Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Klaar met kees

Wat ’n rustige Sondagoggend van voëlkyk moes wees, het op ’n opwindende wyse ontaard in ’n wilde bobbejaangeveg, vertel Nico van Gijsen.

Die kortaf blaf van ’n bobbejaan het my laat omkyk.

Hy moet naby wees, het my ervaringsengel my gewaarsku. Maar voordat ek nog behoorlik die rigting of die afstand kon peil, is ons Sondagoggend-rustigheid langs die see in chaos gedompel.

’n Trop van sowat 20 bobbejane was skielik oral om ons. En aan die hardloop. Na ons toe, verby ons en dan weer na ons toe. Die groter mannetjies, al blaffend en met ontblote slagtande, het hul aggressie vertoon. Teenoor wie, ons of ander in die trop, kon ek nie met sekerheid sê nie.

Veral een groot mannetjie het my opgeval. Hy was besonder aggressief en het die hardste geblaf. Hy het binne sowat twee meter van ons verby gestorm, sy fokus duidelik gerig op ’n jonger mannetjie, seker die helfte sy grootte, wat skreeuend voor hom uit oor die rotse probeer vlug het. Tot binne-in die see. Daar het die jonger kees net voor die laaste brander gaan sit. Die vrees in sy oë was duidelik sigbaar.

Die grote het eers op ’n rots teenaan die water gaan sit en die jonger een aangegluur, terwyl dié druipnat en beangs teruggestaar het.

Die volgende oomblik is die boelie die see in, gryp die jonger mannetjie aan sy keel en druk sy kop onder die water. En hou dit daar in ’n duidelike poging om sy spartelende slagoffer te probeer versuip.

Gelukkig was my kamera reg vir die oomblik en kon ek dit in beeld vaslê.

Die twee bobbejaanmannetjies meet kragte. Links is die alfa-mannetjie van die trop en regs ’n jonger een wat om die een of ander rede gedissiplineer moes word. Foto’s: Nico van Gijsen
Die alfamannetjie in die trop druk die ander bobbejaan se kop onder die water.
Die verloorder lek sy wonde op ’n rots.

My trop se nasate

Eintlik was ek nie daar vir ’n straatgeveg tussen bobbejane nie. Ek en my vrou, Yolande, was daar langs die see by Olifantsbos in die Kaappunt-natuurreservaat om seevoëls af te neem. Wat volgens ons beplanning ’n veel rustiger Sondagoggend sou wees.

Tog is ek en die bobbejane by Kaappunt darem nie vreemdelinge vir mekaar nie. Ek het so 40 jaar gelede ’n week lank soggens net ná sonsopkoms – bobbejane is laatslapers, en ek hoef nie te vroeg op te gestaan het nie – by hulle gaan aansluit en dan heeldag rustig saam met hulle beweeg.

Op hierdie someroggend was my trop se nasate in ’n ander bui. Ek het vir my vrou gesê om net doodstil te sit. Sy is die kamerasak-draer, ek die fotograaf. En terwyl ek foto’s neem, het die trop, veral ’n paar van die groter mannetjies blaffend en baie dreigend op ons afgestorm. Ek vermoed dit was omdat hulle gedink het daar is kos in daardie kamerasak.

’n Bobbejaanmannetjie wys sy tande vir ons in ’n poging om ons te intimideer. Foto:

Die stuitige Kaapse bobbejaan

Die bobbejane by Kaappunt is Kaapse bobbejane (Papio ursinus), die grootste onder bobbejane. ’n Volgroeide mannetjie kan tot 40 kg weeg, terwyl die wyfies sowat die helfte hiervan kan weeg. En hulle leef in ’n manlik gedomineerde samelewing.

Die alfamannetjie is alleenheerser en net hy mag paar (of so dink hy). En enige jong lat wat sy geluk probeer, gaan slae kry. Dit kan hom sy lewe kos. ’n Groot mannetjie wat ’n trop oorneem sal ook jong bobbejaantjies doodmaak, sodat die wyfie gouer seksueel gereed sal wees en hy só sy bloedlyn kan voortsit.

Bobbejane is hoogs intelligent en aanpasbaar. Vandaar hierdie Kaappunt-bobbejane se gebruik om seekos uit te haal.

Maar hulle het ook geleer dat daar kos by mense is. Veral waar mense die bobbejane voer.

Op pad Kaappunt toe is daar hoeveel kennisgewings wat mense daarteen waarsku om die bobbejane te voer. Hulle verloor hul vrees vir mense en sal aggressief raak as hulle meen daar is iets om te aas in ’n kar. Of soos hierdie Sondag, vermoed ek, in my kamerasak.

By Kaappunt moes die personeel allerhande planne bedink om vullisdromme se deksels dig te hou teen die bobbejane, maar dat dit tog steeds toeganklik moet wees vir die publiek om te gebruik.

By die restaurant is ’n spesiale bobbejaan-wag, gewapen met ’n kettie, wat probeer dissipline toepas.

En dit verskaf gewoonlik vir my baie pret om die twee stryders dop te hou in hul poging om mekaar te probeer uitoorlê. Ek is nog nie seker wie as wenner uit die stryd tree nie, die bobbejaan of die kettieman nie.

Die Kaappunt-bobbejane het duidelik nie veel vrees vir mense nie. As jy in jou kar sit om na hulle te kyk, is dit beter om jou venster toe te hou. Hulle sal maklik op karre klim en klouter en ’n hand deur die venster steek en enigiets gryp wat na kos lyk.

Pasop vir die bobbejane in die Kaappunt-natuurreservaat.

Die drenkeling oorleef

In die geharwar om ons het ons op ’n rots gaan sit. ’n Paar van die groter bobbejaanmannetjies het ons keer op keer blaffend en met lippe dreigend teruggetrek bestorm. Duidelik ’n poging om ons te intimideer.

Intussen het ek foto’s probeer neem van die spartelende slagoffer en die groot boelie wat uitdrukkingloos sy kop onder die water probeer hou het.

Ek kan maar net dink dat hy te astrant was en dat die groter mannetjie hom ’n les wou leer. Ná ’n hele ruk het die groter mannetjie hom gelos en sy slagoffer verwese in die see agtergelaat.

Eers toe gemoedere gekalmeer het, het hy uit die see gekom en ewe verleë op ’n rots gaan sit om in die son droog te word.

Meer oor:  Olifantsbos  |  Kaappunt-Natuurreservaat  |  Besoek  |  Reis  |  Bobbejaan  |  Seevoëls
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.