Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Rondrits:
Hier hóór jy stilte
Sy het nooit kon dink dat sy met ’n fiets sandduine kan aandurf nie, maar sy hét, skryf Terésa Coetzee. 

Een van die hoogste duine wat ons tydens die Fat-Bike-toer gery het, staan bekend as Die Piramide, en jy kan jou regmaak om bietjie te loop. Die uitsig maak dit wel die moeite werd. Foto: Gideon van Oudtshoorn
Die replika van die Dias-kruis. Foto: Terésa coetzee

My gesonde verstand het nog altyd geweet fietsry en sand is nie groot maats nie. En toe Gideon van Oudtshoorn my ’n tydjie gelede nooi om op een van sy Fat-Bike-toere by Kenton-on-Sea in die Oos-Kaap te gaan, het ek my maar stil-stil reggemaak vir harde werk op ’n vreemde fiets. 

’n Paar jaar gelede, met vakansie in Namibië, het ek soggens gereeld tussen Walvisbaai en Swakopmund gaan fietsry. Soms, wanneer ek noodgedwonge van die skouer af moes klim en op die sand moes ry, het dit kompleet gevoel of my ysterperdjie soos ’n steeks donkie daar op die sandwalle vassteek. Maar van die mooiste uitsigte oor die Namibiese landskap – sandduine wat soos ’n magtige bruin see uitgolf – kan net van die bopunt van die duine af beleef word, en om daar te kon kom, moes ons dit te voet uitbeur. 

As jy ooit in jou lewe ’n sandduin uitgeklim het, sal jy weet dat die sand letterlik jou voet met elke tree insluk. 

Ek het onlangs eers besef ’n mens hoef nie die heelpad Namibië toe te gaan om hierdie skoonheid te beleef nie. Ons eie land het van die grootste sandduine. Daar is kilometers en kilometers se sandduine in die Oos-Kaap waar jy vir dae aaneen kan “wegraak”. 

Maar ek het nie vir een oomblik gedink ek sal sandduine met ’n fiets kan ry nie – al is dit op ’n fiets met dikker wiele?.?.?.

Kenton-on-Sea is ’n pragtige klein vakansiedorpie aan die Sonskynkus, so 120 km wes van Port Elizabeth en 25 km vanaf Port Alfred. Dit vorm letterlik die poort na ’n massiewe duinstelsel waarvan min van ons Valies eintlik weet. 

Kenton-on-Sea is ’n pragtige klein vakansiedorpie aan die Sonskynkus, so 120 km wes van Port Elizabeth en 25 km vanaf Port Alfred. Dit vorm letterlik die poort na ’n massiewe duinstelsel waarvan min van ons Valies eintlik weet. 

Sonsopkoms by die Boesmansriviermond. Foto: Terésa coetzee
Gelukkig kon ons gereeld stop vir foto’s en ruskansies. Foto: Gideon van OUdtshoorn

Ons Fat-Bike-ekspedisie het die oggend vroeg by die Boesmansriviermond net buite Kenton begin. Terwyl die sonnetjie nog so lui-lui oor die horison begin loer het, was ek verbaas oor hoe maklik my dikwielfiets oor die sagte seesand ry.

Aanvanklik het ons ’n paar kilometers ver reg langs die see gery. Terwyl die oggendbries soos ’n koel asem oor jou uitblaas, raak jy meegevoer deur die branders wat hier reg langs jou breek.

Gideon het ons stelselmatig dieper in die duinlandskap begin inneem, en terwyl jy die duine een vir een van die kant af benader, kom jy nie regtig agter hoe steil en ver jy klim nie. En dan, skielik, besef jy dat jy omring is deur ’n vallei van sandduine, byna asof jy daardeur ingesluk is. 

Hierdie duinlandskap grens aan Alexandria se kusduineveld, die grootste in die Suidelike Halfrond. 

Ek is steeds verbaas dat ’n mens tot bo-op ’n sandduin met ’n fiets kan ry. Die meeste duine het ’n harde lagie sand bo-op en as jy dit teen die regte helling en spoed tref, is dit regtig nie so moeilik nie. En natuurlik is daar min dinge wat soveel pret is as om teen ’n massiewe sandduin af te ry. 

Ek is steeds verbaas dat ’n mens tot bo-op ’n sandduin met ’n fiets kan ry. Die meeste duine het ’n harde lagie sand bo-op en as jy dit teen die regte helling en spoed tref, is dit regtig nie so moeilik nie. En natuurlik is daar min dinge wat soveel pret is as om teen ’n massiewe sandduin af te ry. 

Kilometers en kilometers aaneen sien ’n mens ’n ongerepte landskap – nêrens is ’n gebou of strandhuis in sig nie. Nie eens ’n ander mens nie. 

Jy kan soms regtig die stilte hóór. 

Ons het tot by ’n replika van Dias se kruis op Kwaaihoek gery. Die oorspronklike kruis is in 1488 deur Bartolomeus Dias opgerig, maar eers in 1938 ontdek, en word by Wits gehou. Dit word beskou as Suid-Afrika se oudste monument.

Die volgende dag het ons in die Addo Nasionale Park begin ry en sommer gou is ons weer ingesluk deur die magtige duinlandskap. Dié keer was ek darem nie so oorweldig deur die hoë duine wat soos berge om jou uittroon nie. 

Van die hoogste sandduine ter wêreld kan hier gesien word en selfs op Google Maps kan ’n mens dit sien.

Omdat die strand totaal verlate is en min mense ooit daar kom, ry jy soms verby plate skulpe wat soos ’n kombers oor die sand gestrooi is. Die meeste is heel en ongeskonde en ’n mens moet oppas vir jou fietswiele.

In ’n stadium het ons op een van die hoogste duine stilgehou om asem te skep. Voor ons het ’n dik swart streep in die see verskyn. Toe ons mooi kyk, was dit sowat 250 dolfyne wat voor ons in die water baljaar – ’n gesig wat ek nooit sal vergeet nie. 

Nadat ons teen die heel hoogste duin, bekend as Die Piramide, uit is, het ons afgery in ’n enkelspoorpaadjie. 

Ons het strandlangs teruggery en die gelykpad op die harde sand was ’n welkome lafenis ná die harde werk in die duine. 

Hierdie toer is beslis nie vir onfikses bedoel nie – ná ’n oggend se trap in die duine weet jou lyf daarvan.

) Kontak: gvotours.com 

Gideon van Oudtshoorn in aksie. Foto: Terésa Coetzee

Bly hier

Tydens die toer het ek by The House Quarters gebly, in die hartjie van Kenton-on-Sea, en sal dit vir enigiemand aanbeveel. Die moderne ruim kamers is pragtig gemeubileer. Bedags het ek die massiewe glasdeure van die balkon oopgemaak om die vars seelug by die kamer te laat instroom. My kamer het ’n basiese kombuisie gehad, maar die hotel se restaurant bied heerlike etes teen billike pryse.

Meer oor:  Rondrits  |  Reis  |  Fiets
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.