
Steil trappe neem jou na die grotte by Pinnacle-punt waar mense 165 000 jaar gelede gewoon het.
Vakansievermaak hoef nie altyd ’n hoop geld te kos nie. Hier is ’n paar sakpasdinge wat jy aan die Tuinroete kan doen.

Die George-museum se gebou dateer uit 1811.
Gaan museum toe
Die gebou waarin in die George-museum aan die bokant van Yorkstraat gehuisves word, dateer uit 1811. Dit was eers die woonhuis van die eerste magistraat van George, Adriaan van Kervel.
Hier word gefokus op die houtbedryf waaromheen die dorp gedraai het. ’n Nuwe uitstalling vertel weer meer oor slawerny op die dorp.
Daar’s ook ’n kunsuitstalling. Op die oomblik is dit werke deur plaaslike kunstenaars wat die Ou Meesters namaak.
Die museum is Maandag tot Vrydag van 09:00 tot 15:00 oop en hulle vra net ’n donasie vir toegang. Skakel 044 873 5343 vir meer inligting.

Die Seevoël-en-pikkewyn-rehabilitasiesentrum.
Help die seevoëls
Die Seevoël-en-pikkewyn-rehabilitasiesentrum (Saprec) neem enige verplaaste of beseerde voëls in om hulle te rehabiliteer en weer vry te laat.
Jy kan die sentrum in Mossdustria, Mosselbaai, elke dag tussen 09:00 en 14:00 besoek, maar moet ’n afspraak maak deur 082 341 0582 te skakel. Jy kan ook hier meer uitvind oor hoe jy gedurende jou vakansie jou tyd kan gee om te help.
Toegang is R50 vir volwassenes en R30 vir kinders. Jy kan ook ’n donasie maak in die vorm van onder meer handdoeke, kabelbinders of tuintoerusting.

Dis nogal ’n eienaardige gevoel om agterop ’n kameel se rug te ry.
Op ’n kameel se rug
By Wilgewandel, 2 km vanaf die Kangogrotte by Oudtshoorn, kan jy ervaar hoe dit agterop ’n kameel se rug voel.
Hul dromedarisse is goed opgelei. Almal bo 13 jaar oud betaal R100, terwyl die jongeres R50 per rit betaal. Daar is ook gratis bergfiets- en veldwedloop-roetes, roeibote en waterglybane.
Besoek www.wilgewandel.co.za vir meer inligting.

’n Trekkerrit by die Outeniqua-gesinsmark.
Gaan ry op ’n trekker
By die Outeniqua-gesinsmark op George is daar elk Saterdag meer as 150 stalletjies met kos en allerlei mooi goed.
Vir die jongspan is daar trekker-, trapkar- en ponieritte, sandkuns en ’n groot speelplek.
Besoek www.outeniquafamilymarket.co.za vir meer inligting.
Leer oor die mensdom
Die Pinnacle-punt-grotte by Mosselbaai was 165 000 jaar gelede die tuiste van mense. Tydens ’n 90 minute lange toer na dié argeologiese plek leer jy meer oor hoe hulle geleef én oorleef het. Jy moet relatief fiks wees, want sowat 200 steil houttrappies neem jou na en van die grotte.
Dit kos R200 vir volwassenes, R100 vir kinders tussen 7 en 14 jaar oud en is gratis vir almal wat jonger is.

Pluk jou eie aarbeie by Redberry Farm.
Smul aan aarbeie
By Redberry Farm net buite George kan jy jou eie aarbeie pluk en eet. ’n Klein bakkie kos R25 en ’n grote R40.
Hier is ook die grootste permanente plantheining-labirint in die wêreld wat jy rustig kan probeer ontrafel teen R40.
Verder is daar ook ponieritte en ’n klein treintjie vir die kinders. Besoek www.redberryfarm.co.za vir meer.
Waterpret
By die Diaz-waterpark op Mosselbaai kan jy vir R100 nege keer by van die verskeie glybane afgaan. Daar is ook ’n verhitte swembad. Besoek www.diazwaterpark.co.za vir meer inligting.