Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Kuier by Keukenhof se tulpe

Keukenhof, die tulppark wat in die Europese lente oop is, plant jaarliks ongeveer sewe miljoen blombolle, oorwegend tulpe. Ilse Zietsman deel ’n paar interessante feite oor dié park en sy kleurryke tulpe.

Glo dit of nie, tulpe kom nie oorspronklik van Nederland nie. Hulle is afkomstig van Sentraal-Asië.

In 2019 is daar sewe miljoen blombolle by Keukenhof geplant. Foto: Ilse Zietsman

Oor hoe en wanneer daar met die kweek van wilde tulpe begin is, is niemand seker nie. Wat ons wel weet, is dat daar teen 1050 reeds tulpe in die tuine van Persië voorgekom het. In die 16de eeu was tulpe reeds gewild in die Ottomaanse Ryk.

Niemand weet ook presies wanneer die eerste tulpe in Europa aangekom het nie.

Wat wel gedokumenteer is, is hoe ’n pakkie tulpbolle op ’n skip vanaf Istanbul in Antwerp, België, aangekom het. Dié waardevolle pakkie was tussen bale materiaal wat deur ’n handelaar bestel is, ingedruk.

Die niksvermoedende handelaar het die meeste tulpbolle gaargemaak en vir aandete verorber. Die paar wat oor was, het hy in sy groentetuin geplant. In die lente van 1563 het die handelaar tot sy verbasing helder tulpblomme in sy groentebedding bespeur. Daar word bespiegel dat dit moontlik is hoe tulpe die eerste keer in Nederland, vanaf België, beland het.

Carolus Clusius, een van die mees gerespekteerde botanici wat die wêreld nog opgelewer het, was – ook in die 1500’s – verantwoordelik vir die klassifikasie van verskillende tulpsoorte. Teen die 1630’s is 13 verskillende soort tulpe reeds geïdentifiseer met name soos Couleren, Marquetrinen, Rosen, Violetten en Bizarden. Snaaks genoeg was wit of geel tulpe die gewildste.

Die rooi van Rosen-tulpe en die pers van Vio­letten-tulpe het soos vlammetjies op elke blomblaar vertoon; die tulpe is volgens hierdie blomblaarpatrone gegradeer. Min het enig­iemand toe geweet dat die tulpe ’n siekte onder lede gehad het wat juis hierdie kleurveranderinge veroorsaak het.

Die begin van die einde

Die tulpversameling wat op 5 Februarie 1637 onder die hamer gekom het, het aan Wouter Bertelmiesz Winkel, ’n tulpkweker, behoort. Of, om meer akkuraat te wees, die tulpbolle het aan sy kinders behoort, ná hy vroeg afgesterf het. Die Alkmaar-weeshuis waar die kinders ’n heenkome gevind het, was betrokke by die reëlings van die veiling.

In die maande ná Winkel oorlede is, het tulpmanie met rasse skrede toegeneem.

Die pryse wat Winkel se tulpe op die veiling behaal het, was van die hoogste wat nog ooit behaal is. Máár, dit was die begin van die einde. Sulke pryse was geensins volhoubaar nie.

Met die volgende veiling enkele dae later het niemand gebie nie. Amper oornag het die bodem van die tulpmark ineengestort. Skielik wou almal naarstigtelik al die tulpbolle in hul besit verkoop. Daar was egter nie kopers nie.

Teen Mei 1937 – slegs drie maande later – is ’n bedding tulpe wat in Januarie 1637 vir sowat 800 guldens sou verhandel het, vir ’n skamele 6 guldens verkoop.

Die kat, of die tulpe, kom weer

Nederland is nog steeds bekend vir hul tulpbedryf. ’n Besoek aan Keukenhof, sowat 40 km vanaf Amsterdam, is ’n uitsonderlike reisbelewenis. Die tuine maak net een keer per jaar vir ’n paar weke oop.

Dis ongetwyfeld ’n móét-sien op jou reiskalender. Jy sal ophou tel hoeveel keer jy na jou asem snak soos wat jy van bedding na bedding, van tuin na tuin, loop. Behalwe tulpe is daar ook baie affodille te sien.

  • Bron: Tulipomania – The story of the world’s most coveted flower and the extraordinary passions it aroused deur Mike Dash.
  • Wanneer: Voor die uitbreek van die koronavirus sou dit op 21 Maart geopen het. Dit sal egter nie meer op dié datum oopmaak nie. Verdere kennisgewing sal ná 6 April aangekondig word. Hou hul webtuiste dop: https://keukenhof.nl/en/.
Neem kennis!

Die bylaag is bespreek voor streng reisbeperkings weens die koranavirus ingestel is. Ons raai lesers aan om ná die nasionale inperking by ambassades seker te maak watter reisbeperkings in plek is. Intussen deel ons ’n paar reisbestemmings wat jy solank op jou lysie van moet-besoek-plekke kan sit. Geniet dit!


    Meer oor:  Nederland  |  Tuin  |  Vakansie  |  Reis  |  Blomme
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.