Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Kuier ’n hond uit ’n bos uit op die R102

As daar nou ’n manier is om heel onverwags interessante plekke op ’n agterpad tussen Port Elizabeth en Nature’s Valley te ontdek, is dit om vier honde op jou reis saam te neem, skryf Mariska Spoormaker.

Op Nature’s Valley se strand mag jy plek-plek met jou honde stap sonder ’n leiband. Staproetes is duidelik gemerk.

Skaars 36 km buite Port Elizabeth moet ons by die Van Stadens-veldblomreservaat halt roep vir die honde se eerste beenlig-parade. Koppelteken, Tiekie, Jasper en Yster se sterte spring kiertsregop van al die nuwe en onbekende reuke.

Verlede jaar se verwoestende brande het dié 500 ha-reservaat vol fynbos en proteas tot swart stokke in die sand verskroei, maar nou staan die proteas plek-plek weer groen in die blaar en pienk in die blom.

Stop op die R102, anderkant die tweede afdraai na Kareedouw, vir ’n verfrissende ‘suurstofinspuiting’. Foto’s: Mariska Spoormaker

Spoke en ’n ysterbrug

Die Van Stadens-veldblomreservaat is ’n mooi toegangspoort tot die R102. Dié ou kuspad loop feitlik parallel met die N2.

’n Paar draaie verder staan die Van Stadensbrug wydsbeen oor die diep Van Stadenskloof. Dis interessant om Suid-Afrika se mees berugte brug met sy hartseer reputasie van onder af te bekyk.

Voor die hoë versperrings aan weerskante van die brug se ryvlak aangebring is, het talle mense hul laaste lewenstreë van dié brug gegee.

Hier is ’n piekniekterrein, maar die honde se blase is nog leeg en ons stoot aan tot by Thornhill.

As jy wil spoke jag, trek hier af. Die storie loop dat daar vroeër jare baie danse en onthale in die Thornhill Hotel was en party mense sien hoe sit die spoke van partytjiegangers nog daar, geklee in deftige drag uit die jare toet.

Die volgende hoogtepunt op die R102 is die indrukwekkende Ou Ysterbrug oor die Gamtoosrivier.

Voor dié brug in 1895 in gebruik geneem is, het ’n pont die reisigers oor die rivier geneem. Vandaar dat die nabygeleë hotel vandag nog die Gamtoos Ferry Hotel heet.

Eden is die korter woord vir Nature's Valley, hier waar die bosbok saamsmelt met padtekens.

Koeie en perde

Anderkant die Ysterbrug loop die R102 onderdeur die N2 in die rigting van Jeffreysbaai. Aan linkerkant lê Papiesfontein waar jy deur duineveld en dan op die strand kan perdry.

Maar nie met honde nie. Ons stoot dus aan, naderhand verby Jeffreysbaai op linkerkant en net ’n kort entjie ná die verkeersirkel kan jy weer stilhou by die stukkie veld aan regterkant waar jy een van die reuse lemme (49.5 m lank) van die windturbines van nader kan bekyk.

Hou nou koers verder met die R102, maar moenie skrik wanneer jy jouself in Humansdorp skielik op Voortrekkerweg bevind nie. Die R102 is immers ook die dorpie se hoofstraat. (Hoewel die pad hier en daar met die nuwe N2 saamsmelt, en plek-plek ’n ander naam kry, strek die R102 tegnies van Durban tot by die kasteel in Kaapstad.)

Eers sowat 50 km verder, verby die afdraaipad na Eersterivier en by die Oudebosch Padstal se grasperkie, kan die honde weer uitgelaat word om ’n draai te loop. Hierdie padstal is ’n fees om te besoek omdat daar soveel handgemaakte produkte of kunswerke uit die omgewing is. Jy kan selfs aansit vir ete in die restaurant, of ’n Protea-toer bespreek. (Kyk gerus op oudeboschfarmstall.co.za)

Hierdie kennisgewing by Marilyn’ 60’s Diner met sy aandenkings uit die sestigerjare laat ’n mens verniet soek na ’n sydeur.

Die wêreld se beste boerewors

Van hier af kan jy gou oor die N2 glip om die wêreld se beste boerewors en droë wors by die Kareedouw slaghuis (9 km hiervandaan) te koop. Die reuk van die wors maak die honde gaande, bêre dit dus maar diep.

Van die Oudebosch-padstal af loop die R102 weswaarts tussen denneplantasie deur. Hou ’n bietjie stil en luister hoe maak die wind sssssshhhhssshhhss tussen die hoë bome.

Koppelteken, Tiekie, Jasper en Yster snuffel nie te veel hier nie, want dis maar ’n soort steriele aarde in só ’n monokultuur.

Ongeveer 18 km anderkant die padstal, verby Witelsbos, sluit die R102 weer by die N2 aan en van hier af is dit net vyf minute se ry tot by die Stormsrivierbrug.

Vul maar hier by die Total-motorhawe langs die brug brandstof aan, want daar is nie ’n vulstasie op Nature’s Valley nie.

Op die dorpie Stormsrivier langs die N2 raak jy weer lus vir platforms, bell bottoms, hipsters en turnups wanneer jy by Marilyn’s 60’s Diner instap. Dit voel asof jy vir Elvis en Marilyn Monroe hier kan raakloop – miskien ook ’n ou geliefde of ’n tannie uit die verlede.

Elvis in die Bos

Verder wes, net voor jy die afdraai na dorp Stormsrivier op jou linkerhand kry, wys die padborde na Tsitsikamma se Groot Boom na regs.

Die Groot Boom is ’n reusagtige geelhout en staan ongeveer 36 m hoog. Dit maak nie saak hoé jy foto’s neem nie, jy kry die algehele omvang van dié natuurwonder eenvoudig nie vasgevang nie.

Elvis in die Bos is aan die oorkant van die snelweg, in die dorp self. Dis nou nie heeltemal nét Elvis nie, want hierdie uitsonderlike restaurant in Darnellstraat heet Marilyn’s 60’s Diner (marilyns60sdiner.co.za), dus staan sy ook daar met haar wapperende rok tussen al die Elvis-blinkgoed uit daardie rock ’n roll era.

En hier op Stormsrivier kan jy ook amper enige bosavontuur aanpak. Die lekkerste bly die boomtoppe-kabelgly in die Tsitsikamma-bos. As jy egter vier honde en die wêreld se lekkerste wors in een kombi het, is daar nie tyd vir talm nie.

Nog ’n interessante loerding op Stormsrivier is die Tstitsikamma Village Inn (1946) waar die verskillende kothuisies in die onderskeie Kaapse boustyle van die 1800’s gebou is.

Die padborde sê die Bloukranspas (deel van die R102) is gesluit, maar dit kan nogtans gedoen word. Ry net baie versigtig en baie stadig, want rotsstortings en grondverskuiwings het die pad deur die jare al hoe nouer gemaak.

‘Road Closed’

Hierdie is die oostelike beginpunt van die Tuinroete, maar as ’n mens aanhou ry op die N2 mis jy die mooiste gedeelte van die groot, inheemse “tuin.”

Om die ware “tuin” raak te ry, moet jy regs afdraai by die padbord wat wys “R102 Coldstream”. Daaronder is nog ’n bordjie wat lui: “Bloukrans Pass Closed”.

Moenie skrik nie. ’n Mens kan en mag wel met ’n gewone voertuig hier ry. Vragmotors en busse sal egter probleme optel, want vallende bome en rotse het gemaak dat die pad plek-plek net eenrigtingverkeer toelaat.

As jy daaraan dink dat dié pas wat Thomas Bain in die 1880’s gebou het allerweë as een van sy meesterwerke beskou word, dan is die verval soveel meer hartseer.

Tog is dit hemels om ’n gedeelte van die Tsitsikamma-woud in soveel vrede te kan ervaar. Met hierdie pad vermy jy ook die tolgeld by die Bloukrans-tolplaza.

Êrens in die middel steek die pad die Bloukransrivier én die grens van die Oos- na die Wes-Kaap oor.

Dis opvallend hoeveel beter die pad, maar hoeveel minder die magiese woudplekkies is.

Dan eensklaps is jy uit die bos en ry op die brug oor die N2 en reg in die volgende van Thomas Bain se passe; die Grootrvierpas wat hy in 1822 en 1823 gebou het. Dié pas is óók nog deel van die R102 en mense noem dit die Bloukranspas se suster.

Nou is die pylvak reguit strandmeer toe sodat die Baaise honde met hulle brakkepelle van Nature’s Valley kan snoete skuur.
By die Grootrivierpas se toegang tot Nature’s Valley staan hierdie geelhoutreus. Dié boom het sy oorlewing te danke aan Hendrik Barnardo wat in die 1800’s met sy geweer stelling voor die boom ingeneem en gedreig het om enigiemand wat die boom wil afkap, te skiet. Party mense praat nou nog van Barnardo se Boom.

Die skerp draaitjies op hierdie pas met die groot steiltes ondertoe maak die mense aan die voertuig se passasiersitplek effe senuagtig, maar die uitsigte is die moeite werd.

Net ná die laagwaterbrug oor die Grootrivier kan jy begin uitkyk vir die boomreus wat sommige mense Barnardo se Boom noem.

Die storie lui dat Hendrik Jacobus Hermanus Barnardo – een van die eerste boombewaringsmanne in die distrik – tydens die pasbouery met sy geweer by dié boom gaan staan het en gedreig het om enigiemand te skiet wat die boom ter wille van die pad sou afkap.

Dié boom staan skuins oorkant die De Vasselot-kampeerterrein, daar waar die pad ’n draai om die boom maak en dan Nature’s Valley binnery.

Nou is die pylvak reguit strandmeer toe sodat die Baaise honde met hulle brakkepelle van Nature’s Valley kan snoete skuur.

Die strand- en omgewingsbewakers van Nature’s Valley het spesiale hondeborde al langs die strande opgesit.

Daar is ook ’n oranje been vir die gedeeltes waar die hond aan ’n leiband moet bly en die rooi been is vir die gebiede waar geén hond toegelaat word nie.

En toe staan ek daar op die strand en ek dink: dankie tog ons moés ter wille van die honde die agterpad (die R102) tussen Port Elizabeth en Nature’s Valley neem, want toe tref ons die kuierpad, kronkelpad, bospad, lekkerpad . . . amper soos ’n lewenspad.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.