Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Kom ontdek Lissabon!

Gewoonlik is dit tradisionele gidsboeke of toeriste-webwerwe wat jou leiding gee oor die dinge om in ’n vreemde bestemming te sien en doen. Maryke Roberts het ’n meer onkonvensionele aanslag gehad toe sy in Lissabon, Portugal, gaan kuier het.

Die skrywer het meestal openbare vervoer gebruik, of baie gestap, maar die klein tuk-tuks is ook ’n goeie manier om die stad met ’n gids te verken. Hier staan hulle voor die Lissabon-katedraal, Sé.Foto’s: CLIFFORD ROBERTS

Kathleen Becker se boek, 111 Places in Lisbon that you shouldn’t miss, was daardie aanslag. Sy verstaan dat hordes mense, lang rye en ongeskikte beamptes jou reis kan versuur. Sy skryf hierdie soort boeke om jou die agterstraatjies van stede te laat ontdek en – soos in ons geval – die ware gesig van die stad te ervaar.

Ons is skaars deur die lughawe-doeane, toe sterk koffie met pastel de nata, daardie Portugese melktertjies met die bruingebakte bokante, vertroosting bring ná hopeloos te lank in ’n vliegtuig. Dis langs die badkamer en op die deur sien ek die eerste geen-rook-teken.

Die land is enige nie-roker se droom, want daar mag in geen restaurante gerook word nie en selfs buite op straat is min mense met sigarette te sien. Ek weet nie waar hulle rook nie, maar die tipiese “lost in translation”- vertalings wat regoor die stad pryk, “No smokers”, laat ons elke keer lag.

Ná koffie, op die kronkelende moltrein stad toe, voor die laaste paar treë na die hotel verbygly.

En toe is dit tyd vir verken.

Natuurlik kan jy nie al 111 onbekende dinge in die stad inpas nie en nie almal is van belang nie, maar ons het heelwat geïdentifiseer en elke dag ’n roete beplan om nog een van die lysie af te tik. Die belangrikste wenk vir ons twee wat graag die stad se historiese, gewilde geel trem (28) wou ry, was natuurlik dat die 25E-trem ook ’n pragtige roete deur die stad verken.

Ná koffie, op die kronkelende moltrein stad toe, voor die laaste paar treë na die hotel verbygly.

Dis net minder besig as die 28 en jy hoef nie te staan of te vrees dat jou tone pimpel en pers getrap gaan word nie. Die trems is bykans 100 jaar oud en binne is die reuk van ou houtpolitoer. Die roesbruin gietysterbankies voel vaagweg bekend.

By die eindpunt tik ’n ou oom my op die skouer en wys ek moet opstaan. Ek is eers verward, want ons Lisboa Card-toerismekaart sluit openbare vervoer in en ons kan soveel keer ons wil, op die trem ry.

Maar toe sien ek: Soos een man ruil drie ooms die bankies om dat ons vorentoe kyk en beduie ons gaan nou weer in die teenoorgestelde rigting. Almal gaan sit weer. Hy glimlag baie ingenome met homself.

Iets wat ons graag wou sien, is die foto-steeg in Beco das Farinhas, waar ’n fotograaf, Camilla Watson, groot swart-en-wit-foto’s geïnstalleer het van die mense wat daar in die steeg woon en werk en daagliks daar verbygaan met hul inkopies, wasgoed en geselsies. Die foto’s word of op hout, of direk op die muur gedruk, met ’n vloeibare silwer emulsie. Dis hier waar die stad se vele oumensies se lewens opnuut jou hart ruk.

’n Groot persentasie van die stad se bevolking is ouer as 65. So in die ouermense-tema: Ons het die volgende oggend opsygesit vir die Homen do Adeus of “Goodbye Man” op Praça Duque de Saldanha.

João Manuel Serra was een van daardie bejaardes. Hy het vir jare elke aand op die sirkel in Fontes Pereira de Melo gestaan en vir mense in die verkeer gewaai, tot sy dood in 2010. Hy was 79. Jy kon hom altyd deur ’n ring trek en sy silwergrys hare was altyd netjies agteroor gekam, as’t ware die deurpad se jintelman.

Ná sy dood het mense eers opgemerk dat hy weg is en ’n Facebook-veldtog met handtekeninge begin om ’n standbeeld vir hom op te rig. In 2016 is ’n klein plaak in die sypaadjie onthul.

Die oulike wynwaentjie by die historiese Belém-toring. Jy kry ’n opslaanstoel en sit met jou voet op die muurtjie, terwyl jy die lewe op die rivier met ’n lekker glas Portugese wyn gadeslaan.

Dit klink heel eenvoudig om dié plaak wat skaars groter as ’n familiegrootte-pizza is, te kry. Tot jy daar in die middel van verskeie verkeersbane, ’n fietsry- en staproete en dwarsweë staan.

Ek gaan klop aan by ’n oulike restaurantjie uit yster, met ’n pikante dakkie wat lyk soos ’n Moorse tentjie. Dis in die middel van die verkeer-harwar, maar die drie jongmense agter die toonbank staar my aan asof ek mal is.

Ek haal my boek uit, wys hulle die foto en lees vir hulle die storie van dié merkwaardige oom. Die een man vee sy trane af en beduie dat dit heel moontlik op die oorkantse sypaadjie kan wees. Dis ’n verkeer-spinnerak van “epidermiese proporsies”, as ek oom Oubaas van 7de Laan se woorde kan leen.

Ons kom heelhuids anderkant uit en sowaar, op die hoek van die sypaadjie vind ons die kunswerk deur José Avrélio met die woorde: “Da minha solidão, sei Eu” wat vertaal as: “My eensaamheid, ken ek.”

Ons gaan soek verskillende goed op een oggend: die Pastelaria Mexicana, wat sedert 1946 deel van die stad se koffie en soetgoed-kultuur is. Hier kan jy pastel de natas eet tot dit by jou ore uitkom, sonder om bankrot te wees.

Ons gaan sit by die stadspoorte en drink koffie, terwyl ons uitkyk oor die stad en na die groep orkeslede wat selfs hul eie danser het. Hul musiek neem jou op reis na die Kaap-Verdiese Eilande en die sterk, bitter koffie laat die pastel de nata net beter proe.

Ons kry ’n mini-biblioteek in ’n ou rooi telefoonhokkie in Praça de Londres. Dit het selfs sy eie Facebook-blad, Cabine de Leitura, wat in 2014 geopen het as ’n inisiatief van winkeleienaars op die stadsblok. Dis gestig om samehorigheid onder bure in die groot stad te bewerk.

Dis sekere tye oop en dis die plek waar jy boeke, wat mildelik geskenk word, kan uitneem sonder om al die pad stadsbiblioteek toe te gaan. Maar jy moet ’n kosbare boek uit jou versameling skenk, verkieslik met jou naam voorin, sodat die volgende persoon wat dit lees, nie net ’n lekker stukkie literatuur uitneem nie, maar ook sommer meer oor jou voorkeure leer.

Die hokkie was aanvanklik oop, maar nou is dit gesluit met 45 minute-gleuwe wat deur deelnemende winkeleienaars beman word.

Ons is skaars deur die lughawe-doeane, toe sterk koffie met pastel de nata, daardie heerlike Portugese melktertjies met die bruingebakte bokante, vertroosting bring ná hopeloos te lank in ’n vliegtuig.

Ons vind ook die Mercado de Arroios, waar jy by ou tannies vol rimpels vars groente, vrugte, neute en kaas kan koop, wat heerlik afgly met tuisgebakte brode van ooms met knoetsvingers soos sleg-gevormde aartappels.

Ek kry ’n oulike emalje-straatnommer by The Ironmonger en vir ’n bietjie Art Deco-argitektuur, gaan kyk ons op die duur Avenida da Liberdade na haar aanbevole 1934-Hotel Vitoria, vandag die streekskantoor vir die Kommunistiese Party; en om die draai, verby die Louis Vuitton-winkel, na Hotel Britania, een van die bes bewaarde Art Deco-juwele in die stad, wat vandag deel van die Historic Hotels of Europe is. Dis in 1944 gebou en al sy Art Deco-elemente is bewaar.

Ons ontdek so tussen die groot moet-sien-dinge (die Lissabon-katedraal, genaamd Sé, die Mosteiro dos Jerónimos-klooster, die Elevador de Santa Justa, die Rossio-stadsplein en die São Jorge-kasteel) die oulike wynwaentjie by die historiese Belém-toring.

Die toring is gebou as ’n fort en uitkykpunt om die stad te bewaar en jy kan jou die perdehoewe op die klipplaveisel indink, terwyl jy daar sit en droom.

Jy kry ’n opslaanstoel en sit met jou voete op die muurtjie, terwyl jy die lewe op die rivier met ’n lekker glas Portugese wyn gadeslaan.

Vyf dae is nie lank genoeg om die onontdekte straatjies van Lissabon te verken nie; maar die skatte wat ons wel ontdek het, gaan ons vir jare nog bybly.

Meer oor:  Lissabon  |  Portugal  |  Vakansie  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.