Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Keimoes & kontrei

’n Werker hou die druiwe klam tydens oesdag by die Oranjerivier-wynkelders op Keimoes. Foto’s: Marzahn Botha
In ’n halfwoestynstreek skiet Keimoes op soos dadelbome by ’n oase, skryf Marzahn Botha.

Die Oranjeriviervallei bestaan uit ’n smal strook grond weerskante van die middelloop van die magtige Oranjerivier, vanaf Prieska in die suidooste, deur Upington tot Goodhouse in die weste. Iewers op hierdie dreunende aarde in die Groen Kalahari-strook, of Benede-Oranje soos dit ook bekend staan, lê die gemeenskap van Keimoes.

Die omgewing word gevorm deur ’n delta van riviereilande met vrugbare grond met gevestigde besproeiingsboerderye, veral wingerde, wat aan die dorpie vasboesem.

Veelseggende name is aan die eilande gegee, elk met sy eie inwoners, gevoel en bekoring. Naby Friersdale is daar eilande soos Elimeiland, Fostereiland, Klipeiland, Kassapeiland en Swart Piet-eiland. Rondom die dorp is eilande soos Kei­moeseiland, Bradwell-eiland, Rooikop- en Skanskopeiland, Brakboseiland, Rondemuiseiland en Kanoneiland wat ’n bietjie verder lê.

As jy vandag deur die groen oase van wingerde ry en ’n bietjie rondvra oor hoe dit tot stand gekom het, het elkeen ’n staaltjie om te vertel.

Karen Visser van Skanskopeiland skryf in haar boek Skanskopeiland 1938-2013: “Die Anglo-Boereoorlog (1899 tot 1902), arbeidsonrus op die myne, die 1914-Rebellie, die Spaanse Griep (1918), die wêreldwye depressie (1929 tot 1933), asook die aanhoudende droogte en sprinkaanplae wat rampafmetings aangeneem het, het die armoede en probleme in die landbou-ekonomie vererger.” Die fisieke en emosionele armoede van die Suid-Afrikaanse mense was oral en fel.

“Die NG Kerk het vroeg in 1898 ’n reddingsoord vir armblankes op die vrugbare oewers van die Oranjerivier geskep, ’n geleentheid tot ’n nuwe begin. Mense het daarna van oraloor na die nedersetting gestroom.”

Dit was een van die Carnegie-kommissie (1932) se antwoorde op die armblankevraagstuk om behoeftige mense op die platteland te vestig, veral in besproeiingsnedersettings soos reeds gedoen is by die Kakamas-arbeidskolonie, Hartbeespoortdam (1914) en Boegoeberg-besproeiingskema (1932).

By die nedersettings moes pioniers met pik en graaf en deur die bou van kanale vir die landerye hulself onder hul armoede uitgrawe.

Wingerde op Keimoes met Tierberg aan die agterkant.
Van lusern tot wingerde

“Ons het langs die rivier gebly, was maar arm gewees, maar het genoeg kos gehad,” vertel tannie Ella Visser (87), wat op Skanskopeiland net buite Keimoes grootgeword het.

“Ons skoollorrie wat baie kinders (na Neilersdrift) vervoer het, was ’n vragmotor met ’n wit tentkap en houtbankies.

“Destyds was daar meer gemengde boerdery, katoen, ertjies, boontjies en hoofsaaklik lusern. Elkeen het net een plotjie gehad en elke ses weke is lusern gesny om weer ’n bietjie geld te kry om aan te gaan.

“Daardie tyd was daar net hier en daar iemand wat hanepootstokkies gehad het, daar was nie regtig wingerde nie,” sê tannie Ella. Volgens haar het sultanawingerde meer in die 1950’s posgevat. Vandag word die omgewing beskou as een van die beste sultana- en rosyntjiestreke ter wêreld. En die wyn?

In nóg ’n boek, Eeu van genade: NG Gemeente Keimoes, 1916-2016, vertel Karen Visser weer dat ’n sekere Anton Siepker reeds in 1939 ’n wynkelder op Rooikopeiland begin het. Dit was die gebruik onder die dorps- en eilandboere om wyndruiwe soos hanepoot en kristal by Siepker se kelder te lewer. Hulle het glo Keimoes Blits of Keimoesdop teen betaling vir eie gebruik gestook. ’n Brandewynliksens is ook aan hulle toegeken. Vandag vloei brandwyn nog stroopsoet in dié geweste.

In die doodsnikke van die laaste dag van oestyd staan die vragmotors gereeds om hulle oes af te laai by die Oranjerivier Wynkelders op Keimoes.
Keimoes van vandag

“Keimoes is ’n dorpie van vier seisoene,” sê Elrie Visser (38), wat op Skanskopeiland gebore is.

“Dit trek besoekers aan die Kalahari of diegene wat die Kgalagadi-oorgrenspark, Riemvasmaak of Namibië wil besoek of hou van kontrasterende landskappe. In die winter val dit vir my saam met die lekker kuiers om ’n braaivleisvuur met die “Flippen Boud” van die Kalahari Vleishuis in Keimoes of die kerriesosaties van Wickens-vleismark in Upington.

“Dan kom die blommeseisoen, wat sy eie toeriste meebring. Toeriste kom koop droëvrugte by die Keimoes-padstal en hou die kele nat met ’n ‘soetetjie’ wat hulle by die Oranjerivier-wynkelders (OVK) of Die Mas van Kakamas aanskaf.

“Met die somer het ons die ‘Grootrivier’, ’n streeksnaam vir die Oranjerivier, wat vir baie waterpret sorg. By plekke met swemgeriewe soos Kalahari Waters, Lake Grappa, die Augrabies Nasionale Park en die Boegoebergdam naby Grob­lershoop, kan jy afkoel op warm dae. Die pragtige Ikaya-rivierlodge met sy groot grasperk en De Werf-lodge is ook gewilde plekke waarinwoners graag kuier of sommer met tjoeps in die rivier spring.

“Dis ook die tyd wat jy jou verlustig aan die druiwe, sultanas, rosyntjies, spanspek, waatlemoen en die bekende Kakamasperske, ’n taaipit-geelperske perfek vir inmaak. Die streek se vrugtige witwyne soos colombard en sauvignon blanc loop ook te lekker.

“Dan kom die najaar of herfs ná afloop van die besige oestyd in die wingerde. Die wingerde trek ’n roesbaadjie aan en alles raak rustiger nadat die seisoenwerkers uit die wingerde en die oes af is,” vertel Elrie.

Sandra Botha Karsten, vrou van die megaboer Piet Karsten, wat op Kanoneiland woon, vertel sy het op Blaauwsekop op Kanoneiland grootgeword.

“Ek onthou destyds as die rivier vol was, was dit vreesaanjaend en opwindend,” sê sy. Daar het maklik ’n vloed gekom, want daar was nie damme nie en dit het baie skade aangerig.

Sandra sê sy en haar man reis baie rond tussen Keimoes en Somerset-Wes waar hulle ook aandele in ’n plaas het. “In hierdie geweste spot ons altyd: ‘Ons is sentraal geleë, 800 km van alles af.’

“Dis so lekker om net in die kar te klim en die Kenhardt-Brandvlei-pad te ry as ons in die Kaap gaan kuier of om net deur te skiet Namibië toe. Maar ek is altyd bly om terug te kom.”

Sandra sê as geliefdes kom kuier, vat sy hulle graag na die mooie Oranjerus­rivieroord toe. “Jy sien die allerlieflikste sonsondergange op die dek en hul steak is uit die boonste rakke.”

Sy het ook groot lof vir wat Elmarie de Bruin van die African Vineyard-gastehuis en gesondheidspa op Kanoneiland vermag het.

Elmarie het ’n passie vir mense se gesondheid en emosionele welstand. Sy bied gesondheidswegbreke aan saam met dr. Wian Stander van Pretoria, wat ’n holistiese benadering gee op besoekers se hormoonvlakke en algehele welstand. Die wegbreek sluit ook ’n sielkundige sessie deur ’n bedryfsielkundige en velskanderings deur Carina Franck van Kalahari Lifestyle-produkte in.

Die volgende wegbreeksessie is van 2 tot 6 Augustus en weer van 2 tot 6 November. Op 31 Julie bied African Vine­yard ook ’n “wellness walk” aan.

Op 22 Oktober tree Ruhan du Toit, Demi Lee Moore en Rian Benade by ’n kunsuitstalling hier op, wat R380 per persoon kos.

Boonop bied Elmarie romantiese wegbreekdae vir paartjies aan wat sy “Kisses for two in the Orchard” vir een aand of twee aande gedoop het. Dit sluit ’n aand se verblyf, ete en 90 minute se behandelings in vir die paartjies, vonkelwyn, kerslig en roosblare in die kamer. Alles vir R3 750 per nag vir ’n paartjie. Besoek www.africanvineyard.co.za vir meer inligting.

Die Akkerboom-plaasstal.
Die plesier van padstalle

Ander plekke om by in te val, is die blikkiesparadys van die Pienk-padstal, die Ukuvuka-vetplantpadstal waar jy selfs die Knersvlakte se bababoudjies, kwaggabal en perdetande kan koop en die Keimoes-padstal vir hul vrugte en neute en die Akkerboom-plaasstal op Friersdale.

Laasgenoemde bestaan al 16 jaar en is die kreatiewe baba van Trudie de Wet. Sy het die toegegroeide bouval omgetower in ’n pragtige lokaal waar daar nou in die wintermaande elke dag ’n vuurtjie brand.

“Ons sal jou verras met ons bobotie, malvapoeding, skaapvleispastei met mengelslaai, wildspastei, pannekoeke, roosterkoeke en veel meer. Dié plaasstal is ook bekend vir sy melktert, gebakte kaaskoek en wortelkoek.”

Volgens Trudie word sy altyd geprys vir die pragtige tuin en vir lewensgroot poppe wat om elke hoek en draai die besoekers binnenooi. Tans bou hulle ’n stoep wat oor die wingerde uitkyk. Haar dogter Marna het ’n skoonheidsalon genaamd Bella Rosa op die werf. Besoekers kan selfs oorslaap by een van twee eenhede genaamd Die Akker teen R900 of R950 vir ’n eenheid vir twee persone. Die padstal is net op Sondae gesluit.

Die Groblersbrug teenaan die Ika­ya-rivieroord wat na die dorpie Kei­moes lei.
Die Mas van Kakamas

Die Mas van Kakamas, meer in Kakamas se rigting, is bekend daarvoor dat dit vir perfekte Kalahari-samesyn sorg op die dek van die Kokerkombuis-restaurant en proelokaal. Volgens André Landman, wynmaker by die wynkelder, het die plaas se produkte regtig begin naam maak sedert 2014, toe die eerste brandewyn gebottel is. “In 2018 wen ons die brandewyntrofee van die Michelangelo- internasionale wyn-en-spiritualieëkompetisie vir ons potketelbrandewyn.”

Die Mas se brandewyne is “Ver in Die Ou Kalahari” (drie jaar oud), “Braai Brandewyn” en “Die Kalahari Truffel”, wat ’n sysagte vyf jaar oue brandewyn is.

“Vanaf 2017 het ons begin gin maak en dinge het mooi opgetel. Die drie gins is die droë gin, die nartjie- en granaat-gin. Jy kan al drie sopies van die brandewyn of gin proe vir R50.”

Die proelokaal is Maandae tot Vrydae oop tot 17:00 en Saterdae tot 16:00.

Om dié wêreld agter te los wat vinnig diep in jou hart kruip, is soos om die mas op te klim, een stappie op ’n slag.

Bel vooruit

  • African Vineyard: 060 503 8449
  • Akkerboom-plaasstal 082 534 7433
  • Keimoes-padstal: 054 463 0066
  • Ukuvuka-padstal & vetplantkwekery: 082 926 8118
  • Die Mas van Kakamas: 054 431 0245
Meer oor:  Keimoes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.