Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Keurige Keukenhof

As nog één Nederlander vir my sê hy was nog nooit in Keukenhof nie, verstik ek sommer aan my bitterbal*. Hoe kan jy nalaat om die wêreld se grootste opelug-blommeskou by te woon, en dit nogal as dit byna op jou voorstoep is?

Vir blomliefhebbers is Keukenhof ’n absolute fees vir die oog.Foto’s: Lizeth du Preez

So bevind ek my toe vir die derde keer in my lewe voor die groot ingang van die 32 hektaar groot tuin, en elke keer borrel dieselfde gevoel van opgewondenheid in my op om te sien wat in Keukenhof – die voormalige kombuisbinnehof van die Teylingen-kasteel – aangaan.

Dié keer het ek Yolandie, my ou skoolvriendin wat deesdae in België woon, saamgesleep. Die vorige keer was dit my ma, en voor dit ’n ander vriendin. Ek wil net so graag hierdie prag met soveel mense as moontlik deel! Nie baie mense verstaan hoe besonders so ’n besoek is nie.

Net die vakmanskap en presisie van die Nederlandse tuinbou-towenaars maak dit al klaar ’n besoek werd. Om jou beplanning so te verfyn dat daar letterlik twee maande van die jaar die hele tyd blomme en plante is wat in die allerwonderlikste patrone en kleure bloei, wil gedoen wees.

Ons kon nie vir ’n mooier dag gevra het nie – dis windstil en bo ons is die uitspansel in die mooiste Vermeer-blou. Jy voel amper lus om soos Heidi deur die tuine te huppel. Maar ek hou my in en ons draai links. Ek het met die jare al my besoek verfyn.

Tipies Nederlands – ’n windmeule in die ontspanningsarea.

Jy neem ’n kaart by die hek, want die plek is groot en jy wil niks mis nie. Eerste op die lys is die Irene-paviljoen, want ons is dors, en ná amper drie uur op die pad van Brussel af moet ons eers ’n lafenis soek en kragte opbou. Die paviljoene is genoem na lede van die koninklike gesin. Ons elk kies ’n “koffie-verkeerd”, die Nederlanders se weergawe van ’n caffè latte, en ’n sny suurlemoenkoek. Salig sit en knibbel ons en kyk mense. Omtrent ’n miljoen mense van meer as 100 lande besoek Keukenhof jaarliks.

Daarna werk ons ons pad kloksgewys om die park. Volgende aan die beurt is die Beatrix-paviljoen. Met sy jaarlikse orgidee- en flaminkplant- (Anthurium) uitstalling is daar nie ’n manier wat jy dit kan misloop nie. Nooit in jou lewe sal jy ooit weer so baie van die spesies bymekaar en in elke moontlike kleur en grootte sien nie.

Tyd vir tulpe

So tussen die paviljoene deur verstom ons ons aan die tuine wat so keurig uitgelê is. Treffende kunswerke is oral te sien. Vanjaar se tema is Flower Power, en soos gewoonlik stel dit nie teleur nie. Die krag van blomme is inderdaad verstommend.

Ek hou aspris die beste paviljoen (volgens my) vir laaste. Dit span die kroon. Die Willem-Alexander-paviljoen is my algehele gunsteling: Honderde klein beddinkies met tulpe van elke vorm, kleur en grootte is hier te sien. Die guldes van die Tulpe-manie in die 1600’s sou bossies geraak het as hulle dié moes sien.

Een van die pragtige kunsinstallasies waaraan ’n mens jou kan verkyk.

Skilderye van blom-stillewes uit die era bly nog altyd van my gunstelinge; net die Hollandse meesters kan ’n tor op ’n tulp so mooi laat lyk. ’n Mens kan sien hoekom hulle so begeesterd geraak het deur die blom wat eintlik van Turkye afkomstig is. Daar word beweer die naam is afkomstig van die woord “turban”, en die vorm van die hooftooisel in die Ottomaanse Ryk herinner sterk aan die vorm van ’n tulp net voordat dit oopgaan.

Ek hou Yolandie so stil-stil dop en soos almal se reaksie hier is hare een van absolute verwondering. Ons bring heelwat tyd hier deur. Kort-kort buk ons af en verkyk ons aan die kleinste detail van die bekende blomme. Ons kan nie glo die blom kom in soveel fatsoene voor nie – een daarvan is so groot soos my hand. Nog een het frilletjies om die rand, ander lyk of dit uit die Rocky Horror Picture Show kom. Later vat jy so stilletjies aan een van die blomme, want ons klein breine kan dit net eenvoudig nie kleinkry dat alles om ons eg is nie.

Ons Skepper het geweet wat hy doen. Nie eens in ons wildste drome sou ons so iets kon optower nie. Ek gaan nie sommer terug na dieselfde plekke op my reise nie, want ek meen dat die wêreld groot is en daar nog soveel meer te sien is. Maar ek weet hier binne-in my: Keukenhof sien my beslis weer binne ’n paar jaar.

* Bitterbal: ’n “kroket” wat as voorgereg geëet word – héérlik!

Al is Keukenhof sinoniem met tulpe is daar blomme van elke beskrywing om te sien – soos hierdie indrukwekkende ranonkels.
Die fontein naby die Irene-saal is ’n lekker plek om ’n blaaskans te neem.
Goed om te weet
  • Wees betyds, want daar is ’n beperking op die aantal besoekers wat per keer toegelaat word. Party mense moet ná ure op die pad maar weer terugkeer huis toe of ’n baie lang ruk buite wag sodat genoeg mense die park verlaat het om die volgende klomp in te laat.
  • Dra jou gemaklikste stapskoene, want jy gaan lank op jou voete wees.
  • Jy is welkom om jou eie piekniek-ete saam te neem, maar daar is heelparty eetplekke, en jy kry ook kans om eg Nederlandse produkte te proe – ’n moet op my lys is warm poffertjies en stroopwafels. Vir die dapperes is daar rou haring?.?.?.
  • Kaartjies vanjaar het begin by R400 per persoon, maar daar is ander opsies wat busvervoer vanaf die Schipol-lughawe insluit. Hierdie busse loop gereeld.
    As jy die tulpe in hul volle glorie wil sien, moet jy Keukenhof beslis in April en Mei besoek.
  • Besoek Keukenhof se amptelike webblad https://keukenhof.nl/en/ vir meer inligting of besoek die tuin se Facebook-blad. Dan kan jy lank voor die tyd al begin kyk hoe hulle vir die opening van die volgende seisoen voorberei.
Meer oor:  Nederland  |  Keukenhof  |  Reis  |  Vakansie  |  Wegbreek  |  Toerisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.