Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Kry jou asem terug by Zwakala

Is daar enigiets beter as om langs ’n kabbelende bergstroom te sit, omring deur ’n woud, met ’n yskoue bier in die hand? Kom skep weer asem by die Zwakala River Retreat, ’n toevlugsoord vir moeë stadsiele in Magoebaskloof.

Boetiekbier, burgers, bergstrome en algehele sielsrus is waarvoor jy jouself kan regmaak wanneer jy die Zwakala River Retreat besoek.

Die eiendom, iets tussen ’n hipster-herberg en ’n gasteplaas sonder fieterjasies, is geleë in die ruigtes van Magoebaskloof, tussen inheemse woud en groen denneplantasies in Limpopo.

Hier kan jy hengel, in silwerskoon berg- en rivierpoele swem, woudpaadjies verken, of net ledig in ’n binneband langs die rivier afdryf.

Die omgewing is vol woudpaadjies en tuine om te verken.Foto: Carla Lewis

Slaan jou tent hier op

Hou jy van kampeer, maar maak nie sommer praatjies met jou buurman oor jou skottelbraai nie? Zwalaka se eksklusiewe Kholo’s Camp-kampeerarea is perfek vir mense wat hou van kampeer, maar ook puntenerig is oor privaatheid en gril vir gedeelde ablusieblokke.

Jy kan die kamp eksklusief vir jou familie of groep vriende bespreek.

Slaan jou tent reg langs die Broederstroomrivier op, ’n sytak van die Letabarivier wat deur die plaas kronkel. Gaste het toegang tot ’n deeglik toegeruste kombuis en ’n klein, opelug eetkamer-area. Die private ablusieblokke het spoeltoilette en warm storte en langs die rivier is daar ook ’n opelugstort, vir die wat die natuur in hul geboortepakkie wil ervaar.

As jy nie gril vir rivierswem in varswater nie, koel af in die Broederstroomrivier se silwerskoon water. En ontspan, Ma! Die bierbrouery op die perseel gebruik dit om hul bier te brou, as dit dus goed genoeg is vir bierbrou, is dit skoon genoeg vir swem.

Bring ’n lugmatras of binneband en dryf rustig op die water. Daar is ook staproetes en bergfietspaaie in en om die omgewing om te verken, of jy kan lyn natmaak in die rivier en forel vang.

Kuier die aande om langs ’n kampvuur in die boma. Zwakala verskaf ook vuurmaakhout.

Onthou! Die kampeerterrein kan net met ’n 4x4 bereik word. Dit kos vanaf R300 per persoon, met ’n maksimum van ses mense. As jy nie hou van kampeer nie, is daar ook ’n verskeidenheid van selfsorgverblyf op die perseel vir elke smaak.

Bespreek by www.zwakalaretreat.co.za of skakel 083 980 8433.

Tebogo Modiba, een van Zwalaka-brouery se bestuurders, maak reg om ’n koue een te skink.Foto: Carla Lewis

Hoe lyk dit met ’n koue een?

Sowat ’n kilometer op in die pad is die Zwakala-boetiekbrouery, ’n bekroonde bierbrouery wat oor naweke een van Magoebaskloof se gewildste kuierplekke is.

Tebogo Modiba, een van die brouery se bestuurders, vertel die bier word gebrou met die suiwer water van die Letabarivier, wat dit sy fris, suiwer smaak gee.

Luidens legende is die rivier so ’n bietjie van ’n Trevifontein in Limpopo. Die storie loop as jy eers van die suiwer waters van die Letaba gedrink het, jy weer en weer sal terugkeer vir nog.

Jy kan deelneem aan ’n bierproe, waar jy tot vyf van die brouery se biere kan beproef, of vir jou ’n burger en bier bestel en buite sit in die Laeveldse sonnetjie.

Mense kom van heinde en verre om hul bier-en-burger kombo’s te geniet.

My gunsteling was die Mountain Weiss, met sy verfrissende vrugtegeure en ’n tikkie groen piesang.

Hul Light Beer het verlede jaar ook die prys gewen vir die beste ligte bier by die Suid-Afrikaanse Nasionale Biertrofee-pryse.

As jy eerder G&T’s pleks van lagers verkies, kan jy ook ’n jenewer van een van die boetiekstokerye in die omgewing bestel.

Onthou! Die Zwakala-brouery is elke Saterdag en Sondag oop van 11:00 tot 17:00 en is geleë op die Cheerio-pad in Magoebaskloof. Hulle hou ook gereeld musiekkonserte, pretwedlope en bierfeeste.

Besoek zwakalabrewery.com vir die jongste inligting.

Bring ’n lugmatras of binneband en dryf rustig op die water.Foto: Zwakala

Blom- en boomprag

Beplan jou besoek in September. Zwakala se bure op die bekende Cheerio Road, Cheerio Gardens en Sequoia Garden Retreat verander dan in ’n skelpienk lushof van asaleas en kersiebloeisels.

In die herfs (Maart en April) is dit weer ’n herfssprokie soos die bome verander in goudgeel, roesbruin en dieprooi.

Bespreek ’n private natuurgids

Die nabygeleë Woodbush Forest Reserve is een van die beste voëlkykbestemmings in die land.

Spits jou ore en hou jou oë oop vir die skaars woudpapegaai, bloukuifvlieëvanger, swartoogboslaksman, bosloerie en groen kolpensies, wat gereeld in die woud opgemerk word.

Of nog beter, huur ’n voëlgids van die omgewing, hul fyn oë en ore en kennis van die gebied sal jou ervaring soveel beter en ryker maak.

David Letsoalo word gereken as een van Suider-Afrika se beste voëlgidse en sal jou help om daardie lifer uit te snuffel.

Hy is ook ’n foendi van plante en skoenlappers van die streek en ken al die spesiale plekke en geheime wegsteekhoekies.

Wil jy ’n bosloerie of woudpapegaai sien, of aan die voete staan van die wêreld se hoogste kiepersol? Hy kan jou beslis hiermee uithelp.

Kontak hom by 083 568 4678 of stuur ’n WhatsApp.

Carla Lewis@Diereismier

Meer oor:  Gasteplaas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.