Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Johan Badenhorst: Madagaskar - 'n wêreld op sy eie

Johan Badenhorst, die aanbieder en vervaardiger van die Voetspore-televisiereekse, voor die Laning van Kremetarte in die suide van Madagaskar.Foto’s: Gideon du Preez Swart
In afsondering het Madagaskar se mense, diere, plante en landskappe ontwikkel tot iets eiesoortig en uitsonderlik, skryf Johan Badenhorst.

Madagaskar, ’n eiland in die Indiese Oseaan, het meer as 160 miljoen jaar gelede tydens die verbrokkeling van die superkontinent Gon­dwanaland verwyderd geraak van Afrika. Só in isolasie het die fauna en flora totaal uniek ontwikkel.

Op Madagaskar is geen giftige slange nie, die grootste en kleinste verkleurmannetjies wat bestaan kom hier voor, daar groei ses van die wêreld se agt kremetartspesies, en die eiland se wêreldberoemde primate, die vosape of lemurs, is endemies in Madagaskar. Boonop is daar nog die tsingy, die vlieënde vosse, vleisvretende blomme, ruggraatagtige plante ...

Johan het van naderby kennis gemaak met lemurs.

Alles is vreemd

Om te reis is altyd ’n ontdekkingstog. Jy beleef nuwe dinge, ontmoet mense, sien ander landskappe en soms vreemde diere en plante, ervaar eiesoortige kulture en godsdienste, proe ’n ander cuisine. Maar op meeste plekke in die wêreld is daar altyd iets bekend. Iets wat jou herinner aan ’n plek waar jy voorheen was. Iets wat jou dalk laat dink aan die huis. Net nie in Madagaskar nie. Dis asof alles op die eiland vreemd en anders is.

Meeste Suid-Afrikaners se kennis van Madagaskar is beperk tot ’n landmassa wat jy waarneem uit die lug op jou vlug na Mauritius of een van die ander Indiese Oseaan-eilande. Dis asof ons die eiland net van ’n afstand betrag. Sou jy wel die eiland besoek, is dit moontlik die gewilde Nosy Be, vakansieparadys op Madagaskar, of moontlik ’n besoek aan die hoofstad, Antananarivo. Dit gee aan jou ’n indruk van Madagaskar, maar is baie ver van die voltooide prentjie.

Min mense kry die geleentheid om die hele eiland te verken. Weinig om dit met hul eie vervoer, eie reisbeplanning en eie agenda te doen. Met ons besoek om ’n TV-reeks vir Voetspore te maak, moes ons spesiale toestemming kry van die ministers van vervoer en toerisme. Voetspore-Cruisers is regterhandstuur, en slegs linkerhandstuur-voertuie word op die eiland toegelaat. Suid-Afrika se ambassa­deur op die eilandstaat, Gert Grobler, was was behulpsaam om al die magtigings te kry. En so kon die Voetspore-wiele begin rol aan die ooskus se hawestad, Tamatave. ’n Reis van meer as 9 000 km begin in die land met sy dorpe en stede met bykans onuitspreeklike name.

Daar’s verskeie lemurspesies wat net op die eiland van Madagaskar voorkom. Foto:

Eiesoortige gediertes

Madagaskar is nie ’n eiland waar rondom jy ry nie. Jy ry heen en weer en oorkruis.

Van Tamatave is dit noord met die Route National 5 (RN5), een van die mees ikoniese 4x4-roetes ter wêreld, tot by Mananara Nord.

Daarna is dit weer terug suid om via Tamatave, Antananarivo en Mahajanga aan die weskus, te reis na Diego Suarez, die noordelikste punt van die eiland. Van daar is dit weer met dieselfde roete suid, weer eens oor die hoofstad, na die suide.

Die topografie van die eiland bemoeilik ’n roete. In die noorde word die jaarlikse reënval in meters gemeet. In die suide is dit ’n woestyn.

Ons eerste drie dae op die eiland het ons slegs 200 km afgelê op die uitdagende 4x4-roete wat dien as ’n nasionale pad. By Mananara Nord, op ’n eiland in die Mananararivier, sien ons die skugter nagdier die aai-aai, een van Madagaskar se lemurspesies. Volgens sommige mense die lelikste dier op die planeet! Vir ons is dit net ’n bekendstelling van wat kom.

Daar’s ook die sifaka-, bamboes- en indri-lemurs, kameelperdnek-kalanders, blaarstert-akkedisse, luislange, paddas, naguiltjies . . . elkeen endemies en uniek.

Elke dier se wetenskaplike naam begin met Madagascar en in die Andasibe Nasionale Park kom besoekers sommer baie naby aan hulle.

Aan die weskus, met die reis noord, is daar die uitsonderlike Ankarafantsika-bewaringsgebied. Madagaskar se nasionale parke besoek mens te voet. So sien jy lemurs, verkleurmannetjies, blaarluise, akkedisse en spinnekoppe. Die eiland se gevaarlikste dier is die fossa, ’n hondagtige roofdier, maar die is maar sku en vermy mense.

Kan jy die blaarstert-akkedis sien?

Uitsonderlike landskappe

Onderweg, op die roetes noord en suid, is daar talle grafte waarom mure gebou is. Dis versier met skilderye en tekeninge wat die afgestorwene se drome illustreer. Daar’s skamelgeklede, dansende vroue, Mercedes-Benz-vragmotors, vliegtuie, groot troppe beeste . . . alles as weerspieëling van wie die mens was, of wou wees.

Die noordelikste dorp is Diego Suarez. Dié dorp, geleë aan die tweede grootste baai ter wêreld, het aan verskeie vlootskepe beskerming gebied tydens verskillende oorloë. Massiewe kanonne by die bek van die baai, asook die strategies geplaaste fort by Windsor Castle, is getuienis van hierdie plek se strategiese belang.

Vanaf Diego Suarez, ook genoem Antisiranana, want in Madagaskar het meeste dorpe en stede twee name, is dit met dieselfde roete terug, suid.

Naby die kusdorp Morondava is die Tsingy de Bemaraha-reservaat, met sy unieke Malgassiese tipografie. Om dit te bereik, moet jy die yslike Tsiribihinarivier met ? veerboot kruis. Veerbootkruisings is algemeen in Madagaskar. Die riviere is eenvoudig te breed vir die infrastruktuur om brûe te bou. Gedurende ons besoek van drie maande het ons meer as 30 veerbootkruisings gedoen.

Die petit- en grand tsingy is ’n netwerk van grotte onder ? plafon van kwartsiet en kalksteen. Bo-op is die dramatiese kalksteennaalde, so skerp dit sal jou voete oopkloof as jy kaalvoet daaroor loop. Die tsingy is rotsformasies wat “opgestaan” het uit die see, en toe tydens vulkanies uitbarstings deur suurreën weggevreet is tot dié vlymskerp rotswoud.

Selfs Madagaskar se bosreuse lyk anders as op die Afrika-vasteland. Foto:

Die Laning van Kremetarte by Morondava is ’n roete wat loop tussen die reuse van die Malgassiese vlaktes waar hulle uittroon tussen die ryslanderye. Dis ’n prentjie wat jy nêrens anders in die wêreld kry nie.

Die suide is ongebaande weë. Dis ook waarskynlik die interessantste deel van die eiland, waar die plant- en dierspesies, ook hier in eensame afsondering, werklik vreemd is.

By Andavadoaka is ’n uitsonderlike kremetartwoud.

Dié bome is kleiner as die in die sentrale en noordelike deel van die eiland. Hulle het knoetse en kort, koddige stamme en takke. In die halfwoestyn het ’n unieke plantegroei van geraamtewoude en seekatbome ontwikkel. Ook vleisetende blomme.

Naby die pragtige vissersdorpie Lavanono is ’n mini-woestyn met sandduine soos in die Namib. Dis naby die suidelikste punt van die eiland, die windverwaaide Cap Sainte Marie, geleë in ’n bewaringsgebied vir skilpaaie wat ook endemies is aan die eiland.

Die kameelperdnek-kalander is eiesoortig aan Madagaskar.

Die olifantvoël

Om die draai van Cap Sainte Marie is die barre Faux Cap, waar jy eierdoppe van die uitgestorwe olifantvoël op die strand vind. Dis een van die grootste voëls wat daar nog ooit op aarde was. Soos ’n reuse-volstruis. Rekonstruksie van die eiers met die eierdop-fragmente toon ’n peervormige eier, bietjie groter as ’n rugbybal.

Vanaf Faux Cap loop die roete noord via Manafiafy na Vangaindrano. Nie minder nie as tien veerbootkruisings word op dié roete, die RN12, gedoen.

Net noord van die dorp Manakara begin die Pangalanes. Dis ’n natuurlike kanaal aan die kus, net agter die eerste duin, wat sowat 600 km ver loop vanaf Farafangana tot duskant Tamatave.

Wanneer daar ’n storm op see woed, wat skeepvaart bemoeilik, is die Pangalanes steeds toeganklik vir waterverkeer. Plek-plek moet die kanaal gebagger word, maar dit is ’n natuurlike kanaal, geskik vir skeepvaart.

Die tsingy is rotsformasies wat “opgestaan” het uit die oseaan, en toe tydens vulkaniese uitbarstings deur suurreën weggevreet is tot dié vlymskerp rotswoud.
Verfwerk op grafte illustreer die gestorwene se lewensdrome.
Verfwerk op grafte illustreer die gestorwene se lewensdrome. Foto:

Die menslike vermoëns

En net so uniek as die diere en plante, is die mense van die eiland. Dit sou ons duidelik waarneem tydens ’n staptog na die uitsonderlike Sakaivo Nord in die Zafimaniry-streek. Geen voertuig was nog op die dorp nie. In afsondering het die mense hul eie houtwerktegnieke geskep en ontwikkel. Oor geslagte heen is daar met palissanderhout geboue opgerig sonder skroewe of spykers. Unieke tapwerk hou die geboue aan mekaar, sodat dit selfs die siklone wat die eiland gereeld tref, kan weerstaan.

Die mense van Madagaskar, dié aan die westekant afkomstig van Afrika, en dié van die ooste met hul oorsprong in Indonesië, het ’n eiesoortige nasie met ’n vreemde, interessante taal, Malgassies, tot stand gebring. So ook is die gebruike en tradisies.

Kom jy ’n begrafnisstoet tee, is dit vreemd om te sien dat die mense vrolik is en sing en dans. Baie mense se beendere word ná ’n jaar of vyf weer opgegrawe, bietjie lug gegee, geskommel en met rum bedruip, dan weer begrawe in ’n beendere-houer.

Buitelanders is ook nie altyd bewus van die fady nie.

Dit is wat taboe is en wat deur bonatuurlike kragte beheer word. Dis soos om nie met jou wysvinger in ’n rigting te wys nie, maar met die oop hand of ’n krom vinger, vir verwagtende vroue om nie paling te eet nie, dat ’n pasgebore baba nie as lelik beskryf mag word nie, dat mens nie rooi op ’n begrafnis mag dra nie . . .

Van vreemdelinge word daar in Madagaskar verwag om die fady te eerbiedig.

Afsondering bring interessante gedrag en evolusie mee.

Die staat van inperking sal by ons nie dieselfde dramatiese verandering teweeg bring soos wat ons op Madagaskar gesien het nie, maar tog moet dit nie vir ons vreemd wees as baie dinge in die toekoms anders is nie.

Afsondering bring vreemde, unieke gevolge.

Op die kassie

Voetspore in Madagaskar se volgende episode wys vanaand om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.