Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Kuier met die spoor langs

Die uitsigte van ’n motorrit en die agteroorsit-en-niks-doen van ’n vlug?.?.?. Treine bied die beste van albei wêrelde, skryf Delia du Toit.

Die Bloutrein is al so deel van Suid-Afrikaanse kultuur dat groot name soos Koos Kombuis en Theuns Jordaan daaroor sing.

Maar dis beslis nie die enigste opsie nie. Hetsy jy ’n pretrit, ’n luukse vakansie of ’n daguitstappie wil doen, dié treinritte is net die ding.

Umgeni-stoomtrein

As jy lief is vir geskiedenis, sal jy gek wees na die Umgeni-treinrit. Die eerste treine wat op dié lyn na Pietermaritzburg gery het, het in 1880 die stasie in Durban verlaat en vandag word ’n lokomotief gebruik wat van 1938 dateer, asook spoorwaens uit die 1920’s. Die rit van Kloof na die Inchanga-stasie en terug duur net meer as drie uur, met pragtige uitsigte van die omringende valleie en koppies op pad. By Inchanga kan passasiers die stasiemark of spoorwegmuseum besoek, of piekniek hou onder die bome daar in die omgewing voor die rit terug na Durban.

Vertrekpunt: Stokers Arms-restaurant, Kloof (die ou Kloof-stasie).

Wanneer: Die laaste Sondag van elke maand om 08:30 en 12:30.

Kaartjies: R260 vir volwassenes, R190 vir kinders jonger as 12 jaar en pensioentrekkers.

Kontak: umgenisteamrailway.com

Reefsteamers se Susan-lokomotief op pad na Heidelberg. Foto: Neil Bennett
Heidelberg Wanderer

Neem ’n rit van 48 km al langs die grens van Mpumalanga en Gauteng op “Jozi se eie stoomtrein”, soos Reefsteamers hul treine noem.

Verkyk jou rustig aan die natuurskoon en landerye terwyl jy smul aan versnaperinge uit jou eie piekniekmandjie of die lekkergoed, skyfies en kolwyntjies wat op die trein te koop is.

Die rit eindig laatoggend in Heidelberg, waar jy sowat vier uur het om te vertoef. Die dorp, wat in 1866 gestig is en ’n belangrike basis was gedurende die Anglo-Boereoorlog, is ryk aan geskiedenis. Die gerestoureerde treinstasie bied ook baie om te ontdek, soos ’n restaurant in ’n treinwa genaamd The Culinary Express. Of gaan kuier by die Heidelberg-brouhuis, waar daar verskeie boetiekbiere is om van te kies. Die dag eindig om 17:00 terug in Johannesburg.

Vertrekpunt: Rhodesfield-stasie, Kempton Park.

Wanneer: Een keer per maand om 08:30; sien webwerf vir datums.

Kaartjies: R330 vir volwassenes, R275 vir kinders 4 tot 12 jaar, kinders onder 4 jaar gratis.

Kontak: reefsteamers.com

Irene Steamer

’n Uurlange rit die oggend neem jou van Johannesburg na Irene, waar daar ’n verskeidenheid doendinge is voordat die trein weer om 14:00 vertrek.

Besoek die Smutshuis-museum, waar Jan Smuts en sy vrou, Isie, langer as 40 jaar gewoon het. Vergaap jou aan die verskeidenheid boeke in die biblioteek, stap die 2,3 km lange Oubaas-roete waar die voormalige eerste minister gereeld gaan wandel het, of bekyk elke detail in die huis – selfs ’n gebreekte stel breinaalde wat aan tafel gebruik is om murg uit bene te krap, staan nog net so.

Of bring die dag by die Irene-mark deur en doen inkopies vir handgemaakte geskenke en lekkernye by die talle stalletjies.

Kinders sal weer die Irene-plaas die meeste geniet, waar hulle kan sien hoe koeie gemelk word en kalfies kan voer. Daar is ook ’n restaurant en deli vir middagete (geen kontant word aanvaar nie). ’n Pendeldiens kan vooraf bespreek word vanaf Irene-stasie na die aantreklikhede.

Vertrekpunt: Rhodesfield-stasie, Kempton Park.

Wanneer: Een keer per maand om 09:30; sien webwerf vir datums.

Kaartjies: R330 vir volwassenes, R275 vir kinders 4 tot 12 jaar, kinders onder 4 jaar gratis.

Kontak: reefsteamers.com

Ceres Rail Company se trein neem jou na die Elgin-vallei.
Ceres Rail Company

Vertrek om 08:00 van Kaapstad na die Elgin-vallei, ’n rit van sowat drie uur deur Sir Lowryspas en verby beeldskone uitsigte. In Elgin het jy dan nog drie uur om die Elgin-stasiemark, ’n steampunk-mark in ’n ou appelstoor, te ontdek. Van die lekkernye om te probeer, sluit in pannekoek, vetkoek, pasteie, pizza, ribbetjies, kerrie, boetiekbier- en jenewer, en selfs wafels-op-’n-stokkie.

Die trein keer dan om 14:30 terug.

Buiten die weeklikse ritte na Elgin, is daar ook af en toe spesiale langer ritte waartydens jy op pad in hotelle oornag terwyl jy die omgewing ontdek – sien webwerf vir nader besonderhede.

Vertrekpunt: Aha Harbour Bridge-hotel, Kaapstad.

Wanneer: Elke Saterdag om 08:00.

Kaartjies: R750 vir volwassenes, R500 vir kinders 3 tot 13 jaar, kinders jonger as 3 gratis.

Kontak: ceresrail.co.za

Rovos Rail se agterste wa bied uitsigte oor die omgewing waardeur jy ry.
Rovos Rail

Daar is treine, en dan is daar Rovos – eerder ’n luukse hotel op wiele. Daar is verskeie ritte om van te kies in Suid-Afrika en die res van Afrika – ’n safari in Durban (drie dae), die Kaap en Karoo (twee nagte), Victoriawaterval (drie nagte), ’n Namibiese safari (nege nagte) en selfs ’n nuwe rit van Tanzanië na Angola (15 dae).

Professionele sjefs berei alle etes voor, wat in die eetkamer bedien word, en gaste kan verder in die sitkamers, hul private suites, of die uitsig-kamers met hul groot vensters uitspan.

Vertrekpunt: Verskil afhangend van die rit; plaaslike ritte vertrek meestal vanaf Pretoria.

Wanneer: Sien webwerf vir datums.

Kaartjies: Vanaf R20 600 per persoon vir die plaaslike ritte.

Kontak: rovos.com

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.