Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Kasbas en sagte duine

’n Magiese toer deur die Sahara in Marokko neem jou van woestynkampe tussen die duine tot die kranse van die Atlas-berge, skryf Annica Van Rensburg.

Annica in die tradisionele Berber-rok wat die kampgids Abdoellah vir haar gegee het. Foto’s: Annica en Johan van Rensburg
Momo, die plaaslike Berber-gids wat die groep op reis geneem het. Foto’s: Annica en Johan van Rensburg

Met enige buitelandse besoek is dit altyd goed om vooraf op te lees oor die kultuur en om ’n paar woorde in die plaaslike taal te leer.

Die meerderheid mense in die Merzoega-omgewing is Berbers. Hulle praat ook Marokkaanse Arabies.

Wanneer ons in Arabies dankie (sjoekran) gesê het, is ons dadelik vriendelik reggehelp. In die Berber-taal is dankie tanameer.

Die Berber-taal is verwant aan die taal van ou Egipte. Die Berbers is van die voor-Arabiese inwoners in die omgewing en daar is ’n mate van vyandigheid jeens die Arabiese mense. Die Berbers probeer te midde van die moderne era hul tradisies en taal beskerm.

Die tente tussen die duine in ’n woestynkamp in die Sahara.Foto:
’n Kafeeftjie langs die pad in die Atlas-berge.Foto:
’n Restaurant langs die pad in Marokko.Foto:
Die dakke van Medina in Marrakesj.

Dit is ook makliker om in Spaans of Frans in Marokko oor die weg te kom as in Engels.

Daar is nie direkte vlugte tussen Suid-Afrika en Marokko nie. Reisigers kan na Casablanca vlieg via onder meer Kaïro, Dubai en Parys. Retoervlugte kos vanaf R9 200 per persoon.

Om te reis is nie net om van punt A na punt B te beweeg nie. Dit is ook die wisselwerking met die mense langs die pad, om stil te hou wanneer iets jou oog vang en om die kos te proe.

So het vier van ons in ’n gehuurde motor vir tien dae uit Casablanca deur Marokko gereis. Ons het aan die noordekant van die Atlasgebergte na Merzoega gery, deur die Saharawoestyn en weer oor die hoë Atlas deur die Dadèsvallei na Marrakesj, voordat ons na Casablanca teruggekeer het om huis toe te vlieg.

Oral langs die pad deur die klein dorpies is straatkafees waar mans sit en tee drink. Op almal se spyskaart is tee, koffie, vars lemoensap en heerlike, varsgebakte msemen (tradisionele vierkantige pannekoeke).

Die tente waarin die Berbers in die woestyn woon.
Kyk mooi na die toestand van die kamele voordat jy besluit om op ’n kameelsafari te gaan.Foto:
Die suidooste van Marokko was rondom 500 miljoen jaar gelede onder die see en die woestyn is nou vol fossiele.Foto:

Kuise klere

Marokko is ’n gematigde Moslem-land, maar sodra jy buite Casablanca en Marrakesj reis, is dit wys vir vroue om nie kortbroeke en moulose hempies aan te trek nie. My groot uitdaging was om kuis aan te trek in die versengende hitte. Hiervoor het ek ’n kaftan aangeskaf – ideaal in ’n klimaat waar die kwik tot by 45 °C styg.

In Merzoega het ons by die Kasba-hotel Tomboektoe oornag. ’n Kasba is ’n tradisionele vesting met ’n wagtoring wat van modder en strooibakstene gebou is. Toe ek die volgende oggend uitstap om ons gids te ontmoet, het ’n ongelooflik gesig op my gewag – die son wat tussen die hittegolwe en sand oor die Saharawoestyn opkom.

Ons gids, Momo, ’n plaaslike Berber met ’n groot glimlag, het ons in sy Pajero kom haal vir ’n safari na die Lalla Merzoega-duin. Die dorpie en duin is vernoem na ’n vrou Merzoega, wat lank, lank gelede alleen in die duine gewoon en ’n legende geword het.

Die gebied staan bekend as Erg Tsjebbi (see van duine). Dit is 30 km lank en 10 km breed en dit groei weens klimaatsverandering (natuurlik en mensgemaak).

Die teeritueel is fassinerend, met die tee wat vyf keer tussen die teeglas en die pot gegooi word voordat jy dit drink.
Van stoele op die kruin van ’n sandduin in die woestynkamp kan jy in saligheid die sonsondergang bewonder.Foto:
Die gidse beskryf die uitsigte vanaf die duine in die Sahara as ’n “massering vir die hart”. Foto:
Die hekke na Medina, in die oustad van Marrakesj.Foto:

iertrek of vier bene?

Daar is deurlopend ’n debat oor om in die woestyn te reis met viertrekvoertuie teenoor kamele omdat die voertuie erosie veroorsaak. Vra jouself egter ook af of die kamele goed behandel word voordat jy op een klim.

Verantwoordelike 4x4-bestuurders ry nie oor plantegroei nie en maak nie onnodig nuwe spore op die duine nie.

In die middel van nêrens het ons stilgehou om ons dors te les by ’n put waar die yskoue water met ’n leersakkie opgehys is.

Momo het aan die voet van Lalla Merzoega stilgehou, maar die duin het my geroep om na bo te klim.

Dit was ’n uitdaging met jou voete wat in die poeiersagte sand wegsink, maar dit was die moeite werd. Die uitsig het my asem weggeslaan – die oranje duinesee en die helderblou lig. ’n “Massering vir die hart”, het Momo die uitsig beskryf.

Benewens vir die uitsigte reis baie besoekers na die Saharawoestyn by Merzoega vir sy eeue-oue sandbaddens. Dié baddens is veronderstel om jou te laat ontspan en is glo goed vir rumatiek.

Ons sal dit volgende keer meemaak en het eerder gaan tee drink by Momo se familie in ’n Bedoeïene-tent. Die ritueel is fassinerend, met die tee wat vyf keer tussen die teeglas en die pot gegooi word voordat jy dit drink.

Die dag se besienswaardighede is egter nog nie afgehandel nie en Momo stop die Pajero in ’n gebied wat lyk asof dit net vol klippe is. Die suidooste van Marokko was sowat 500 miljoen jaar gelede onder die see en is nou vol fossiele. Onder die fossiele wat al hier gevind is, tel ’n skelet van ’n dinosourus.

Skatte in die sand

Elke vierkante meter in die gebied bevat argeologiese skatte, maar dit is ongelukkig nie ’n bewaringsgebied nie. Marokko is onder die wêreld se grootste uitvoerders van fossiele, wat heelwat geld inbring, maar die gevaar bestaan dat dié skatte mettertyd almal kan verdwyn.

Nog iets wat ons gehinder het, is die plastiekbottels en blikkies oral langs die Merzoega-kameelroete. Boonop is daar kommer oor die manier waarop afval uit woestynkampe vir toeriste hanteer word.

Toerisme bring broodnodige inkomste na die gebied, maar dit het ook ’n uitwerking op omgewingsbewaring.

Die volgende dag is ons na ’n woestynkamp – ’n klompie tente tussen die duine.

Stoele op die spits van ’n duin gee jou hier die geleentheid om die sonsondergang in stilte te geniet. Daarna draai jy jou stoel om om te kyk hoe die maan oor die woestyn opkom.

Die kwik het daardie aand op 32 °C gestaan en ’n sandstorm het gewoed, sodat die landskap weer oornag verander het.

Met ons vertrek die volgende oggend het ek ’n tradisionele Berber-kleed as ’n geskenk gekry.

Van hier het ons deur die Dadèsvallei op ’n kronkelpaadjie deur die Atlasgebergte gery en telkens stilgehou om na die kasbas teen die hange en kilometers van grasgroen oases te kyk. Oral langs die pad is klein stalletjies waar jy juweliersware, lappe en teepotte kan koop (kry hier jou aandenkings eerder as in Marrakesj).

Marrakesj is bekend as die rooi stad en is ’n besoek werd vir die historiese ou stad, Medina, en beroemde markte.

Ons het in Riad Dior in Medina gebly, ’n gebied met tradisionele huise en binnehowe. Die gastehuise hier is baie sentraal en binne stapafstand van die soeks (markte), besienswaardighede en restaurante.

Die markte kan ’n bietjie oorweldigend wees. Dit is lewendige, besige plekke waar jy onder meer speserye, matte, tradisionele klere en teepotte kan koop.

’n Dag in Marrakesj was oorgenoeg en ons het hierna teruggekeer na Casablanca – ’n kosmopolitiese stad wat beskryf word as ’n “verwarde tiener wat nog na sy identiteit soek”. Ek laat dit daar.

Ek glo ’n mens hou drie keer dieselfde vakansie. Wanneer jy dit beplan, wanneer jy dit beleef en weer wanneer jy dit deur foto’s herleef.

Meer oor:  Marokko  |  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.