Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Knysna se ánder juwele

Dié weggesteekte juwele in Knysna is net soveel ’n besoek werd soos die bekende bos, skryf Ilse Zietsman.

Onthou tog om die kerkie se deur toe te maak; anders maak die voëltjies nes in die kerk. Foto’s: Ilse Zietsman

Knysna is ’n skare-gunsteling, Knysna is ’n uiteet-mekka, Knysna hou jaarliks Oesterfees, Knysna het swemstrande, en daar is, so word daar gesê, nog olifante in die Knysnabos. Dit is dus geen wonder dat Knysna een van die gewildste toeristebestemmings in die land is nie.

As jy egter reeds al die moet-sien-dinge in Knysna en die distrik afgetik het, wag daar ander verrassende belewenisse in die kleine op jou.

Die binnekant van die Groot Kerk van St. George.
’n Tuinpaadjie omsoom met wit agapante lei van die Klein Kerk na die Groot Kerk.

Dubbelheilig

In die besige hoofstraat is daar ’n plek waar jou voete en jou siel rus kan vind.

As jy met die hoofstraat langs stap, let jy eerste die opstandingshek (resurrection gate of lych gate) by Hoofstraat 10 op.

’n Opstandingshek is ’n kaphek, ’n hek wat ’n dakkie bo-oor het; dié soort hek kom tradisioneel by die ingang van kerkpersele in Brittanje en Swede voor.

Die benaming spruit daaruit dat ’n doodskis volgens ’n ou gebruik op ’n doodskistrollie tot by die opstandingshek gedra is, waarna die trollie daar gelos en die doodskis vir die begrafnisdiens die kerk binnegedra is.

Die opstandingshek by die ingang van die tuin van die St. George- Anglikaanse kerk – eintlik is daar twee kerke – is uit kiaat en rooiysterklip gebou. Dit is in 1935 deur die Thesen-familie geskenk om hul ma, Bessie Thesen, se lewe te huldig. Bessie was die dogter van kaptein Christo­pher Harison wat Knysna – en die Suid-Kaap – se eerste “bewaarder van die woud” was.

Op die kerkterrein is twee klipkerke: ’n groot en ’n klein St. George- Anglikaanse kerk. Die Klein Kerk is al in 1849 gebou, en in 1926 is die hoeksteen van die Groot Kerk gelê.

Op weekdae is die Anglikaanse kerk van 08:00 tot 15:00 oop vir besoekers. Party kom hou ’n paar minute stiltetyd, ander verkyk hulle aan die loodglasvensters, gewelfde houtdak en houtkansel.

Onthou net om die kerk se deur agter jou toe te maak, anders maak die voëltjies nes in die kerk! Só waarsku ’n kennisgewing teen die deur.

’n Kas soos jou ouma s’n

Dis moeilik om in Knysna parkeerplek te kry; jou volgende plekkie om aan te doen, is in elk geval net ’n paar minute se stap terug in die rigting van die Kaap tot by Herdenkingsplein.

Grandma’s Cupboard op dié plein is so klein dat jy amper aan die mure weerskante kan raak as jy jou arms uitstrek.

Tog is hierdie boekwinkeltjie propvol interessante boeke waaronder ’n goeie dosis versamelaarsartikels. Die winkeltjie is eintlik tipies van die spreekwoordelike gaatjie-in-die-muur-winkel.

Hier is so baie om deur te snuffel dat ’n mens sommer lus kry om op die sypaadjie – langs die houtkruik met ’n versameling kieries – by Grandma’s Cupboard neer te syg en aan die blaai en lees te gaan.

In die hartjie van Knysna skuil ’n boekwinkeltjie genaamd Grandma’s Cupboard agter ’n boom.
Sit met jou voete in die sand en smul aan oesters by Freshline Fisheries.
As jy eers in die Freshline Fisheries sit, vergeet jy skoon waar jy is, veral as jy met jou tone in die seesand wriemel.

Seekos en seesand

Waar kan ’n mens nog met jou voete in die sand by ’n tafeltjie aansit en vis en tjips eet? Weliswaar sonder ’n see-uitsig, maar met oorgenoeg atmosfeer om jou in ’n oogwink van jou eie en die wêreld se sorge te laat vergeet.

Freshline Fisheries is ’n onpretensieuse eetplek op die hoek van Lang- en Waterfrontweg.

Die gedrapeerde visnette, die boeie, die groen lower en die wit seesand verklap nie ’n oomblik dat jy nie êrens op ’n eiland vir middagete aansit nie. Messe en vurke staan, heel gepas, op aandag in rooi-en-wit sardynblikkies.

Ons het aan die linkerkant van Fresh­line Fisheries gesit; dié restaurantruimte is kleiner en meer intiem wat dit aanbevole maak om hiér plek, eerder as aan die regterkant, te probeer kry.

Slurp sappige oesters uit hul skulpe, geniet vars vis en tjips of probeer die gewilde calamaritentakels.

Die avokado-ritz met garnale sal jou aan die 1970’s laat terugdink, en daar is selfs gerookte snoek op die spyskaart.

As die hongerpyne erg knaag, kan jy kies tussen seekospaella met Saldanha-mossels, twee ekstragroot Mosambiekse garnale, lynvis en calamari of tien Mosambiekse garnale met brandrissie of suurlemoen en knoffel.

Freshline Fisheries is ongelisensieerd. Koop dus vooraf koue witwyn op die dorp; geen kurkgeld word gehef nie.

Freshline Fisheries is van Maandae tot Saterdae vanaf 11:30 oop. Die kombuis maak 20:00 toe. Sondae is hulle toe.

Meer oor:  Oesterfees  |  Knysna  |  Kos  |  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.