Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Kom kyk hier, kinders

Dis onsin dat jou kinders te klein is vir die bos, meen Nico van Gijsen.

Op ’n bosvakansie sien kinders die diere in hul ware habitat. Foto’s: Nico van Gijsen

‘Oupa, ek is nou moeg vir dooie sebras, soek vir ons ’n lewendige een.”

Dit was ons eerste dag in die Makgadikgadi Panne Nasionale Park in Botswana. Ek moet erken dit was darem al die derde keer daardie middag dat ek verby dieselfde sebra-karkas ry. En my kleindogter, Lia (toe 7), was van kleins af nie op haar bek geval nie. Veral nie met haar oupa nie.

Lia en Nicolas gesels met Kersvader oor die tweerigtingradio.

Dit is nou al meer as 20 jaar wat ek gereeld, soms tot vier keer per jaar, my sielsrus in die “bos” gaan soek. Gewoonlik êrens in Botswana. Daar in die bos is dit net ek en my vrou, die Land Rover, ons tent en die wilde diere. En min mense.

Toe kom die kleinkinders. En vir lesers wat nog nie op hierdie deel van die lewenspad is nie, as jy gedink het jou eie kinders is ’n plesier, wag tot jy kleinkinders het. Hulle speel en raas, maak die huis deurmekaar, klim op jou en oor jou. Maar kom sit ook styf teen jou en vra: “Oupa, vertel ons ’n ervaring”.

Hoekom dan nie maar die ervaring met hulle deel nie en hulle hul eie ervarings saam met jou laat beleef nie?

’n Olifant stap deur die Botetirivier in die Makgadigadi Panne nasionale park. Foto:
Ervaar régte diere

Ek hoor soms mense sê hul kinders of kleinkinders is te klein om bos toe te gaan. Hulle is bekommerd oor leeus en hiënas wat saans deur jou kamp loop en teen jou tent kom snuffel. Of bang vir die malaria-gevaar. En dan is daar nog skerpioene ook. Dit is seker so, maar is dit nie juis dít – onsekerheid – wat die lewe opwindend maak nie?

Daar is min dinge in die lewe wat so vreesaanjaend én roerend mooi klink as ’n leeu se brul net buite jou tent in die nag. Soms so naby dat jy die trillings in die grond aanvoel. Die stem van die koning van Afrika.

’n Kunswerk van Lia van ’n leeu en seekoei in die Botetirivier.

En die olifante. Die reuse van die bos, wat die vermoë het om soos ’n grys muur voor jou te verskyn en net so stil weer te verdwyn. Hoe hierdie groot diere dit regkry om soos skimme te verskyn en soms letterlik voor jou oë weer te verdwyn, sal vir my ’n raaisel bly.

Om dit met jou kinders of kleinkinders te deel, is besonders. Om dit weer vir die eerste keer deur hul oë te sien, is ’n voorreg. Ek onthou een oggend baie vroeg het ek buite die tent gestaan en koffie drink toe my kleindogter my kom opsoek. Met haar op die arm, haar armpies styf om my nek en stil soos ’n muis, het ons gestaan en kyk hoe ’n groot olifantbul deur die Khwairivier kom en langs ons tente, skaars 15 meter van ons af, al druppend en met sy groot ore flappend, verby stap. Gedeelde ervaring.

En die aand toe die hiëna by ons besoek kom aflê. Ons was pas klaar met aandete, toe ek ’n skadu aan die rand van ons kamp­lig sien beweeg. Met my kleindogter weer op die arm en my nek styf vasgeklem, ek met flits in die hand, het ons hom gaan soek. Tot waar dit ’n speletjie geraak het. Ons twee dié kant van die kar en hy wat anderkant toe hardloop, dan weer ons anderkant om en hy dié kant toe. Gedeelde ervaring.

Leer jou kinders om die groot én klein diere te waardeer. Hierdie waaierstert-grondeekhorings kuier graag in die kampe.
Speel-speel soek ons diere, groot én klein

Die ding met klein kinders is dat hul verbeelding gevoer moet word. En die bos is die ideale plek vir jou kinders se verbeelding om lewe te kry.

Dit begin ook lank voor die bosvakansie. Vertel vir hulle van jou eie ervarings, wys foto’s en laat hulle diereprogramme op die televisie kyk.

Veral boeke wakker my kleinkinders se belangstelling aan. By die huis lees ouma en hul ouers vir hulle. In die Land Rover het ek boeke oor slange, spinnekoppe, skerpioene, roofdiere, dierspore . . . Altyd gereed vir nuuskierige kleingoed wat iets wil identifiseer.

‘Ouma, geelslang op linkerkant.’

So ry ons eendag langs die Khwairivier. Kleinkinders saam met oupa en ouma. Oor die tweerigtingradio word ma en pa agter ons ingelig oor wat buite te sien is. “Mamma, pappa, rooibokke op regterkant. Mamma, pappa, olifante op linkerkant.”

Ietwat verbaas hoor ek hoe my kleinseun Nicolas (toe 5) vir sy ouma “roep”: “Ouma, geelslang op linkerkant”. Terwyl my vrou uitkyk op soek na die slang, merk ek die hand wat van agter deur die oop venster vir sy ouma van die buitekant af die boekie met ’n foto van ’n kobra uithou.

Hulle kan van enigiets ’n speletjie maak. En hulle sal hulself besig hou. Dit help natuurlik as kinders by die huis nie te veel tyd voor die TV of met rekenaarspeletjies sit nie, want dit smoor die skeppende vermoë van so ’n kind om homself te kan vermaak.

Kersvader kom uit Botswana se bosse gestap met geskenke vir die kinders.
Kersvader in die bos

Die beste tyd vir diere kyk, veral as jy ’n fotograaf is, is soggens vroeg en laatmiddag. Jy kan dus lang tye deur die dag in die kamp sit. En as jy in die wildernis is, is daar nie ’n swembad, of ’n TV, selfs nie eens hul eie speelgoed om hulself mee besig te hou nie.

En dit is wanneer die kind se eie skeppende vermoë uitgedaag word en jy as ouer of grootouer betrokke kan raak. Ons kleinkinders het altyd vetkryte en papier. Hulle teken. Hulle het ook elkeen ’n kamera en neem saam met oupa en hul pa’s foto’s. Nie net van die groot goed nie, ook van die kleiner diertjies, reptiele en goggas.

Maar soms wil hulle net in die sand speel, of mors as daar waar water naby is. Hulle bou sandhuise, ons het al selfs ’n afbeelding van Tafelberg, Leeukop en Duiwelspiek in die Botswana-sand gesien.

Ek dink die sleutel om dit vir kinders lekker te maak in die bos, is om te onthou hulle is kinders. So drie jaar gelede toe ons in Botswana vakansie gehou het, het ek vooraf met my vriend Herc Hoffman gereël om die kinders as Kersvader te kom verras op Oukersdag. Dit was die dag waarop hy by ons sou aansluit. Die kinders het hom nie geken nie en nie geweet hy is op pad nie.

Ek kan die gesiggies nie beskryf nie toe daar uit die bloute ’n stem oor die tweerigtingradio kom: “Ek roep vir Lia-leeu en Boetie-bul?” Gesiggies nog vraend oor die vreemdeling oor die radio wat hul name ken, toe Kersvader in sy rooi oorpak met ’n sak vol speelgoed van agter die bosse aangestap kom. Lia was so opgewonde, sy het reguit na die wildvreemde Kersvader toe gehardloop en hom met ’n stywe omhelsing verwelkom. Nicolas daarenteen het dadelik sy kamera gegryp en foto’s van die Kersvader begin neem.

Met die kleinkinders het ek dalk ’n stukkie van die vrede wat ek soek in die bos ingeboet, maar ek wen met die vreugde wat die kleinkinders bring. Ek het ook geleer om deur nuwe oë na die natuur te kyk. Hul opgewondenheid is aansteeklik.

Meer oor:  Diere  |  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.