Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Kremetarte en olifante in Tuliblok

Mik jou kar se neus noord na Limpopo en Botswana, na antieke Afrika-beskawings, yslike kremetartbome en mistieke Marslandskappe.

’n Uitsig oor die Mapungubwe-parkFoto’s: iStock

Wanneer die goue uur oor die Tuliblok se klipperige landskap spoel en alles in ’n warm gloed baai, lyk dit nes die foto’s wat die Mars Rover teruggestuur het aardbol toe: roesbruin rotsformasies en ’n onherbergsame landskap.

Al verskil is die tikkies lewe wat so hier en daar agter die rotse kop uitsteek – ’n fladder hier, ’n geskarrel daar – en ’n bleek rotsvy wat verbete aan ’n granietkrans klou.

Dis laatlente-vroegsomer in die Tuliblok, ’n stukkie wildernisarea in die suide van Botswana, en die aarde is maar droog.

Die boomtop-loopweg neem jou tussen die takke van rivieroewerwoude.

Met sonsondergang drink ons skemerkelkies op een van die granietkoppies wat uitkyk oor Tuli en die Limpopo-rivier. ’n Paar ysblokkies val per ongeluk uit die koelboks en ewe skielik krioel dit van die lewe. Reënboogkleurige akkedisse peul uit rotsskeure en slurp gulsig die kosbare stukkies vog op. En dan spaander hulle toe ’n paar klaasneusmuise hulle verwilder om ook van die water te drink.

Die “grys-groen smerige” oewers van die Groot Limpopo waarna Rudyard Kipling in sy Just SoStories verwys, is sanderig en dor. Maar, vertel die gids Jimmy Ndlovo, wanneer die reënseisoen uiteindelik sy genade oor die landskap uitstort, is dit ’n ander gesig. Dan vloei die Limpopo soos kwik deur die rivieroewerwoud, en visuile kyk met hul inkswart oë vanuit die koorsbome en njalabessies of hulle nie ’n vet baber uit die rivier kan trek nie.

Mik jy terug Suid-Afrika toe, via die Pontdrif- of Platjan-grenspos na die Mapungubwe-park, wag daar ook rotsformasies, eindelose uitsigte, en ’n ryk geskiedenis van Afrika se antieke beskawings op jou. Die beste is om ’n begeleide toer by Mapungubwe-park se hoofkantoor te bespreek, sodat ’n gids jou kan opneem na die heuwel, waar van die area se belangrikste argeologiese skatte opgegrawe is.

Moenie ’n Groot Zimbabwe of selfs ’n Thulamela (’n antieke stad in die Krugerwildtuin, naby die Punda Maria-ingang) verwag nie; van die koninkryk se geboue is daar weinig oor. Maar wanneer jy uitkyk oor die koninkryk, die rotsformasies en die akasia-Bosveld is daar amper ’n tasbare, mistieke gevoel wat jou weer gewortel met die Afrika-vasteland laat voel.

Werd om te weet
  • Die Tuliblok en Mapungubwe-park val in ’n malaria-area. Tref voorsorgmaatreëls.
  • Neem ’n langnaweek af en bring sowat twee nagte in die Mapungubwe-park en twee nagte in die Tuliblok deur. Die Mapungubwe-park se hoofingang is sowat 35 km van die Pontdrif-grenspos tussen Bo­tswana en Suid-Afrika.
  • Die Mapungubwe-interpretasiesentrum is ’n besoek werd en vertel jou meer oor die beskawing se geskiedenis. As jy egter die befaamde goue renoster van Mapungubwe wil sien, moet jy maar Tukkies toe mik waar hy deel vorm van die Universiteit van Pretoria se Mapungubwe-versameling. Die sentrum by die park huisves net ’n replika.
  • Dit neem sowat vyf tot ses uur per motor vanaf Pretoria tot by Mapungubwe. Die pad Alldays toe is sleg; kyk uit vir slaggate, beeste en donkies.
  • Die boomtop-loopweg langs die Limpopo is beslis ’n besoek werd. Dis amper soos die boomslang by Kirstenbosch; hier loop jy tussen boomtakke, met pragtige uitkykpunte oor die rivier. Gesinne met klein kinders moet versigtig wees, die bobbejane hier kan lastig wees.
  • Die beste tyd om die streek te besoek is tussen April en Julie, veral as jy van plan is om in die parke te stap. In die somer kan die kwik tot 40 °C en hoër styg.
  • Leokwe is die hoofkamp in Mapungubwe. Die kamp het nie die stilte en afsondering van Vhembe nie, maar sy swembad tussen die rotse is ’n Instagram-foto werd.
  • Jy kan die grens by Botswana oorsteek by Platjan of by Pontdrif. As die Limpopo vol is, moet jy met ’n kabelkarretjie-kontrepsie oor by Pontdrif. Daar is ook veilige parkeergeriewe om jou motor by Pontdrif te los, maar onthou jou kar se dokumente (en ’n bankbrief as jy nog afbetaal), asook versekering.

Bly hier:

Tuliblok in Botswana

Die Molema-boskamp is sowat 30 km van die Platjan-grenspos, op die oewer van die Limpoporivier. Jy kan hier tent opslaan, of tuisgaan in die selfsorg-houthuisies.

Daar is ook tente wat ten volle toegerus is met beddens en linne, as jy nie lus is vir tentpenne inslaan nie. Die koste is vanaf R185 per persoon wat kamp, en R715 vir ’n houthut waarin twee mense kan slaap. Besoek tulitrails.com.

As jy eerder op soek is na meer luukse verblyf of ’n spesiale geleentheid vier, sal die Tuli Safari Lodge die innerlike Karen Blixen in jou tevrede stel. Daar is tans ’n someraanbod van R2 700 per persoon, wat drie etes en twee wildaktiwiteite per dag insluit, asook luukse verblyf. Bespreek voor 19 Maart 2019. Besoek tulilodge.com.

Mapungubwe-park

Slaan jou tent op onder ’n yslike njalabessieboom by die Mazhou-kampeerterrein, seker een van die mooiste Sanpark-kampterreine in Suid-Afrika.

Die boomryke area is ryk aan voëllewe. Kobaltblou bosveldvisvangertjies blits van tak tot tak, en as jy gelukkig is, sien jy miskien ’n bosloerie. Vanaf R333 per kampeerplek met twee mense en R89 ekstra vir elke bykomende persoon.

Maak ’n groep vriende bymekaar en bespreek die hele Vhembe-wilderniskamp, in die ooste van die park. Die kamp, wat op ’n rantjie gebou is, is nie omhein nie en die vier eenhede deel almal ’n gemeenskaplike kombuis. Die uitsig hier is egter een van die grootste aantrekkingspunte; dit is alledaags vir gaste om op hul eenheid se stoepie te sit en ’n skemerkelkie te geniet, terwyl ’n trop grootvoete verby hulle loop. Vanaf R858 per eenheid wat twee mense huisves.

Bespreek by Sanparke.org.

Die reuse van Tuli: ’n Trop olifante beweeg tussen die basalt-rotse.
Met sonsondergang is Tuli in ’n goue warm lig gebaai

Meer oor:  Carla Lewis  |  Botswana  |  Limpopo  |  Olifante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.