Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Hier gaan jy bederf word

By die Shamwari-private wildtuin voel jy gou soos ’n ou vriend, skryf Jana Smit.

Die wildbewaarders ken die natuur soos die palm van hul hand.

Wanneer ’n mens uitklim by ’n vakansieoord en die personeel in netjiese uniforms jou inwag met warm lappies en stomende melkdrankies, dan weet jy, hier gaan jy bederf word.

Dis hoe dit is by die Shamwari- private wildtuin naby Paterson in die Oos-Kaap.

Oor die volgende twee dae speel hierdie toneel af elke keer wanneer ons terugkeer van ’n wildrit of uitstappie op die reservaat.

Ek verstaan maar alte goed waar Shamwari, wat “my vriend” in Shona beteken, sy naam vandaan kry. Elke personeellid is so gaaf en ingestel op jou behoeftes dat hulle later vir jou amper soos jou beste vriende voel.

’n Koedoe wat ons op een van die wildritte by Shamwari Bush Lodge gesien het. Foto: Jana Smit
’n Houtdek buite die gemeenskaplike kuierarea by Shamwari Lodge. Foto:
’n Kameelperd is een van die verskeie diere wat ons gesien het.Foto’s: jana smit

Tydens die twee wildritte wat ons per dag onderneem, is ons gelukkig genoeg om onder meer olifante, leeus, renosters, buffels, sebras, kameelperde en troppe bokke te sien. Die wildbewaarders het ’n groot kennis van elke dier en sy gewoontes. Ons kom selfs af op twee leeus wat paar. Hulle laat hulle egter nie deur die sowat ses pare oë op die wildritvoertuig afskrik nie.

Shamwari het ses lodges en een tentkamp, met 54 luukse suites en bied alles aan – van intieme troues tot belangrike herdenkings en mylpaalverjaardae.

Ek bly in Eagles Crag, ’n lodge tussen die rantjies met losstaande kamers wat met houtpaadjies aan mekaar verbind is. Elke kamer is in die bos versteek. My kamer het ’n ruim slaapvertrek, groot genoeg vir ’n koningingrootte bed, lessenaar én sitkamerbanke. Daar is ook ’n badkamer met ’n bad én stort. Die kamer loop uit op ’n dek en verhitte swembadjie – dit was baie aanloklik, maar ek was nie dapper genoeg om in die koue naglug te swem nie.

Saans is dit so stil dat jy die alleenheid van die bos ervaar. Ek val uitgeput, maar in vervoering oor die dag se ervarings in die bed en luister na die leeus en ander dieregeluide.

Die suite waarin ek gebly het.
Gesmoorde varkpens wat in appelsap gekook is, met geroosterde kapokwortelgroente, krakerige varkvet en spinasie.

Ons ontmoet met elke ete by die gemeenskaplike kuierarea en ná aandete is daar ’n groot kuiervuur waarom ons kan gesels.

Shamwari se eersteklas-kookkuns is sekerlik van die beste wat ek nog in Suid-Afrika geproe het. Die eerste aand eet ek geroosterde botterskorsie-en-ricotta-ravioli met ’n salie-en-okkerneutbottersous en gekrummelde Amaretti-beskuitjies bo-oor. Die gesmoorde varkpens wat in appelsap gekook is, met geroosterde kapokwortelgroente, krakerige varkvet en spinasie smelt in my mond. Vir nagereg kies ek die vanieljeroomys met espresso en beskuitjie wat in sjokolade gedoop is.

Die rustigheid van die wildtuin het so ’n invloed op my dat ek lukraak vir personeellede begin vra watter soort permanente werk daar vir ’n uitgeputte joernalis van die stad is.

  • Jana was ’n gas van die Shamwari- private wildtuin. ’n Nag in een van Eagles Crag se luukse suites kos R9 300 per persoon wat deel. Dit sluit alle etes, beperkte drankies en twee wildritte per dag in. Geen kinders onder 12 jaar. Suid-Afrikaners kry tot einde Augustus 30% afslag.
Meer oor:  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.