Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Hier lééf stories oor die oseaan

Orhan Pamuk skryf in sy boek ‘The Museum of Innocence’ regte museums is plekke waar tyd in ruimte verander word. Die SA Seevisserye-museum op Laaiplek is een van daardie régte museums, skryf Maryke Roberts.

Singatwa Ntweka seël blikkies met die Metal Box 9DS bliknaatsluiter uit die 1950’s.

Die visserymuseum op Velddrif aan die Weskus huisves ’n gesnawelde walvisbek. Dis ongeveer 5 miljoen jaar oud. Maar dis net een van 620 ongelooflike artefakte in dié museum wat in Desember 2009 van sy oorspronklike tuiste op Houtbaai hierheen geskuif is.

Felicity Ströhfeldt, museumbestuurder, vertel die museum kyk na die visnywerheid van Suid-Afrika, met ’n groot fokus op die Weskus. Dis die enigste van sy soort in Afrika.

Hulle ontvang gedurig skenkings of items op bruikleen van mense van oor die land heen wat die uitstalling verder uitbrei. Nog ’n seldsame item is die kopervishoring wat uit die slawetydperk dateer. Felicity vertel vissmouse het daarop geblaas om die vangs te adverteer, terwyl hulle deur die Kaapse strate geloop het met hul viskruiwaens en later Skotse perdekarretjies.

Die museum het video’s en DVD’s oor die see en al sy skatte en onderhoude met vissermanne oor die lewe op die oseaan. Die modelle van visvangbote deur Jaco Louw laat menige kind lank vertoef. Hy neem die bote se oorspronklike bouplanne en pas dit aan. Jaco kies sy modelle van bote wat vergaan het of wat gesloop word as hulle in onbruik raak. Sy totale vloot is tans 23 skaalmodelle van vistreilers.

Jaco het op Gansbaai grootgeword en sy oupa was ’n skipper. Hy bou die modelle eintlik vir sy eie versameling, maar leen dit vir die museum. Hy het sy eerste boot op 13 saam met sy oupa gebou.

Jy kan selfs alles leer oor die walvisbedryf en hoe dié reusediere in hul honderde gevang, geslag en verwerk is vir allerhande bedrywe.

Daar is ook ’n berig oor die aanvang van die ansjovis-vangs by St. Helenabaai op 9 April 1964. Die Suid-Afrikaanse Visnywerheid en die Suid-Afrikaanse Visnywerheidsontwikkelingskorporasie het in 1963 ses ansjovisnette ingevoer en aan ses verskillende vismeelfabrieke toegeken om toetse te doen tydens die geslote sardynseisoen.

Die toetsresultate was baie onbevredigend en die nette moes aangepas word. Maar ná vele probeerslae sou dié datum die geskiedenisboeke haal as die dag toe een vangs 45 ton en die volgende dag 140 ton ansjovis ingebring het.

Hierdie fantastiese vangste is sedertdien gereeld geëwenaar, maar vandag is die vangste kleiner en meer sporadies, maar soms is daar nog die gelukkie van ’n sogenaamde bonusvangs, vertel Singatwa Ntweka, Felicity se regterhand.

Kos vir Geallieerdes word ’n groot bedryf

Een van die interessanthede wat jy daar leer, is dat die Tweede Wêreldoorlog vir hierdie streek groot welvaart gebring het.

Voor die oorlog was ’n vissermanslewe ’n sukkelbestaan omdat daar nie ’n groot mark was vir vis nie. Suid-Afrikaners het gerantsoeneer geleef. Die soldate moes kos kry en daar was duisende van hulle.

Van die etikette wat oor die dekades op ingelegde vis gebruik is.

Voor die oorlog het visfabrieke by Paternoster, Saldanha en Lambertsbaai kreef ingelê, maar omdat dit ’n luukse produk was, het die mark getuimel.

Ellie Silverman was ’n tinsmid van Letland en sou ’n groot naam in die inmaakbedryf word. Die Silvermans van Saldanha Bay Canning se fabrieke het daardie tyd begin eksperimenteer met ingelegde sardientjies en amper oornag het ’n sardientjie-koors die Weskus beetgepak. Skielik kon die fabrieke nie voorbly met blikkiesvis nie.

Die fabrieke op Velddrif het eers geopen toe die oorlog al vier jaar aan die gang was. Marine Products het in 1943 grond gekoop en toe die African Inshore Fisheries Development Corporation (AIF), maar dit het onmiddellik die ontploffing op Velddrif gebring: daar was ’n mark en afsetgebied. En die gemiddelde inkomste van 50 pond per jaar, word 50 pond per nag.

In die middel van die tweede vertrek in die museum staan ’n yslike groen Metal Box 9DS-model bliknaatsluiter. Dis van 1950 tot vroeg in die 1960’s gebruik om die oop kante van blikkies met deksels en bome te seël. Die Saldanha Bay Canning-groep het die masjien aan die museum geskenk, nadat dit deur Metal Box SA Bpk. gerestoureer is.

Vir R5 maak een van die museumpersoneel vir jou ’n blikkie toe as spaarbussie en plak ’n skelpienk Glenryck-etiket op. Ek vra vir Felicity oor dié etiket, wat nie meer op ons winkelrakke pryk nie. Felicity vertel: “Met Marine Products se stigting het een van die direkteure, Fred Chalmers (Jamie) Jameson, na al die voorgestelde name vir hul ingelegde sardientjies soos De Wetsvis en Fleurvis geluister, en toe gesê ‘nee, nie een van dié gaan werk nie. Dit sal Glenryck wees’. Dit was sy dogter, Glenda, en seun, Derryck, se name saamgevoeg.

“So, hierdie baie Afrikaanse gemeenskap met al die Afrikaanse vissermanne en mense wat in die fabrieke werk, kry toe die baie Skotse etiket.

“As Jameson gepraat het, het mense geluister. Vandag is die fabriek nou nie meer Marine Products nie, maar Oceana Fisheries bekend as Amawandle Pelagic en nou is Lucky Star die skoukind.”

Glenryck is deur die Namibiese maatskappy Bidfish oorgekoop en nou moet Felicity haar etikette vir die spaarbussies van Namibië kry om die aandenkingsbussies te maak.

Visse in oormaat

Een van Jaco Louw se skaalmodelle van ’n vistreiler. foto’s: Clifford Roberts

Een van die stories wat met foto’s geïllustreer word, is die dag toe Ben Thiart (Koggelman) by Dwarskersbos harders met ’n treknet wou gaan vang. ’n Fratsgolf het die harders laat skrik en teen die treknet vasgedryf. Ongeveer 60 ton vis is in die net gevang – 1 200 mandjies altesaam.

Teen die een muur vang my oog die berigte oor die jaarlikse galjoenbraai op Velddrif – wat nou iets van die verlede is – en net daaronder die Sassi-kennisgewingbord met die kolomme vir goeie keuses vis om te koop (groen), die vis waaroor jy twee maal moet dink (oranje) en dan die vis wat jy nooit mag koop nie (rooi). Die galjoen (Suid-Afrika se nasionale vis) val in laasgenoemde kolom.

Die museum is in De Villiersstraat by die ingang van die Laaiplek-hawe en van Dinsdag tot Vrydag van 10:00 tot 16:00 en Saterdag van 10:00 tot 13:00 oop. Toegang is R20 per persoon. Skakel 022 783 2531 of besoek www.safisheriesmuseum.co.za om aangepaste inperkingstye te bevestig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.