Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Interessante feite oor Sederberg se diverse plantegroei

Jy is dalk bewus van die verskillende soorte plantegroei in ander dele van die land, maar ken nie altyd die regte name of weet hoekom sekere plante net in spesifieke streke groei nie. Tasneem van Rooyen het met ’n kenner hieroor gesels.

Die gewilde fynbos-plantegroei kom voor waar die reënval 400 mm per jaar oorskry. Foto: Belinda Jackson

Vier algemene soorte plantegroei wat in die Clanwilliam-distrik voorkom is fynbos, Karooveld, renosterveld en strandveld.

Daar is ’n groot verskeidenheid weens die tipografie, reënval en grondsoorte.

Die Sederberge lê in dié distrik en oos van die Sederberge lê die Tankwa-Karoo en die Groot-Karoo. Wes van die Sederberge lê die Olifantsriviervallei en Sandveld wat strek na die see met sy strandveld. Na die suide strek die gebied na die Kouebokkeveldberge van Ceres en Tulbagh. Die plantegroei is dus aangepas vir die omgewing waarin hulle bestaan.

Anne Paterson, botanis van die Twaktuin-boerdery net buite Clanwilliam, vertel ons meer.

Fynbos

Fynbos is ingeperk tot grond soortgelyk aan Tafelberg-sandsteen en kom voor in streke waar die reënval 400 mm per jaar oorskry.

Dit word uitgeken aan die volgende plant-families:

  • Restionaceae, wat behoort aan die Kaapse riet-familie en wat die gras-komponent vervang in grond met min voedingstowwe.
  • ’n Heide-komponent (Ericaceae) en
  • n Proteacae-komponent wat bestaan uit proteas, knopbos (leucodendrons), speldekussings (leucospermums) en serruria.

Die sandveld, wat byvoorbeeld wes van die Olifantsrivierberge lê en Nardouwsberg, is tipiese droë fynbosplantegroei waar die reënval minder is. Fynbos het ook aangepas by vuur wat ’n verwoester sowel as ’n hervormer van plantegroei is.

Vetplante floreer hoofsaaklik in gebiede wat min reën kry. Foto: Lizelle van Jaarsveld

Renosterveld

Renosterveld het ’n baie laer diversiteit van plantsoorte as fynbos, en kom voor in kleigrond in die Sederberge en Bokkeveld-formasies.

Hierdie grond is baie meer vrugbaar as die suur sandsteengrond en reënval is meer as 300 mm per jaar.

In die Clanwilliam-distrik word renosterveld dikwels omring deur fynbos en Karoo-veld. In Nieuwoudtville en die Olifantsriviervallei kom renosterveld met al sy verskeidenheid bolplante en orgideë voor. Nieuwoudtville staan bekend as die bolplant-Mekka van die wêreld.

Karooveld

Dié plantegroei kom hoofsaaklik voor in gebiede waar daar ’n lae winterreënval van 100 tot 290 mm per jaar is en waar dit vreeslik droog en warm is tydens die somer.

Karoo-vetplante groei veral in klei- en sanderige grond. Foto: Lizelle van Jaarsveld

“Karoo” is afkomstig van die Khoi-woord wat “droë plek” beteken. Dié plante groei in sanderige sowel kleierige grond.

Dit bestaan hoofsaaklik uit Karoo-bossies met klein blaartjies en diep wortels en vygies (Aizoaceae), melkbos (Euphorbias) en plakkies (Crassulaceae).

Sommige uintjies (raaptol en tjienks) asook jaarlikse madeliefies (Asteraceae) vorm ook ’n groot komponent.

Laagland Vetplant-Karoo-plantegroei kom voor in valleie oos van die Sederberge soos Biedouw en gedeeltes noord van die Olifantsriviervallei asook die Knersvlakte.

Strandveld

Dié kus-plantegroeistreek kry 200 tot 300 mm reënval in die winter. Die grond is relatief ryk aan minerale met ’n hoë konsentrasie van kalsium wat medium-digte bosland ondersteun met die ysplant-familie van Aizoaceae, melbos en jaarlikse madeliefies.

Hulle brand slegs elke 50 tot 200 jaar, wat beteken dat hulle die minste vatbaar is vir vuur.

Meer oor:  Sederberg  |  Namakwaland  |  Reis  |  Blomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.