Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Kaapstad vanjaar wêreld se beste plek vir feeste
Dan Plato (middel), uitvoerende burgemeester van Kaapstad, Woensdagaand by die aanskakeling van die stad se Kersfeesliggies. Foto: Jaco Marais

Kaapstad se Kersfeesliggies is Woensdagaand amptelik aangeskakel in ’n geleentheid wat aanlyn uitgesaai is.

Dan Plato, uitvoerende burgemeester van die Kaapstad-metro, het terselfdertyd gesê Kaapstad is aangewys as die wêreld se toonaangewendste bestemming vir feeste en geleenthede in vanjaar se World Travel Awards. Kaapstad het dié eerbewys ook in 2018 ontvang.

Kaapstad het vanjaar te staan gekom teen Barcelona in Spanje, Danang in Viëtnam, Dubai in die Verenigde Arabiese Emirate, Glasgow in Skotland, Guayaquil in Ecuador, Londen in Engeland, Moskou in Rusland, Rio de Janeiro in Brasilië, Santiago in Chili, Singapoer en Sydney in Australië.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid van die Kaapstad-metro (in die middel met die masker) by die aanskakeling van die Kersfeesliggies in Kaapstad.

“Dit is groot mededingers met uitstekende prestasies. Dat Kaapstad in ’n jaar van die koronaviruspandemie as die toonaangewende bestemming vir feeste en geleenthede aangewys word, is ’n illustrasie van die diverse aanbiedings wat die stad aan die wêreld kan bied,” sê Plato.

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, Woensdagaand toe die Kersfeesliggies in Kaapstad aangeskakel is. Foto: Jaco Marais

“Dit sou wonderlik gewees het as ons hierdie eer kon deel met die tienduisende mense wat normaalweg in Darling- en Adderleystraat die jaarlikse konsert vir die aanskakeling van die feesliggies kom bywoon, maar weens koronavirusregulasies kan ons nie ’n gratis opelugkonsert aanbied nie.”

Plaaslike kunstenaars, insluitend die Ghoema-entertainers, die Carnival Dancers en die Delft Big Band het opgetree op die virtuele geleentheid Woensdagaand.

Benewens gevestigde jaarlikse geleenthede kon Kaapstad luidens die verklaring vanjaar nuwe byeenkomste lok, waaronder die Afrika-Netbalbekertoernooi, die TP52 Super-reeks, die Mej. SA-kompetisie en die eenmalige wedstryd in Afrika tussen Roger Federer en Rafael Nadal.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, het die organiseerders bedank wat Kaapstad kies om die gasheer vir hierdie geleenthede te wees.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, het die organiseerders bedank wat Kaapstad kies om die gasheer vir hierdie geleenthede te wees.

“Die metro is daartoe verbind om in moeilike tye met hulle saam te werk om maniere te vind waarop ons kan voortgaan om geleenthede in ’n veilige omgewing aan te bied en die werk van die duisende mense wat op die bedryf staatmaak, te beskerm,” het Smith gesê.

“In ’n jaar waarin van ons grootste gebeurtenisse gekanselleer is en in ’n tyd waarin ons nie ons talent regtig kon uitstal nie, is dit wonderlik om te weet dat mense wêreldwyd met vertroue vir Kaapstad gestem het,” sê Enver Duminy, uitvoerende hoof van Kaapstad Toerisme, in ’n verklaring.

Kaapstad se Kersfeesliggies. Foto: Jaco Marais

Duminy sê hierdie bedryf is so ’n belangrike deel van die plaaslike ekonomie en hulle is vasbeslote om ’n toonaangewende bestemming te bly.

“Ons is toegewyd om die reëls na te kom om die verspreiding van die koronavirus te beperk en om die veiligheid van diegene te verseker wat byeenkomste in die stad bywoon. Ons moenie net die beste bestemming wees om ’n byeenkoms aan te bied nie, maar ook die veiligste en beste bestuur ten opsigte van die koronavirus aanbied.”

Die Kaapstad-metro wens in die verklaring ook die Kaapstadse Lughawe en Tafelberg geluk vir hul aanwysing as onderskeidelik Afrika se voorste lughawe en Afrika se voorste toeristeattraksie in 2020.

Meer oor:  Kaapstad  |  Geleenthede  |  Feeste  |  Koronavirus  |  Kersliggies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.