Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Kuier in die Karoo se storiehuis

In ’n statige ou herehuis op Somerset-Oos sit vier jong en tot dusver onbekende skrywers en werskaf aan ’n speurverhaal op die Kaapse Vlakte, ’n storie oor liefde en verlies, ’n onthou-verhaal en ’n Noord-Kaapse liefdestorie. Die huis het egter self ook ’n storie, vertel Deonette Haggard. 

Shana Fife, Sharon Mgoa-neng, Bronwyn Davis en Engela Ovies is hier onder die mentorskap van die deurwinterde boekeredakteur Suzette Kotzé-Myburgh en die bekroonde skrywer François Bloemhof aan ’t huis by die Jakes Gerwel-stigting in Paulethuis om aan hul debuutwerke te poets.

Dié verblyf en slypskool is ’n gesamentlike projek van PEN Afrikaans en die Jakes Gerwel-stigting, wat onlangs die huis opgeknap het.

Die vooraansig van Paulethuis.Foto: Jakes Gerwel Stigting
Die vooraansig van Paulethuis op Somerset-Oos.Foto: Jakes Gerwel-Stigting
Paulethuis se agteraansig. Die balkon is eers later, tydens die restourasie aangebou. Foto: Jakes Gerwel Stigting

’n Meer gepaste omgewing om ’n storie te laat lewe kry kan ’n mens jou beswaarlik indink, want as dié huis kon praat, sou dit sweerlik meesleurende stories kon vertel. Die statige ou dame is al amper 200 jaar oud en deur die jare het sy baie lief en leed van haar inwoners gedeel.

Die huis is genoem na Lady Mary Poulett, die tweede vrou van lord Charles Somerset, die goewerneur van die Kaapkolonie van 1814 tot 1826 nadat Engeland dit van die Hollandse regering gekoop het. Waarom die spelling na “Paulet” verander is, weet nugter, maar waarom die huis haar naam dra, is voor die hand liggend.

Lord Charles Somerset

Somerset was immers die man wat gesorg het dat dié dorp, wat nou sy naam dra, aan die voet van die welige Boschberg tot stand kom.

Somerset was bekend as ’n heerssugtige man en nie baie gewild nie, maar hy het wel ’n besliste begrip gehad van sy verantwoordelikheid teenoor die Britse kroon sowel as die kolonie wat hy moes regeer.

In ’n poging om die ekonomiese probleme van die nog onontwikkelde land op te los en weliswaar ook beïnvloed deur sy liefde vir die land het Somerset daadwerklik probeer om die natuurlike hulpbronne van die jong land aan te pas en gewasse te laat verbou met die doel om met die buiteland handel te dryf.

Dié koerantartikel het op 11 November 1935 in Die Burger verskyn.

Hiervoor het hy goeie grond nodig gehad en daarom het hy sommer in sy eerste jaar as goewerneur reeds ’n ou vriend, die botanis dr. Joseph Mackrill, gevra om, wanneer hy deur die Kolonie reis op soek na plante, sy oë oop te hou vir moontlike vrugbare landbougrond.

Skaars ’n maand later, by Agter-Bruintjies-Hoogte aan die voet van die Boschberg, kry Mackrill toe net die plek wat hy soek en laat weet sy lordship: “At least a thousand acres; was covered with excellent sweet pasture, there was not an inch of useless ground; the water supply was good and there were approximately 6 000 tobacco plants.”

Somerset het nie op hom laat wag nie en die Engelse regering het terstond die grond teen £270 van die boerefamilies Trichardt en Bester gekoop. Somerset het beveel dat ’n plaas aangelê word wat onder Mackrill se beheer moes wees.

Mackrill was duidelik ’n man wat geweet het aan watter kant sy brood gebotter is en toe hy, sy familie en ander afhanklikes op 1 Januarie 1815 van die plaas besit neem, stel hy voor dat dit Somerset Farm genoem word, want “the land merits your Excellency’s noble and ancient name”.

Regeringsubsidies het gehelp om eenvoudige setlaarshuise te bou en daar is ook gesorg vir blyplek vir soldate en ’n watermeul wat tot vandag toe nog te siene is. Nie lank hierna nie het Mackrill die eerste tabakoes Kaap toe gestuur. Die oorspronklike boere, Trichardt en Bester, het reeds vooraf die meeste werk vir hierdie oes gedoen, maar die hoop was nietemin dat die oeste in die toekoms net so suksesvol sou wees.

Paulethuis se agterplaas. Die geboutjie in die agtergrond is waar Gerwel sy skilpadmuseum ingerig het.Foto: Jakes Gerwel-Stigting

Ongelukkig, weens die wrywing tussen die Hottentot- en soldatewerkers op die plaas, het Mackrill ná slegs twee jaar besluit om eerder te bedank en voorgestel kapt. Robert Hart van Grahamstad word as sy opvolger aangestel.

Hart het toe in 1817 die leisels op Somerset Farm oorgeneem en homself hart en siel in die projek gewerp. Vir Hart was dit egter gou duidelik dat tabakverbouing onekonomies sou wees. Dit was eers veel later, onder sy streng toesig en met beter landboumetodes, dat die plaas uitstekende landbouresultate behaal het.

Somerset Farm het gesorg vir ’n bestendige stroom oeste, perdevoer en perde aan die troepe wat die grense van die Kolonie moes beskerm.

Die leeskamer van Paulethuis. Die oorspronklike houtvloere het in die restourasie behoue gebly. Foto: Jakes Gerwel-Stigting

Dit was egter nie ’n maklike taak nie. Vir die tien jaar wat Somerset Farm bestaan het, was daar baie kritiek oor die administrasie van die plaas. Die omgewing se boere en ook die 1820-setlaars wat hier kom woon het, was diep ontsteld omdat die regeringsplaas dieselfde goedere as die boere teen goedkoper pryse verkoop het. Die mense het gevoel hul lewensonderhoud word bedreig en hul weersin het daagliks gegroei.

Hulle het ernstige klagte teen lord Charles gebring en in 1825 het hy onder die druk geswig en uiteindelik die plaas gesluit. Hy het besluit om ’n Drostdy te vestig en daarmee saam ’n nuwe distrik.

In Maart van dieselfde jaar is in die Cape Town Gazette and African Advertiser berig dat die “ . . . New Drosdy in Bruintjies Hoogte, on the spot heretofore known as Somerset Farm . . . ” gevestig sou word. Hierdie aankondiging is gevolg deur ’n advertensie waarin 94 erwe op Somerset Farm te koop aangebied is. Die voorskrifte in die advertensie in die Gazette was dat die erwe van straat tot straat sou deurloop en dat huise so na aan moontlik aan die straat gebou moes word.

Teen hierdie tyd het die plaas al klaar soos ’n kleinerige dorpie gelyk met baie bome, watervore, groot erwe, Georgiaanse huise en kleiner huisies wat knus aan die Boschberg se voet lê.

Die erf waarop Paulethuis gebou is, is een van die eerste drie erwe wat onmiddellik ná die dorp se stigting toegeken is. (Die “Oos” in die naam is eers sowat 30 jaar later bygevoeg om dit van die dorp Somerset-Wes, wat toe reeds bestaan het, te onderskei.)

Paulethuis se eerste eienaar was ’n 27-jarige slagter, Robert Robinson, wat in 1820 saam met ’n groep Britse setlaars op die Brilliant vanaf Engeland in Suid-Afrika aangekom het. Hy is vergesel van sy vrou, Martha, en vyf kinders: Louise, Robert, John, Phillip en William.

Die grafte van die Du Toit-seuns se honde met grafstene vir onder meer Stompie, Fritz en Andy.Foto: DEONETTE HAGGARD

Die Robinsons het met baie hoop in hul hart na Suid-Afrika gekom, waar hulle hul eie grond sou kon bekom en ’n nuwe lewe as gesin bou. Dit was Robinson wat die voorste gedeelte van die dubbelverdiepinghuis gebou het. Hoe lank hy en sy gesin daar gewoon het, is nie duidelik nie, maar dit was die gesin van die welbekende prokureur Francis Pierre du Toit wat die langste in Paulethuis gebly het.

In 1937 het die weduwee May Archer, wat tot met sy dood vroeër die jaar saam met haar man, Thomas, daar gewoon het, die erf onderverdeel.

Petrus Jordaan het die een deel gekoop en Du Toit het die deel met die huis op gekoop. Hier het hy en sy vrou, Wiletta, 46 jaar gewoon en hul drie seuns grootgemaak totdat Du Toit in 1983 oorlede is. In dieselfde jaar is die huis as ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar.

In 1991 het Piet Badenhorst die Paulethuis by Du Toit se weduwee gekoop en dit as ’n gastehuis bedryf. Die gastehuis het voortbestaan selfs nadat prof. Jakes Gerwel die huis in 1993 gekoop het.

Die huis het deur die jare besonder goed versorg gebly en die klein hondebegraafplaas waar die Du Toit-seuns vyf van hul honde in die roostuin begrawe het, is iets besonders. So is ook die buitegeriefie wat steeds in werkende toestand is.

In 2007 het Gerwel, ’n boorling van die Somerset-Oos-distrik, egter ’n restourasieprojek van stapel gestuur om Paulethuis te laat opknap voordat hy sy intrek teen Kersfees dieselfde jaar daar geneem het. Die restourasie is gedoen met ’n fyn aanvoeling vir die behoud van historiese gedenkwaardighede en daarom is daar versigtig te werk gegaan en is sorgvuldige rekords, skriftelik sowel as fotografies, bygehou van alle items en materiaal wat onder vloerplanke en selfs in die mure gevind is.

Dit was tydens dié restourasieproses dat die argitekte gevind het dat Paulethuis aanvanklik net uit die voorste dubbelverdiepinggedeelte bestaan het. Nog twee dele na agter is eers jare later aangelas om die huis tot sy bestaande vorm te vergroot.

Die voorste deel van die huis is van halfgebakte stene gebou en met modder gemessel en die dak is met kleiteëls gedek. Oral in die huis is van die beste handgekapte houtsoorte soos stinkhout, geelhout, ysterhout en oregondennehout te vind. Dit sluit die vloere, die boonste en onderste plafonne, muurpanele, deure en kaggels in, asook versierwerk en die swaar stinkhoutdeure wat die voor- en eetkamer verdeel.

Die argitekte se rekords is nou ’n belangrike deel van die huis se geskiedenis en wys onomwonde dat die huis reeds tussen 1825 en 1827 gebou is. Tydens die re-stourasiewerk is die voordeur teruggeskuif na sy aanvanklike plek aan Pauletstraat se kant en ’n balkon, met ’n uitsig op die ruim tuin is aan die agterkant ingebou. Gerwel het ook aan die verste suidelike punt van die erf ’n gebou laat oprig wat hy as museum gebruik het vir sy unieke skilpadversameling – skilpaddoppe en nagemaakte skilpaaie.

Tydens die restourasiewerk is ’n put langs die huis ontdek wat waarskynlik ouer as die huis self is en dalk selfs uit die jare 1700 dateer. Dié ontdekking is toevallig gemaak toe iemand op twee plat klippe getrap en gesien het daar sypel water deur. Nadat hulle die klippe en rommel verwyder het, het hulle die put ontdek wat met outydse roustene uitgelê is.

Paulethuis was baie na aan Gerwel se hart en sy vrou, Phoebe, het ná sy dood in 2012 die huis aan die Jakes Gerwel-stigting geskenk.

Ontrimpel en mooigemaak ontwaak die wel deurleefde ou dame dus weer en staan sy steeds kop omhoog en trots as een van die 13 geskiedkundige denkwaardighede in Somerset-Oos.

Prof. Jakes Gerwel

GERT JOHANNES (JAKES) GERWEL 1946 - 2012

  • Gebore op die plaas Malvern sowat 64 km suid van Somerset-Oos.
  • Gaan skool aan die Bracefield-plaasskool en later aan Dower Col-lege op Uitenhage en die Sekondêre Skool Paterson in Port Elizabeth.
  • Verwerf sy BA met Afrikaans, Nederlands en sosiologie en sy honneursgraad in Afrikaans en Nederlands onderskeidelik in 1967 en 1968 aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), albei cum laude.
  • In 1979 verwerf hy sy doktorsgraad in letterkunde en filosofie (D.Litt. et Phil. magna cum laude) aan die Vrije Universiteit Brussel (VUB) in België.
  • Hy word in 1987 visekanselier en rektor van die UWK.
  • Van 1994 tot 1999 dien hy as direkteur-generaal van oudpres. Nelson Mandela se kantoor en sekretaris van die kabinet. Hy is ook Madiba se toespraakskrywer, vriend, raadgewer en vertroueling.
  • In 1999 ontvang hy die vryheid van Somerset-Oos, maar hy wys ’n voorstel dat Charlesstraat se naam verander en na hom genoem word van die hand om konflik en ongelukkigheid op die dorp te vermy.
  • Hy word ook in 1999 as die kanselier van die Rhodes-Universiteit in Grahamstad aangestel.
  • Hy dien van 2000 in die raad van direkteure van Media24 en word in 2006 die voorsitter van die raad.
  • Benewens sy doktorsgraad is hy ook die ontvanger van 13 eredoktorsgrade.
  • Hy het ook die Suid-Afrikaanse Orde van die Suiderkruis, die Orde van Koning Abdoelaziz (Saoedi-Arabië) en die Orde van Goeie Dade (Libië) ontvang.DIE JAKES GERWEL-STIGTING

Vir meer inligting oor die Jakes Gerwel-stigting en die residensie aan Paulethuis, besoek jgf.org.za.

Meer oor:  Karoo  |  Huis  |  Oos-Kaap Naweek  |  Verblyf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.