Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Kom kuier ’n bietjie op die plaas

As jy op soek is na ’n bekroonde vierster-gastehuis, vars lug, Karoo sonskyn en rustige nagte met dan en wan die geluid van ’n nagdiertjie, sal jy dit 20 km buite Cradock vind, naby die N10-hoofpad na die noorde toe.

In die somer is daar niks beter as ’n verfrissende koel swembad ná die langpad nie. Foto: Verskaf

Dis hier waar Sue-Ellen Jordaan die Mountain View-gastehuis bedryf op die plaas Spekboomberg. Van die afdraai op die N10 na die gastehuis volg 5 km op ’n goed-onderhoude grondpad en ’n mens kan reeds met jou aankoms die kalmte van die Karoolandskap aanvoel.

Die gastehuis het ’n rustige plaasatmosfeer met moderne, stylvolle kamers en heerlike etes. Dis dié dat Mountain View verlede maand die kategorie vir vierster-plattelandse gastehuise tydens SA-Toerisme se sesde jaarlikse Lilizela-toekennings by ’n glansgeleentheid in Johannesburg ingepalm het.

Mountain View het ’n rustige plaasatmosfeer met moderne, stylvolle kamers. Foto: Verskaf

Lilizela is ’n Nguni-woord wat beteken om erkenning te gee aan ’n taak wat goed verrig is.

Mountain View-gastehuis het drie luukse en-suite kamers in die gastehuis self en nog twee kamers met badkamers in die kothuis. Daar is ook ’n familiekamer, ideaal vir ouers met kinders.

As jy in die kothuis oorbly, kan jy vir jouself etes in die kombuis voorberei of ’n Karoo-tjoppie op die kole gooi by die braaiplek. Jy kan ook vir jou ’n driegang-aandete bestel en soggens is daar ontbyt beskikbaar.

Alle bestanddele vir die etes is organies en kom vars van die plaas se tuine, slaghuis en melkstalle.

Sue-Elen sê die geheim van die gastehuis se sukses lê by sy goeie personeel wat ’n hoë standaard van netheid handhaaf. Hulle maak te alle tye seker gaste word op die hande gedra en kry waarde vir hulle geld. Sy meen deur dié ses vroue en twee mans uit die area in diens te neem, help hulle ook die gemeenskap wat gebuk gaan onder ’n hoë werkloosheidsyfer.

Mountain View-gastehuis is naby Cradock met sy baie toeriste-aantreklikhede.

Dit neem ook net ’n skrale 20 minute per motor van die gastehuis tot in die Bergkwagga-Nasionale Park.

Vir reisigers wat ’n bietjie wil bene rek ná ’n lang rit in die motor, is daar 4x4-, fiets- en drafroetes. Spekboom is op ’n werkende Karooplaas geleë en besoekers kan deel in die skaap- en melkboerdery.

“Ons ontvang baie gaste van Nederland en Duitsland en hulle kan nie genoeg praat oor die besoedelvrye lug op die plaas nie.

“Ons probeer natuurlik ook ons bes om goeie ambassadeurs vir ons mooi land te wees,” sê Sue-Ellen.

Jy kan self kosmaak - of vakansie hou en ’n driegang-aandete bestel. Foto: Verskaf
Gaste word op die hande gedra – selfs wanneer dit by nagereg kom. Foto: Verskaf

Meer oor:  Mountain View-Gastehuis  |  Cradock  |  Reis  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.