Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Hier is elke oomblik salig dog feestelik

Op soek na die ideale wegbreekplek vir die hele gesin? Die Drakensberg Sun-oord in die hartjie van die dramatiese landskap van die Cathkinpiek- omgewing is net die plek waar jy weer ’n slag kan gaan asemskep en jou gedagtes kan rig.

Selfs in die hartjie van die winter is die omgewing mooi. Smiddae is daar ’n bootrit op die dammetjie voor die hotel. Foto: Terésa Coetzee

Boonop is daar hope aktiwiteite vir die kinders soos kersmakery, sandkuns, perdry en roei op die dammetjie naby die hotel terwyl Ma en Pa lekker in die kroegarea kan bingo speel of sommer net met ’n skemerkelkie ontspan.

Dit was laat Vrydagmiddag toe ons in die pad val en die verkeer uit Johannesburg was maar ’n langsame voortbeur tot anderkant Heidelberg.

Verken die omgewing vanuit ’n ander hoek. In die verte kan ’n mens die sneeukolle op die berge sien. Foto: Terésa Coetzee

Die Drakensberg Sun-oord is sowat 30 km anderkant Winterton, daar reg in die hartjie van die sentrale Drakensberge, en dit voel kompleet of jy omarm word deur die reusebergreeks.

In die Grotto Bar word bingo gespeel en sommer net voor die kaggel uitgespan. Foto: Terésa Coetzee

Selfs in die winter is hierdie omgewing beeldskoon en hou dit ’n baie spesiale bekoring in.

Met ons besoek laat Augustus het ’n spierwit sneeukombers oor die berge gevou en moes ons maar ons mussies en serpies byderhand hou.

Dit was lank ná 22:00 toe ons uiteindelik by die oord aankom en hoewel die restaurant toe al toe was, het die personeel spesiaal vir ons iets te ete warm gehou.

Die kinders het elkeen ’n heerlike pizza vars uit die pizzaoond gekry, iets wat met elke ete in die eetsaal beskikbaar is. Hierdie warm ontvangs was maar net die begin van ’n naweek van tipiese plattelandse gasvryheid.

Elke ete by die oord is ’n feestelikheid en in die Lakeview-restaurant is daar smiddae ’n buffet wat alles en nog wat insluit. Michael Pather, die hoofsjef, ken sy storie. Op die Lakeview-terras kan besoekers van die à la carte-spyskaart eet en daarop is forel wat jy eenvoudig móét probeer.

Dis in die Grotto Bar waar ons voor die kaggel gekuier en bingo gespeel het, en tussendeur was daar sommer ’n talentkompetisie onder die gaste wat vir heerlike agtermiddagvermaak gesorg het. Laatmiddag het almal voor die grootskermtelevisie gesit en die Springbokke luidkeels aangemoedig.

Elke ete by die Drakensberg Sun is ’n feestelikheid.

Die Drakensberg Sun is nie verniet as een van TripAdvisor se toptienhotelle vir gesinne in Suid-Afrika aangewys nie. Hier is voltydse kinderoppassers aan diens en dit is werklik ’n lushof vir kinders.

Loopafstand van die oord is Drakensberg Canopy Tours en perdryritte, en daar is ook goeie staproetes.

Nog een van die hoogtepunte die naweek was die vollyf­massering by die spa op die perseel en tot vandag toe glo ek my masseuse het helende hande gehad.

Die hotel het 78 kamers en ons hele gesin het sommer ’n kamer gedeel.

Die Sondagoggend het ons die wêreld te perd gaan verken – daar is min dinge wat jou so vredig en vry laat voel soos die egalige beweging agterop ’n perd se rug.

Besoek www.tsogosun.com/drakensberg-sun-resort vir meer inligting.

  • Coetzee en haar gesin het die Drakensberg Sun op uitnodiging besoek.
Meer oor:  Drakensberg Sun  |  Cathkinpiek  |  Vakansie  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.