Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Hoe ry ons sing-sing so

Musiek is so deel van ’n langpadreis as stop vir piepie, hardgekookte padkoseiers en donkeroggend vertrek voor die kinders wakker is, meen Leon-Ben Lamprecht.

Moya en Ben Lamprecht by die Punt se getypoel in Mosselbaai, 2017.

‘Slêffiepankins!” laat hoor my dogtertjie, Moya. Ons gesinnetjie (toe nog van drie) is op pad Hartenbos toe vir Kersvakansie.

Ons sit iewers duskant Buffeljags se padstal se lekker roosterkoeke en Heidelberg se Wimpy-koffie agter ’n string motors met Jurgens-woonwaens vas. Ek bestuur.

“Hoe nou?” vra ek my vrou.

“Nee, ek weet nie,” sê sy.

Moya, toe so oor die twee, hou aan met “slêffiepankins”, maar wys nou na die radio.

“Ooooooo,” merk my vrou op. “Sy wil ’n liedjie hoor.”

Dit het langer gevat as wat ek wil erken vir ons om te besef wat sy wil hoor is “1979” deur die groep The Smashing Pumpkins. Ek het die liedjie kort voor ons vakansie vir Moya begin speel in die hoop dat ons minder na Ghoempie en Lollos en Barnie die dinosourus gaan luister as ons op die pad is. Volwassenes kan hul ore net so lank aan so iets blootstel voor dit begin grens aan marteling.

Maar weet jy, ek was so trots op haar, ek het amper trane in my oë gekry. ’n Regte, egte rock-song! Goed, weliswaar ’n akoestiese ene, maar ons beweeg in die regte rigting!

Dit is natuurlik tot bykans ’n uur later toe ek die radio uit die kar wou ruk en weggooi omdat ons in daai 60 minute nét na “slêffiepankins” geluister het.

Wat is daai van wense en versigtig wees?

BZN, Mixed Emotions en Innes&Franna

Dis natuurlik heel anders as my langpad­ervaring as kind. Ons was vier kinders saam met my ouers in die kar. Drie ouer susters, en dan ek, die laatlam. Hoe ons almal (met bagasie) in ’n Volkswagen Fox gepas het (sonder ’n waentjie!) is iets waaroor fisici nog vir dekades kan redekawel.

Ek stel dit duidelik dat ek óf op my ma óf een van my susters se skote gesit het óf meestal agter in die ruit gelê het. Dit was in die dae voor verpligte sitplekgordels. Ek was maar ’n woelige ryer, en daar was meermale ’n malteser ook in die kar. In die ruit het ek die minste skade gedoen. Dis nou toe ek nog daar kon inpas (wat ons daarna gedoen het, ontgaan my).

Ons het nog TDK-kassette geluister.

Wat ek wel met sekerheid kan sê, is dit het ongemaklik geraak, maak nie saak waar jy gesit het nie. Hel, as ek nou terugdink, het die sowat vyf uur se ry van Hartenbos, waar ons gebly het, na my tannie-hulle se plaas in Alexandria vir almal gegrens aan marteling (en dit sonder Lollos).

Dis maar 30 jaar gelede, maar dit voel soos ’n ander era: ons het nog op TDK-kassette geluister. Die tapes se magnetiese band sou onvermydelik iewers langs die pad deur die radio ingesluk word; iemand sou dit dan met die hand moes terugwen (gewoonlik my oudste suster).

Die band sou, ook onvermydelik, in die terugwen-proses iewers rek of frommel, en dan so elke dan en wan trekkerig speel. Die trekkery was natuurlik nie die einde van die wêreld nie.

Maar jy sien, ons seleksie was beperk: BZN, Mixed Emotions (die arm man se BZN), so bietjie Abba as jy gelukkig was en my suster Linkie se Mense soos jy-kasset van Innes en Franna Benadé. Een tape wat trek, en jou keuse van musiek word drasties minder, en almal se lonte as ’n gevolg al hoe korter.

Soos my pa egter uitwys – ons kan dêm gelukkig voel, want in sy dae was daar net radio om op te vang, mits daar ’n sein was. En dis as daar ’n radio in die kar was.

Een vakansie het ons met ’n skatkis vol nuwe kassette van my tannie af teruggery. Ons drie neefs het ons verras met Survivor se “Eye of the Tiger”, Starship se “We Built This City” en “Informer” van Snow. Sommige van die liedjies is van die radio opgeneem, en dan kon jy goed hoor soos “This is Algoa FM” en dies meer.

Later jare sou ons op ’n eklektiese mengsel van Steve Hofmeyr (in sy “My country is a ghetto”-dae), Indecent Obsession, Leon Schuster, Bon Jovi, Rina Hugo en vele ander die pad vat. Met soveel mense met soveel verskillende smake in ’n kar was die mengelmoes seker te verstane.

Op die speellys

Padmusiek is so ’n wonderlike ding. Want maak nie saak of jy deur die mooiste ry wat die Tuinroete te bied het, of die gestroopte skoonheid van die Karoo, ná ’n ruk raak almal gatvol, en wil almal heeltyd piepie, en niemand sit meer gemaklik nie.

Nes goeie padkos, haal dit jou uit die oomblik en ry-frustrasie. Dit laat jou net vir ’n rukkie vergeet dat jou bloedsomloop so afgesny is dat jy eintlik nie meer jou boude kan voel nie. Of dat jou linkervoet al van Plet af, 30 km terug, jeuk, maar dat Wollie die effen malteser daarop lê en jy durf hom nie skuif nie, want hy is so iesegrimmig nadat van sy tande getrek is, hy byt as jy vir hom kyk.

Lekker padmusiek laat die myle verbygly. Ekself is nog steeds mal oor ’n eklektiese mengsel: van ZZ Top se “La Grange” en Fokofpolisiekar se “Skynheilig”, deur tot by Kurt Darren se “Engel ek sal jou saamvat” en selfs Hillsong se gospelnommers. Maar my gunsteling-padliedjie bly “Stof” van Klopjag:

Die myle gly verby soos ons verder ry.

Ek word weer vaak,

maar ek’s besig om die kode van die langpad te kraak

En daar was stof op ons wiele

En die myle tussen jou en my

My gunsteling-padmusiek-storie betrek Jan Blohm. In die destydse Insig het die dramaturg Saartjie Botha met hom ’n onderhoud vir die tydskrif gedoen pas nadat sy debuutalbum, Melkstraat Confessions, in 2004 uitgereik is.

Ek parafraseer nou vir Saartjie, maar die storie loop so: Neffens Riversdal het sy heerlik na die album geluister, ter voorbereiding van die onderhoud.

“9 mm Blues” het haar heel in vervoering gehad, en haar voet het bietjie swaar geraak. Ongelukkig het ’n spietkop haar afgetrek. Sy verduidelik toe aan dié haar situasie, en speel vir hom die snit. Hyself raak so meegevoer dat hy haar met ’n waarskuwing laat gaan. As dank het sy vir hom die CD gegee. Jan het toe later vir haar ’n nuwe, getekende kopie gegee.

Musiek se habitat

Deesdae se padmusiek-ervarings is wêrelde verwyder van hoe dit was toe ek ’n kind was.

Toe moes jy sukkel met tapes. Deesdae stream jy alles, maar sukkel jy om ’n behoorlike 4G-sein te kry. Dis die era van on demand, so Moya kan nou enige tyd “slêffiepankins”, of wat ook al sy wil hoor, luister. Die snelle toegang lei tot nuwe bakleie: Sy en haar boetie Ben baklei nou wie kies wanneer watter musiek. Of my vrou raak moeg vir die punkrock wat ek wil luister, en smag na ’n bietjie country.

Dis nie sonder sy verliese nie. Bertie Coetzee, voorsanger van Zinkplaat en deesdae ’n Karooboer, het een keer jare terug teenoor my opgemerk hy meen ’n liedjie se natuurlike habitat is op ’n album. Daar waar die kunstenaar hom tussen ander liedjies geplant het om in ’n sinvolle geheel in te pas.

Dit is dalk so, maar die gerief van dienste soos Deezer en Spotify op die pad troef meestal die nostalgie. Buitendien, ek kan nog steeds die hele album by die huis gaan luister.

En weet jy, juis soos ek hierdie sit en skryf, luister ek na die genoemde “Stof”: “Terug op my stoep is dit die pad wat my weer roep.”

En ek besef nog ’n ding oor lékker padmusiek: dit wek die wanderlust in jou.

Meer oor:  Musiek  |  Langpadreis  |  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.