Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Hoera vir die jollie Baviaans!

Hang vas, mense . . . ons praat van die rivier, nie die kloof nie. Jip, daar’s ’n heel ander Baviaans om te gaan verken, maar hy lê heel ver in die wêreld.

Die Baviaans-bewaararea is voorwaar ’n pedaal-paradys, met hope 4x4-roetes, grondpaaie en gruispasse om per fiets aan te pak. Foto: Jacques Marais

Reg rondom jou is daar 360 grade drama wat teen die gesigseinder afspeel, met die Kagga- en Winterbergreeks wat asemrowende uitsigte oplewer om elke hoek en draai. Foto: Jacques Marais

Doer duskant Bedford – op die reguit-soos-’n-roerpad Kookhuis toe – kan jy miskien op ’n geroeste padteken afkom wat oos beduie na Tarkastad se kant toe. En sou jy besluit om hier af te draai en dié grondpad te pak, is jy in vir ’n moerse groot lekker.

Ek weet, want ek het hier in die Oos-Kaap se “Middellande” grootgeword (dit is hoe RSG se weerberig in daai jare na ons streek verwys het). Die man op die radio het gewoonlik heel bedeesd aangekondig dat dit “wolkloos en bloedig warm” sou wees, maar nieteenstaande moes ons as kinders tjoepstil sit tot my pa sy kop geknik het om vir ons te beduie die weerman is klaar.

Ons Marais-geboortegrond sluimer steeds daar op pad Tarkastad toe, sowat 30 km en vier enkellaan-bruggies met die stofpad langs.

Deesdae is daar ’n valhek met ’n kamera wat vir jou koekeloer, want die handjievol boere wat nog in “Die Wêllie” vasbyt, het besluit om die gebied in ’n bewaararea te omskep.

Bedford self het oor die laaste dekade ontluik as ’n blinkgepoetste dorpie met ’n teetuin, ’n grênd koffiewinkel en selfs ’n galery of twee. Hul jaarlikse tuinfees lok nou besoekers van heinde en verre, maar ek mis oorlede Oom Les se Kafee, waar ons Sondae ná kerk reusemelkskommels kon gaan drink (indien ons ons gedra het, natuurlik).

Hier is dosyne dinge om te doen, gaan loer gerus op www.bedford.co.za.

Koel ná die tyd af in ’n plaasdam – perfekte lafenis vir snikheet warm Oos-Kaapse somerdae. Foto: Jacques Marais

Die roete . . .

Het ysterperd; sal trap. Ja-nee, die Baviaans-bewaararea is voorwaar ’n pedaal-paradys, met hope 4x4-roetes, grondpaaie en gruispasse om per fiets aan te pak. (Meeste van die roetes kan ook met ’n 4x4 verken word, so jy hoef nie noodwendig jou lyf Ysterman te kom hou nie).

Hoe dit ook al sy; vat die pad oor Wienandsnek en verby Avondale, maar hou dit rustig, want die bruggies is nou en die draaie los en skerp. Glen Lynden se geskiedkundige kerkie word mooi deur die gemeenskap onderhou – talm so ’n rukkie hier, dis beslis tien minute van jou tyd werd.

Stofwolk verby Lynedoch se ou herehuis – waar groot geeste soos die prins van Wallis en Churchill glo oorgeslaap het – en gee gas oor die hoogte bokant Silverbrook se afdraai. Hier het ek tussen vlammende aalwyne en knoetsige drolpeerbome diep spore getrap, eers met ’n kettie en later met ’n windbuks aan my sy . . .

Kyk uit vir ’n monumentjie (so ’n kiertsregop ysterklip obeliskerige toring) net voordat jy Cameron’s Glen bereik. Dis hier waar Frederik Bezuidenhout deur pandoere in ’n klipskeur geskiet is, en sy dood was toe die vonk wat die 1815 Slagtersnek-rebellieingelui het.

Jacques Marais

Deesdae sit almal egter rondom dieselfde vuur, en dit is veral die Pringles – meesal van Skotse herkoms – wat bydra tot baie van die Baviaans se legendariese stories. Ernest en Anne Pringle huisves die grootste private versamelings voëleiers en skoenlappers in Suider-Afrika, so gaan maak gerus ’n draai op hul plaas, Huntly Glen.

Loer in by Eildon se klipkerkie of kuier by Crusader Safaris se puik lodge, maar weet dat jy weliswaar hier is om die berge in te vaar. Reg rondom jou is daar 360 grade drama wat teen die gesigseinder afspeel, met die Kagga- en Winterbergreeks wat asemrowende uitsigte oplewer om elke hoek en draai.

Hier lewe mens nog naby aan die aarde en sonder fieterjasies. Ons tyd was kort, maar lank genoeg vir die kinders om weer te kon leer hoe jy ’n properse plaashek oopmaak; om hanslammers bottel te gee; hoe jy jou tong moet rol as jy ’n skaapdrol die verste wil spoeg; en hoe om ’n vuur sonder Blitz te bou.

Ons het windpompe geklim, in plaasdamme vol paddaslyk geduik en soos mal hase in die reën gehol terwyl bliksemstrale die lug na kordietrook laat ruik het. En saans, wanneer dinge begin stil raak het om die vuur, kon jy hoor hoe die kese in die kranse kreun daar teenaan die beeldskone Baviaans.

Moete

Groot kanon

Gaan kuier op Skelmkloof en vra vir Francois Marais om sy buskruitkanon te demonstreer. Jy kan ook hul rowwe 4x4-roetes per fiets of motor aandurf; bel voordat jy die pad pak – 087 350 1769.

Van vlinders en eiers

Ernest Pringle is die redakteur van die wêreldbekende Pennington’s Butterflies of Southern Africa en is sonder weerga wanneer dit kom by enige insek wat kan vlieg. Hier gaan alle aspirant-entomoloë hulself heeltemal verloor – www.huntlyglen.co.za.

Maak biltong

Andrew Pringle word beskou as een van Suid-Afrika se top- professionele jagters. Met 800 0000 ha se jaggrond in die Baviaansrivier, Umkomaasvallei en Stormberge, skiet hy op die mees etiese manier moontlik. En ek moet bieg, daar’s maar min dinge so lekker soos ’n stukkie koedoebiltong uit die Baviaansrivier – www.crusadersafaris.com.

Waar is dit?

Bedford is presies 202 km vanaf Port Elizabeth geleë. Volg die N2 tot by Nanaga (beste vleispasteie in die Oos-Kaap!) en draai links op die N10 tot by Kookhuis. Draai 10 km verder regs op die R63 en ry vir 20 km tot in dié “Tuine van Eden”.


Meer oor:  Baviaanskloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.