Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
In Jan Smuts se voetspore

Die Oubaas-wandelpad kronkel tot op ’n ongerepte koppie in die hartjie van Gauteng. Alida Kieser het deur die veldblomme gestap.

Die Smutshuis-museum gee jou ’n blik op die geskiedenis. Foto’s: Alida Kieser

Ons draai vroegoggend net buite Irene af op die pad langs die treinspoor en ry oor die klipbruggie na die Smutshuismuseum se hek. By die trappies hou ’n reuse-magnoliaboom wag. ’n Bordjie onder die boom kondig aan: “Die saad waarvan hierdie magnoliaboom gegroei het, is in 1911 van Rome deur Emily Hobhouse gestuur.”

Smutshuis met sy hoë dak, sinkmure en langwerpige stoep, staan in ’n natuurlike park van inheemse bome en struike wat deur genl. Jannie Smuts self geplant is. Hy was passievol oor plantkunde en sy liefde vir die natuur is oral sigbaar op die werf.

Die huis was oorspronklik die Britse offisiersmenasie in Middelburg, Transvaal. Genl. Smuts het die huis vir 300 pond gekoop en die los panele is met heelwat moeite per trein en ossewa na die plaas vervoer. Die gesin het in 1909 hier op Doornkloof ingetrek.

Jan en Isie Smuts is albei in die huis dood, hy in 1950 en sy in 1952.

Klipgebou ter nagedagtenis van Guy Ashley Brathwaite.

Sit stil

’n Mens kan die huis se binnekant verken teenR50 vir volwassenes en R30 vir kinders, maar ons is hier om ’n roetekaart te kry vir die Oubaas-wandelroete. Dis gratis om die roete te stap.

Die kronkelende wandelpaadjie neem jou verby die huis, deur rye bloekombome tot by die Plek van Stilte. Dié klipgeboutjie is opgerig ter nagedagtenis van Guy Ashley Brathwaite, stigter van die Generaal Smuts-stigting wat die Smutshuis inderwaarheid “gered” het toe dit in 1960 toegewys is om ’n sanatorium vir siekes te word. Hy het toe ’n ontmoeting met Kitty Smuts, genl. Smuts se skoondogter, gereël en die 25 morg (21 ha) vir 7 000 pond gekoop.

Hier kan jy op ’n bankie sit en die rustigheid van die omgewing ervaar. Jy kan dit ook huur as kapel vir jou troue.

Ruik aan die bobbejaanstert se blommetjies.
Kyk uit vir die waaierblare van die kopseerblom wat destyds as boereraat ingespan is. Foto:
Kyk uit vir die waaierblare van die kopseerblom.

Kyk mooi, jy sal lewe sien

Die Oubaas-wandelroete begin in alle erns ná die Plek van Stilte. Die 2,4 km-sirkelroete is ontwerp en uitgelê deur die Vriende van die Generaal Smuts-stigting. Jy stap sowat 1 km tot by die koppie, waarna daar ’n kort opdraande is tot bo. Dit is ’n kort, maklike stappie. ’n Sonhoed en waterbottel is al wat nodig is.

Die roete is ’n klipperige paadjie met pragtige veldblomme en verskillende grasse. Die skerp kwartsiet en dolomiet vorm ruwe kliprante; omring met lang, waaiende Hoëveldgras. Op party plekke is daar groot klippe om op te sit en op ander plekke lok die koelteboompies ons nader.

Ons volg die wit pyle al met die grondpaadjie langs. Die roete eindig op Smutskoppie, waar ’n gedenknaald opgerig is ter nagedagtenis van die Smuts-familie. Genl. Smuts, Isie en ander familielede se as is hier gestrooi.

Volgens oorlewering het hy elke dag op die koppie kom peins. Ek begryp hoekom. Op ’n hoogte van 1 464 m bo seevlak bied die koppie ’n asemrowende uitsig oor die omliggende dele van Doornkloof. Dis hier, op die bankie onder die boom, waar hy weer moed kon skep.

Die Smutskoppie se grasveld is uniek omdat dit op die klipperige dolomietkoppies tussen die Witwatersrand-bakenveld en die Bosveld groei. Dit lyk asof dit net vaal blokkies veld is sonder enige teken van lewe, maar hoe langer ons kyk, hoe meer sien ons raak. Albei biome se plant- en inseklewe word hier gevind. Die grasse is seisoenaal en bied ’n veilige hawe vir spesies wat in die digte polle oorleef, soos voëls en insekte. Grasveld­voëls is gewoonlik vaal en maak nes op die grond. Hier is lewerike, korhane, tarentale en kiewiete. ’n Paar bokkies is ook al op die aangrensende grasvlaktes opgemerk.

Smutskoppie is ook die habitat van die bedreigde kewer Ichnestoma stobbiai. Die wyfie van hierdie spesie kan nie vlieg nie. Die kewer het ’n baie kort lewensiklus en die mannetjie is net vir ’n paar dae aktief ná die eerste lentereën. Hulle is koperkleurig, omtrent 1 cm lank. Ons sal moet terugkom om die kewers te soek, want dit is nou herfs, op pad na winter.

Maar gaan dit alles net oor gras? Nee! Die kort staproete bied veel meer.

’n Groot verskeidenheid van ander, nie-grasagtige plante is volop in die habitat. Daar word beweer dat soveel as ses uit elke tien plante in die area nie grasse is nie, maar seisoenale plante wat ontkiem uit ondergrondse bolle en knolle.

Ons verkyk ons aan die wye waaiers van die Boophone disticha, ook genoem gifbol of kopseerblom, wat jare gelede vir medisinale doeleindes gebruik is.

Die Xerophyta retinervis, ook bekend as bobbejaanstert, mislei ons, want die stam is in werklikheid ’n bogrondse wortelstelsel omring deur ’n isolerende laag van oorblywende blaarbasisse. Die lieflike ligpers blomme het ’n heerlike aroma. Ek sit plat op die grond en verkyk my aan die trosse blomme.

Die rotsagtige koppie bied ’n veilige hawe vir ’n verskeidenheid plantsoorte wat in uiterste omstandighede oorleef. ’n Plant wat vir ons jonk lyk, se wortelstelsel kan oor die 30 jaar oud wees. Die klipskeure bied beskerming aan die wortelstelsels tot dit sterk genoeg is om ’n volwasse plant te ondersteun.

Die ander families van Doornkloof

Op pad terug stap ons verby die aangeplante boomtuin. Al die inheemse bome en struike word in grasvelde aangetref. Die plante lok verskeie voëls en skoenlappers. Langs die boomtuin is daar oorblyfsels van ’n fassinerende stukkie geskiedenis.

Die Smuts-familie was nie die eerste inwoners van die plaas nie. In 1908 was daar alreeds 12 bywoner-gesinne op die plaas. Die mense het daar gebly en het eers baie jare later getrek. Tekens van die bywonershuisies is steeds sigbaar en ’n paar van die grafte is reeds geïdentifiseer.

Ons sluit die stap af met ’n koue koeldrank onder die groot bome by die teetuin.

Oom Jannie Smuts was heeltemal reg toe hy geskryf het: “Al my wonde is heel, my pyne is weg, en ek voel amper weergebore in hierdie atmosfeer van vrede en liefdevolle barmhartigheid . . . daar is geen vrede hierdie kant van die graf soos die vrede van Doornkloof.”

Gesinne, natuurliefhebbers, stappers en plantkundiges sal die rustigheid en die biodiversiteit van hierdie wandelroete waardeer.

Meer oor:  Oubaas-Wandelpad  |  Gauteng  |  Koppie  |  Veldblomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.