Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Kom gooi lyn nat op dié mooie stukkie aarde

Met ’n tweede besoek aan die Walkersons Hotel & Spa, sowat 10 km anderkant Dullstroom in Mpumalanga, het Malani Venter dié keer besef – dis g’n stukkie Skotland dié – dis eg Suid-Afrikaans en soveel beter!

Dullstroom
Kom maak lyn nat langs een van die damme vol reënboogforelle by Walkersons Hotel & Spa net buite Dullstroom in Mpumalanga. Foto: Malani Venter

Drie jaar gelede met my eerste besoek aan Walkersons het ek dié stukkie aarde beskryf as “ ’n stukkie Skotland tussen groen heuwels en damme waar reënboogforelle volop is”. 

Onlangs het ek die geleentheid gekry om weer te gaan oorbly op die landgoed met sy mere en damme met reënboogforelle. Die groen heuwels en damme is steeds poskaartmooi. Die herfs het begin kop uitsteek en die liggeel skynsel aan die hordes bome hier het bygedra tot Walkersons se natuurskoon. 

Ja, die vroegoggend-mis in die vallei, klipgeboue en kaggels kan jou herinner aan ’n Skotse natuurtoneel (moenie vergeet van die whiskey en die vlieghengel nie). Maar hier is dit eintlik eg Suid-Afrikaans. 

Die gasvryheid, die kos wat bedien word, die Suid-Afrikaanse wyne waaraan ons geproe het, die Afrika-sonsondergang oor Mpumulanga se grasvelde – dis ’n onbeskryflike gevoel van tuiswees wat jy net in jou eie land kan ervaar.

Slaap hier oor  

Die Walkersons Hotel & Spa het volop verblyf vir sy gaste. Dit is veral ’n oornagplek vir mense wat na die Krugerwildtuin (sowat 158 km verder) op pad is, maar op die ou end langer aanbly juis oor die pragtige landskap en atmosfeer. 

Hier is die opsies as jy wil oorslaap: 

  • Hotelsuites: Op die landgoed is 27 suites met die nodige geriewe om jou verblyf hier in die winter nog lekkerder te maak. As jy ’n groter plek verlang, kan jy die Manor- of die Wittebrood-suite kies. 
  • Selfhelp-kothuise: Die Hansie-en-Grietjie-kothuise wat langs mekaar is, is geskik as jy twee gesinne is wat saamkuier. Die Riverview- en Waterfall-kothuis is ’n vyfsterhuis waarin agt mense kan oornag. Dis ’n oopplanhuis met alles wat jy nodig het: ’n moderne kombuis, ’n eet-en-kuier-gedeelte en ’n buitebraai op die balkon wat op ’n waterval en die Lunskliprivier in die verte uitkyk. 
  • Canyon-kothuis: Dis waar ek dié keer oorgebly het. Dit is die grootste van al die kothuise en het sy eie private waterval. Tien mense kan hier bly. In die Hillside-kothuis kan ses mense tuisgaan. 
  • Meer inligting: Besoek www.walkersons.co.za of skakel 013 253 700.

Doendinge hier en in die omgewing 

  • Op ’n drafstap: Meer as 3 000 m se geplaveide paadjies, wat strek oor die 800 ha van die landgoed, maak dit net ’n plesier om hier te stap of te draf. Die paaie neem jou verby selfsorg- en privaat huise, damme en watervalle.
  • Ry perd: Vanaf die Dullstroom Riding Centre kan jy die wêreld langs verskeie mere, deur woude en oor die groen heuwels van Mpumulanga te perd verken. 

Meer inligting: 082 442 9766 | dullstroomhorseriding.co.za

  • Proe whiskey: Jy kan nie in Dullstroom wees en nie whiskey drink nie. Dit is dan die plek in Suid-Afrika waar whiskey gedistilleer word. Wild About Whiskey in Dullstroom is ’n besoek werd, want hier kan jy ’n groot verskeidenheid whiskeys proe.

Meer inligting: 013 254 0066 | wild­aboutwhisky.com

  • Eet hier: Mrs Simpson-restaurant met sy gedenkwaardighede wat die naam van wyle hertogin van Windsor, mev. Wallis Simp­son, vertoon (die mure is propvol handsakke, skoene en handskoene wat geskenk is om die hertogin se liefde vir sulke items te simboliseer), is ’n moet-besoek-plek op Dullstroom. Die kos is uitstekend – die diens ook. 

Meer inligting: Teding Van Berkhouldstraat 197 | 013 254 0088.

Meer oor:  Mpumalanga  |  Dullstroom  |  Vakansie  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.