-eend. Die goedkoopste eendjie kos sowat €3.

Sokkies vir die versamelaar

Soek jy ’n paar handgemaakte sokkies met Donald Trump se gesig (en hare) op teen €30? Of van die bekende skilder Vincent van Gogh, of Einstein, of Bill Clinton, oudpresident van Amerika?

Loop dan na Sockswelove in Gasthuismolensteeg nr. 5, die eerste van die nege strate vanaf Damplein.

Daar is ook sjoebroekies, leotards en kouse vir vroue, teen €35, wat jou bene ’n getatoeëerde voorkoms gee. Nogal mooi.

Jy kan dit selfs van dié winkel se webtuiste bestel.

Kaas in elke kleur en geur is oral te koop. Foto: Jacob Rooi

Koninkryk van kaas

Daar is ook talle kaasmuseums en -winkels. By een kleinerige kaasmuseum kan jy allerhande soorte kaas, in bitterklein blokkies, proe.

Dit kom in verskillende kleure: blou, groen, rooi en ’n kombinasie van kleure.

Vanaf die 19de eeu is Nederlandse koeie bekend vir hul hoë melkproduksie, lees ’n inligtingstuk met die opskrif “Van gras tot melk”. Nog een verduidelik die melkproses, en sê die gemiddelde Nederlandse koei produseer 8 000 liter melk per jaar. Nie sleg nie. Ander inligtingstukke verduidelik die kaasmaakproses.

Daar is uitstallings van outydse kaas-drukperse wat glo uit 1870 dateer. Die geskiedenis van kaas strek sover soos 5 000 jaar terug, lui die laaste plakkaat.

“Dit het begin by nomadiese stamme wat hul melk in sakke, gemaak van die droë mae van kalwers, gestoor het. Tydens hul reis is die melk aanhoudend geskud, wat ’n dik, wit massa veroorsaak het. Dit is in mandjies gestoor, met klippe wat bo-op gepak is om die droogmaakproses te verhaas. Dis hoe die eerste primitiewe kaas gemaak is.”

Het Muizenhuis se oulike muise. Foto: Jacob Rooi

Iets . . .uhm . . . anders

Nou ja toe, dan is daar die winkelvensters van Amsterdam se rooiligbuurt, wat jaarliks duisende toeriste lok. Daar is egter nou ’n debat oor hoe lank daar nog toegegee kan word aan die horde toeriste wat na die stad kom op soek na drank, dwelms en prostitute.

In vensters hier – in De Wallen-gebied (Walletjies) of elders in stegies – sit of staan en wag die skamelgeklede prostitute vir jou. In sommige gevalle is die venster (waar ’n rooi lig brand) eintlik ’n deur waar jy vinnig kan inglip.

Daar is ook ’n prostitusiemuseum, en nog ander wat allerhande private speelgoed verkoop.

Talle inwoners in hierdie gebied bekla hul lot oor die lawaai, die openlike drankgebruik ondanks ’n verbod en die gebruik van “harde” dwelms op straat. Maar vir die prostitute is dit net hul werk, teen sowat €50, ongeveer R800, per kliënt.

Muis in sy huis

Het Muizenhuis laat ’n mens beslis stop. Wat sou dít dan wees?

Dis ’n familieonderneming. Die skepper, Karina Schaapman, het dit gebou as ’n agtergrond vir haar reeks kinderboeke wat die verhaal van Sam en Julia vertel. Hulle ontdek die talle kamers van die Mouse Mansion en ontmoet die inwoners. Die eerste deel van die reeks is in 2011 gepubliseer en was onmiddellik internasionaal ’n sukses. Klasse word ook vir kinders aangebied om hul eie muis-herehuise te bou. Van die boeke word in die winkel verkoop.

Met 5D oor die stad

“This is Holland” is neffens die hoogste punt in Amsterdam, genaamd A’dam Look­out.

Ons kom ná ons besoek aan A’dam Lookout daar aan, en ná die fotonemery daar, skuif jy voor ’n enorme grootskerm in en kry dan ’n digitale les met interaktiewe fotobeelde en grafika oor die geskiedenis van Nederland. Die oorstromings, die seisoene, hoe hulle geleidelik die see getem het . . .

Maar dan kom die groot pret: nie deur 3D nie, maar 5D. Fantasmagories!

Jy gordel jou vas, die ligte gaan af en ewe skielik reis jy bo-oor die stad. Ook oor die see – eers kalm en dan rof terwyl jy selfs effe nat word van die sproei op jou gesig. Jy sweef oor die lughawe terwyl ’n vliegtuig onder jou opstyg, oor ’n woud, oor troppe hardlopende perde . . . en nog meer.

Fantasties; maklik een van die wonderlikste tien minute van my lewe. Dit is regtig asof jy in ’n sweeftuig bo alles vlieg. Dit kos ¤15; groepe kry afslag.

Die les is so fantasties interaktief dat skoolkinders dit waarskynlik lank daarna nog sal onthou. Dit is ’n móét vir skoolgroepe.

A’dam Lookout self is net so ’n ervaring, want hier kan jy in alle rigtings 20 km ver oor die stad uitkyk.

Daarbenewens kan jy nog waaghalsig wees deur bo-oor die rand van die gebou te swaai op die hoogste swaai in Europa.

Dit was nie vir my nie, maar plaas dit gerus tweede op jou lys. Dit kos ¤12,50 vir volwassenes.

Om hier te kom, haal jy ’n gratis boot agter Amsterdam-Sentraal-stasie. Die rit duur sowat drie minute.

Meer oor:  Amsterdam  |  Toerisme  |  Kaas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.