Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Kunjani? Dit gaan baie goed

’n Mens is geneig om altyd dieselfde wynplase in en om Stellenbosch te besoek. Maryke Roberts het ’n paar ander  ontdek.

Die Stellenbosse wynlande bied meer as net wyn.Foto:

Ons draai Vrydag net voor middagete in Blumbergweg teen die boomlaning op na Kunjani. “Hallo, hoe gaan dit?” sê die naam in Zoeloe.

En hier by die indrukwekkende steenkoolgebou met sy reuse- rooi letters wat oor die grasgroen wingerde loer, gaan dit baie goed, dankie.

Die plaas is klein, net ’n paar hektaar onder shiraz-wingerd, terwyl die merlot en cabernet sauvignon van die buurplaas kom, wat deur Kunjani bestuur word. Witdruiwe kom van keurblokke in Elgin, Durbanville en die Paarl.

Ons sit ons tasse neer in die oulike villa reg onder die proelokaal, Stolen Chicken, wat ook ’n wyn-etiket is, en gaan skink dadelik ’n proeseltjie.

Ons val weg met ’n bakkie olywe en proe onder meer die 2018-oesjare van die Stolen Chicken-rosé, sauvignon blanc en chenin blanc, maar dis die shiraz 2015, wat ek saam met middagete bestel, wat werklik my smaakpapille bederf.

Wat volg is ’n bederfmiddag van uiltjies knip en boek lees en koffie op die stoep.

Ons het die hoekbank op die restaurant se balkon bespreek vir #SunsetFridays, van 16:00 tot 19:00, want die restaurant is slegs op die laaste Woensdagaand van elke maand oop vir ’n kos-en-wyn-ervaring. Jy kan vroegtydig peuselborde met Duitse kouevleis, bokmelk- en Jerseykaas, gemmermarmelade en brood bestel, wat jy dan met sononder geniet.

Dis feestelik op die stoep en gou-gou is dit propvol. Dis asof die hele plaas saam met die hardwerkendes sug omdat dit uiteindelik Vrydagmiddag is.

Ure se kaartspeel op ons eie stoepie, terwyl die kolganse en eende na die klein dammetjie neffens die villa kom, kom eers ounag onder die sterre ten einde.

Rozendal Vinaigrier se asyn word onder meer afgerond met infusies van laventel, groentee en lourierblaar.
Wyn en asyn

Ná ontbyt Saterdagoggend, is dit tyd vir verken. Ons gaan stap op die klein paadjies agter die plaas en kyk ver uit oor die Helderberg tot by die see en verstaan hoekom almal so gaande is oor die “koel seebriese” wat wingerde snags afkoel. Dis eers daar op die hoogtes dat jy besef hoe naby Valsbaai is.

Kunjani is een van 12 plase op die Bottelary Hills-wynroete, een van vyf subroetes van die Stellenbosch-wynroetes.

’n Ander een is Rozendal Vinaigrier, ’n plaas in die hartjie van die Jonkershoekvallei, wat bekend is vir sy asyn.

Rozendal volg die tradisionele Frans-Orleans-asynmaak-metode. Hiervolgens word asyn van ’n rooiwyn-kultivarversnit gemaak, wat dan geaktiveer word deur die kelder se inheemse moeder-giskultuur, afkomstig van die plaas se eerste asyn wat in 1988 gemaak is.

Die asyn-storie begin in die 1980’s met ’n mislukte wyn. Kurt Ammann, eienaar, was daai tyd glo bekend vir sy voortreflike Bordeaux-versnitte.

Maar toe kom die 1988-oesjaar en hy vind sy wyne het te veel suur.

Gelukkig bied dit toe die geleentheid om asyn te maak. Hy het met 2 000 liter van hierdie “flopwyn” begin en die jare lange proses van asyn-veroudering begin. Sy kinders, Alexander en Nathalie, het die leisels by hom oorgeneem.

Die toer is gratis en duur 40 minute en word deur Alexander of Kurt gelei.

“Die balsem word volgens die solera-stelsel vir 12 jaar natuurlik in klein eikehoutvate gegis. Die eindresultaat is ’n balsamiese-styl-asyn, wat die perfekte balans tussen soet en suur bied. Die asyn kan egter nie balsamiese asyn genoem word nie, want dié naam is geografies beperk tot ’n streek in Italië,” vertel Alexander ons.

Die plaas maak ook ’n eksklusiewe essentia – net drie vate – wat vir meer as 25 jaar verouder word. Dis “swart goud” en fluweelsag, en ons is gelukkig genoeg om dit te proe. Dis heerlik as apéritifof oor roomys.

Bespreek jou plek in die Kunjani-restaurant op die stoep sodat jy kan sien hoe die son oor die wynland sak.
Vermaak onder die sterre

Vroegaand is ons terug dorp-in: die kitaar-duo CH2 speel by die Oude Libertas-buitelugteater, en met hul vertoning Olè speel hulle die verhoog aan die brand. Die warmbloedige klanke van hul kitare, ywerige getik-tik en geklop van hul vlytige vingers teen die kitaar laat jou voet onwillekeurig saamtik.

Ek maak my oë toe en wil my vir ’n rukkie verbeel ek is iewers in Argentinië. Die musiek is net so warmbloedig soos die ritmes.

Daar met die sterre en die maan wat skaam-skaam oor die bome loer, verkyk ons ons aan die Montoya Spanish Danc­ers, wat nie een noot agter is by die vuurwarm kitaarsnare nie.

  • As jy ook lus het om vir oulaas vermaak te word onder die somersterre, kan jy vanaand na Emo Adams gaan kyk. Kaartjies kos R250. Bespreek by Oudelibertas.co.za/amphitheatre.

Peusel aan blinkvet olywe en brood by Kunjani.
Verlei om te bly

Terug by ons gastehuis, is dit vleis van die Eikeboom Slagtery op die dorp wat oor die braaikole sis. Die proelokaal is lankal toe en ’n stilte omvou die plaas. Al die ligte in ons verblyf is af en met kerslig en musiek van die selfoon word dit een van die aande wat jou lank sal bybly.

Laatslaap is altyd ’n luukse, veral as dit die reuk van spek en varsgemaalde koffie is wat jou neus kom verlei om op te staan.

Die ritme van die proelokaal wat teen 12:00 uit sy nate bars, wil jou insleep en verlei om ’n bottel wyn te bestel en heeldag op die stoep te sit. Dis nie elke wynplaas wat Sondae só aantreklik kan maak nie . . .

  • ’n Nag in een van Kunjani se villas vir twee mense kos R2 100. Dit sluit ontbyt in. Vir aandete kan jy self kook, maar braai onder die sterre of sonsak-sopies en peuselborde (vanaf R155) op die restaurant se stoep is darem nóg lekkerder. Bespreek by Kunjani­wines.co.za.
  • Maryke was ’n gas van Kunjani Wines.
Meer oor:  Stellenbosch  |  Wynplase  |  Besoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.