Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Kry ’n sensoriese ervaring

Taiwan is nie jou tipiese vakansiebestemming waarheen toeriste stroom nie. En tog is dit ’n land met ongeëwenaarde groenigheid wat jou siel terselfdertyd opgewonde en ontspanne maak.

Die enigste moeilikheid met kampeer in Taiwan is om te kies of jy die berge of see wil sien.Foto’s: Mariëtte Sorgdrager en Wynand Holtzhausen

Wanneer ek aan my lys toe­koms­tige reistogte dink, was Taiwan nog nooit heel bo gewees nie. Ek dink nie eens dié klein eiland was op my lys nie. Dit was nie dat ek Taiwan wou vermy nie, ek het bloot net te min daarvan geweet. Dit is ver, dit is in die Ooste en dit is nie Thailand nie. Dít was die somtotaal van my kennis.

Gelukkig het ek ’n vriendin wat daar skoolhou en toe die vliegtuig opstyg, was ek op pad na die immergroen weivelde van Taiwan, en my perspektief oor hierdie land sou vir altyd verander.

Van die oomblik toe ek van die vliegtuig afklim, het ek besef dat Taiwan ’n sensoriese avontuur gaan wees. My reuksintuig was die eerste sintuig wat geprikkel is.

Taiwan het ’n unieke reuk.

Die een reuk wat my nou nog bybly, is die aroma wat jou tref wanneer jy by enige 7-Eleven instap. As ’n vinnige peuselhappie verkoop hulle graag patats en eiers in ’n asynagtige sous. Hierdie reuk kry jy waarskynlik in elk van die 5 222 7-Eleven-winkels.

Die sensitiewe ondergrondse stelsels dra dalk ook net by tot die reuk in die lug.

Al wat ek gaan sê is dat jy bitter selde jou toiletpapier in die toilet self mag gooi . . . Wees gewaarsku.

Ten spyte van die badkamer­situasie, is hierdie land higiëne vanself. Dit is die skoonste plek wat ek nog gesien het.

In my tyd daar het ek nie een papier of sigaretstompie gesien rondlê nie. Nie eens ná ’n groot jol sal jy iets sien nie. Dinge in Taiwan wérk.

Dit is eerstewêrelds en verbasend veilig.

Die Sjenwei Tiantaisjan-klooster is nie net indrukwekkend oor sy vergulde voorkoms nie, maar die gedetailleerde dekoratiewe elemente sal jou ook ’n tydjie besig hou.

Taiwan se natuurskoon

Taiwan is ook lieflik groen. Dink Kringe in ’n bos, maar op steroïede. Selfs wanneer die stede jou vasvang, is die groenigheid nie meer as ’n paar kilometer van jou af nie. Net anderkant die ongelooflike besige strate van Taipei kan jy ’n paar honderd bostrappe klim en op die berg Zjongzjeng se uitkykdek werklik sien hoe vinnig dinge van stad tot bos oorloop.

Geniet die versteekte Asia Village net buite Maolin om vir ’n oomblik van die stad weg te breek.

Die Taroko Nasionale Park bied ook natuurskoon wat beslis nie teleurstel nie. Daar is plantegroei ja, maar dan is daar die berge. Hierdie reusagtige monsters het my asem weggeslaan. Ons het die Zjwiloe-roete aangedurf, en dit was swaar. Dit is nie noodwendig die moeilikste klimtog nie, maar probeer jou lyf aktief in 75% humiditeit hou terwyl jy tot 750 m hoog klim . . . Boonop is sommige van die paadjies op die hoogste deel van die berg net 30 cm breed. Dit is hoog en angswekkend, maar sjoe, idillies.

As jy wel hierdie staptog wil aanpak, maak net seker dat jy minstens 30 dae voor jou klimtog om ’n permit aansoek doen. Die meeste groot staptogte vereis ’n permit wat jy maklik aanlyn kan kry.

As jy meer van ’n sonsopkoms as staproete hou, moet jy beslis by Alisjan, ook bekend as berg Ali, uitkom. Dit is een van Taiwan se top-besienswaardighede, juis as gevolg van die sonsopkoms wat jy oor Joe Sjan (berg Jade), die hoogste berg in Taiwan, kan sien. Maak jou gereed om vieruur die oggend op te staan en in ’n propvol treintjie te klim om hierdie magiese sonsopkoms te sien.

Voordat ons Alisjan toe is, het ons ’n draai in die dorp Fentsjihoe gemaak. Dit is ’n gesellige antieke dorpie wat oorspronklik ontwikkel het rondom treine wat daar gestop het om brandstof te kry. Handelaars het besef dié treine is met honger werkers en reisigers gevul en het ’n geleentheid raakgesien. Die bekende Lunchbox in die Fentsjihoe-hotel is een van die bederfkosse wat al meer as ’n halfeeu gelede op treine geniet is.

Hoewel die trein nou net besoekers rondry, kan jy steeds die kosblik-ervaring kry. Die bestanddele is vars en geurig, en kom in ’n oulike staalkosblik.

Die ongelooflike uitsig van die Zhuilu Old Trail.

Taipei en tempels

As jy meer van ’n stadsjapie as ’n natuurliefhebber is, is daar beslis ’n hele paar besienswaardighede waarna jy kan uitsien. Jy kan omtrent ’n hele vakansie net in Taipei beplan. Taipei 101 is een van die bekendste geboue in Taiwan en dit strek tot in die hemele in. Die naam dui op die aantal verdiepings in die gebou. Gaan op tot die 89ste verdieping van waar jy ’n uitsig van 360 ° oor Taipei het.

As tegnologie jou opgewonde maak, gaan Taipei jou veral interesseer. Maak seker dat jy ’n draai in Camerastraat gaan maak. Daar is al die nuutste katoetersteen ’n baie goeie prys te koop.

Stede soos Hoealien en Taitsjoeng het genoeg binnemuurse ervarings om stadsdiere besig te hou. In Taitsjoeng het ek dit gate uitgeniet in dié reënboogdorpie. Die oudsoldaat Hoeang Joeng-Foe het kleurryke kunswerke op klein vervalle huisies geskilder om te keer dat dit afgebreek word. As jy ’n goeie Instagram-foto wil neem, is dit net die plek.

Banyan bome, hoewel nie inheems tot Taiwan nie, dra sy jare op sy vervlegte takke.

Maak seker dat jy ook ’n uitstappie na ’n kat-kafee inwerk. Hierdie konsep het in Taiwan ontstaan en ja, dit is ’n kafee waar jy katte kan streel terwyl jy jou koffie geniet. Hemels!

Ek was meer geïnteresseerd in die tempels as in die wolkekrabbers en stede. Hoewel daar ook ’n hele paar streekgelowe is, is Boeddhisme en Taoïsme die twee oorwegende gelowe wat in Taiwan beoefen word. Hierdie twee gelowe sorg natuurlik vir pragtige tempels. Die Fo Goeang Sjan Boeddha-museum in Kaohsioeng spog met die grootste Boeddhiste-klooster in Taiwan. Namate jy na die museum aangery kom, begroet ’n massiewe Boeddha met ’n glimlag jou. In die museum-deel van dié klooster word ’n klomp interessanthede ten toon gestel.

My gunsteling-tempels is net buite die vlinderdistrik Maolin te vinde. Met die eerste tree op die terrein van die Di Joean-tempel is jy reeds betower. Nie omdat die gebou so ongelooflik kleurryk is nie, maar omdat daar letterlik honderde verskillende Boeddha-standbeelde buite die tempel staan. Elkeen het ’n ander gesigsuitdrukking, rekwisiet of ouderdom.

Dit is ongelooflik vermaaklik om elke standbeeld te bestudeer en te besef dat elkeen uniek en handgemaak is.

In teenstelling met hierdie kleurryke tempel is daar die vergulde Sjenwei Tiantaisjan-klooster.

Die hoeveelheid goud en wit wat gebruik is, sou in enige ander konteks dalk baie kitsch voorgekom het, maar omdat hierdie klooster omring is deur groen natuur skep dit ’n soort magiese atmos­feer wat die gebou omvou.

Danksy die humiditeit floreer al wat ’n orgidee is.

Smultyd en straatmarkte

Jou smaaksintuie gaan óf jubel óf glad nie gelukkig voel in dié land nie. Moenie my verkeerd verstaan nie, daar is beslis ’n kossoort vir elke kieskeurige eter, maar Suid-Afrika se romerige disse gaan jy nie daar kry nie. Vergeet ook maar van die stereotipiese Oosterse kos wat ons ken. Jy gaan beslis nie wonder wat op jou bord is nie, inteendeel, die Taiwannese is so lief vir hul diere dat daar omtrent meer hondesalonne as haarkappers is.

Straatmarkte is baie gewild oor die hele Taiwan heen. Die groot stede het elke aand ’n aandmark. Dit is hier waar jy interessante plaaslike geregte kan proe.

Die Taiwannese kus bied ’n geleentheid om ’n oomblik stil te staan en die natuurskoon in te neem.

’n Paar geregte wat ek verskriklik geniet het, is groenui-pannekoeke, stinky tofu, kluitjies en gestoomde broodrolletjies. Die kos kan egter baie misleidend wees, want dit het dalk ’n snaakse reuk, maar wanneer jy dit proe, ervaar jy ’n aangename ontploffing van smake.

Die dae wanneer die drukkende hitte net een te veel was, het ek graag shaved ice en bubble tea geniet. Bubble tea kom oorspronklik van Taiwan af, so dit is ’n moet, en aangesien dit mango-seisoen in Julie is, was ’n vars mango ook ’n lekker soetigheid.

Dit is moeilik om in Taiwan rond te reis sonder om water te sien, hetsy dit nou die see, watervalle of mere is.

Aan die kus van die Taitoeng-distrik kan jy met ’n brug vanaf die vasteland oor die water na die Sanksiantai-natuurreservaat loop. Dit is ’n onwerklike ervaring om oor hierdie brug te stap. Dit het gevoel of ek na ’n paradys stap.

As jy eerstehands die water wil ervaar, kan jy plek bespreek in ’n herberg vir rugsakreisigersin Doelan en van daar af in die see gaan baljaar. Lesse in branderplankry word ook deur die meeste inwoners aangebied.

Die Gwisjan-eiland, ook bekend as Skilpad-eiland, is nog ’n eiland wat jy met ’n vinnige veerbootrit oor die water kan bereik.

Maak seker dat jy ’n snorkel en paddavoete inpak, want as jy in die water gaan wees, sal jy beslis seeskilpaaie sien. Ek het soos ’n kind gevoel toe hierdie massiewe skilpad onderdeur my lyf deur die water klief.

Of dit nou water, die natuur of die stadslewe is wat jou siel verkwik, jy sal hierdie ervaring in Taiwan kan vind.

Kyk verby die humiditeit en kommunikasieprobleme wat soms kan ontstaan, en jy sal besef dat hierdie lewendige eiland een groot sensoriese ervaring vir jou sintuie is.

Goed om te weet
  • Die visum-aansoekproses is redelik eenvoudig. ’n Vinnige Google-soektog van die “Taipei Liaison Office” sal jou na die regte webtuiste neem. Hier vul jy ’n paar vorms in en maak jou visum-afspraak. Die visum-aansoek is verniet en dit is nie nodig dat elke persoon homself gaan verteenwoordig nie. Jy hoef ook nie self jou paspoort te gaan haal nie. Die belangrikste dokumente is maar jou vliegkaartjies, bewys van verblyf, geld en ’n brief van jou werkgewer. Dit is ’n redelike pynlose proses en jy kan binne vier dae jou paspoort gaan haal.

  • Verblyf is so eenvoudig om te kry. As jy ’n kampeerder is sal jy ekstaties wees oor die talle gratis kampeerterreine oor Taiwan heen. Sou jy verkies om vier mure rondom jou te hê, is webtuistes soos Booking.com  ’n goeie keuse.

  • Hoewel ons met die kleinste Nissan-karretjie rondgery het, het Taiwan ’n puik openbare­vervoerstelsel. Jy sal elke besienswaardigheid op die eiland deur middel van openbare vervoer kan bereik. As jy baie vinnig baie ver moet reis, gaan die HSR (High Speed Rail) jou beste keuse wees. Hierdie trein ry tussen ’n uur en ’n half en twee uur van Taipei na Kaohsiung.

Inheemse Taiwannese beeldhouwerke kan oor die eiland heen gesien word.
’n Aangename botsing van kleure in die reënboogdorpie.
’n Verskeidenheid emosies begroet jou by die Di Joean-tempel.
Meer oor:  Tapei  |  Taiwan  |  Reis  |  Vakansie  |  Toerisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.