Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Kom verken luilekker Kas teen eie trant

Kasslê aan die Turkooiskus van Turkye. Ondertoe. Weg van besige Bodrum en frenetiese Fethiye, skryf Ilse Zietsman.

Die lewe in ’n vissersdorpie raak nie onstuimig nie, of so lyk dit altans. Foto: Ilse Zietsman

Die pad na Kas wek beelde van Chapmanspiek op en – erg onpatrioties – besluit ons dis waarlik mooier. Die roete neem ’n paar uur, waarin jou oë vasgenael op alles bly. G’n wonder dit word beskou as een van die mooiste roetes ter wêreld nie.

Die water in die baaitjies is turkoois met diepblou water agtertoe. Die halfmaanvormige strandjies is óf wit sand óf koeëlronde wit klippies. Dis redelik ver ondertoe – dink aan ’n onbeboude Clifton of aan inhammetjies naby Rooiels.

Hier en daar dobber seiljaggies. Wag, daar swem ’n visskieter met ’n sy oranje boei. ’n Vespa op ’n rant. Avonturiers wat teen kranse afklouter om piekniek te hou, of te vry.

Kas is klein, amper piepklein. Eers sien jy nuwe uitbreidings wat gelukkig nie deel van Kas voel nie. Heel onder is die hawetjie, ’n kelimwinkeltjie, ganse wat iets te aas soek, en vissers met verweerde gesigte.

Stap links verby die hawe na verskeie plekke om raki in die son te drink.

Kas is ver genoeg teen die Turkooiskus af dat dit minder besoek word. Daar’s nie ’n hiep gevoel nie en as jy tot laataand wil partytjie hou (soos in Hisaronu), moet jy dit op jou eie of bo teen die karakterlose bult doen. As jy met jou rug na die hawe staan en die straatjies voor jou invaar, kry jy wel plekkies waar musiek pols en lywe wieg.

In Bodrum is die musiek harder en die lywe meer terwyl spasie min is. In Fethiye praat almal Brits. In Kas is jy op jou eie missie.

Dit raak warm, hoewel nie bloedig warm soos die Boland nie. Skuifel-stadig stap ons na die hawe. Hier verwyl ons ’n uitgerekte tyd. Almal gaan hul gang. Of jy nou foto’s neem of jou net verwonder aan die rustigheid, niemand knip ’n oog nie. ’n Paar ganse waggel rond, maar op die oomblik word hier nie vis skoongemaak nie. Party sis, ander pik halfhartig na ons tone, die res wieg nader op soek na ’n seekattentakel.

Daar’s baie geleenthede om vir die dag met ’n boot uit te gaan. Foto: Ilse Zietsman

Dis windloos, wolkloos, alles weerkaats in die blink water. Ons kan selfs bootname duidelik regop en onderstebo lees. Ons skeur onsself weg van ’n idilliese foto-oomblik en gaan soek bier. Verkieslik Efes.

Aan die anderkant van die hawetjie is ’n restaurant in ’n ou huis (dit kon in Prins Albert gewees het) met ’n tuin met skadu-bome en tafeltjies. Voorgeregte is kleiner as Kas en teen Bodrum se pryse; dus konsentreer ons op koue Efes.

Alle paaie lei eintlik maar terug na die hawe. Terwyl manlief foto’s neem, drentel ek na die kelimwinkel. Dit neem lank voor iemand uitkom. Dus kan ek na hartelus snuffel en krap, en die kat wat op die voorraad ’n uiltjie knip, vir ’n middagslapie steel.

Daardie aand eet ons onder feetjieligte in die tuin van Sultan’s Garden. Die atmosfeer is soos ’n soel somersaand by die huis. Hmmm, hier’s dalk te veel toeriste.

Dis al wat die dag se arbeid van dié inwoner verg. Foto: Ilse Zietsman

Die liter huiswyn bewys ons voorspooksels verkeerd – dis bekostigbaar en aangenaam genoeg. Die koue voorgereg is ’n homp pikante tzatziki met ’n oordosis knoffel en handevol verfrissende mentblare. Weer is ons agterdog ongegrond. Toe ons warm voorgeregte bestel, val die wiele van die wa af. Elkeen kry ’n eetlepelgrootte porsie vir 9 liere elk. Dit proe na niks. Ons gee moed op. En beweeg aan.

’n Inwoner wat luiters met haar daaglikse pligte voortgaan. Foto: Ilse Zietsman

Ons vind ’n Franse madame se antiekgevulde plekkie wat aan ’n boudoir herinner. Dalk moes ons hierdie deel van Kas vroeër verken het. Hoewel dit nie ’n uitsig van die see of hawe het nie, is dit ’n baie beter opsie. Polsende Midde-Oosterse musiek en ’n geroesemoes van stemme lok ons na binne. Daar’s nie ’n legio keuses nie, maar een lyk lekkerder as die ander. Oplaas kies ons lae kussings onder ’n wilger met ’n string liggies en ’n nargileh met vrugtetabak.

Ons roer laat die volgende dag. Dit was per slot van sake ’n laat aand. Daaroor praat ons nie. Ons volstaan net daarby dat dit lekker was om saam met jong Turke (en rugsakpakkers) te kuier.

As ons nie met ’n gesonde sonbruin kleur teruggaan nie, gaan niemand glo ons was aan die Turkooiskus nie. Na inslaap stap ons na die strand. Net, dis nie ’n strand nie. Rotsterrasse met halfgeroeste leertjies waarmee jy in die helder water klim. Sonstoele en ’n kroegie binne skree-afstand. Hieraan kan ons gewoond raak! Ons spoor selfs Engelse koerante op. Aaaaa, salige vakansie.

Alle goeie dinge kom tot ’n einde. Ons skeur onsself weg van Kas; anders gaan ons nooit sover kom om die binneland te sien nie. So omkyk-omkyk is ons daar weg.

Verwyl jou tyd hier deur hierdie te doen:
  • Skubaduik: Besluit watter pakket jou pas by www.sundiving.com/kas.html.
  • Eet by die restaurantjies wat op die see uitkyk soos www.sultangardenrestaurant.com.
  • Koop keramiek by Anatolia Galeria, Hukuetstraat (net bokant Mercan-restaurant) – kyk veral vir die turqa (sultan se handtekening)-motief of koffiebekers met vuurtorings.
  • Koop ’n kelim by die winkeltjie langs die skeephelling in die hawetjie.
  • Doen ’n dagtoer na die buurdorpie, Kalkan.
  • Lees vooraf wat daar is om te doen en kyk by www.kalkanturkey.com.

Meer oor:  Ilse Zietsman  |  Kas  |  Turkye  |  Reis  |  Vakansie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.