Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Kuns in die strate

Op ’n toer in Paternoster besef Marzahn Botha dié dorpie is self ook ’n kunswerk.

Enige foto van Paternoster lyk soos ’n kunswerk. Foto’s: Marzahn Botha

Paternoster het nie regtig mense nodig nie. Die see doen maar net die ding daar – gee en trek terug . . .

Tog is dit verfrissend om met ’n groep kunstenaars te kuier wat, nes die see, hul kreatiewe “skeppingskwas” hier uitwoed.

Volgens Ben Rootman, ’n voorsitter van die Paternoster-kunsroete wat vanjaar ’n jaar oud is, kan besoekers behoorlik dié oudste dorpie aan die Weskus platstap agter kuns aan.

Aanvanklik was sewe kunstenaars deel van die roete, nou is dit al 14.

Paternoster-kunsroete.
Paternoster-kunsroete.

“Kuns en kos loop saam. Dis ’n wonderlike ding wat hier gebeur. Ons bied iets van alles. Jy kan by een van talle galerye instap en met die kunstenaar praat. Of ’n slypskool bywoon. Niemand is te grênd nie, almal doen net hul ding,” sê Ben.

Die kunsroete is verlede jaar ter ere van Mandeladag geopen.

Linda Tsanga sê haar voetkersstaanders verkoop soos soetkoek.
Delyse Hopkins gebruik ’n warm vlam om glaskrale te maak. Sy gebruik onder meer ou bottels wat sy op die strand versamel.

Nuwe baadjie, nuwe takie

Toe die kreef begin min word, moes Paternoster Visserye ’n plan maak om die oorlewing van die dorpie se vissersgemeenskap te beskerm.

Die ou kreeffabriek het ’n nuwe baadjie gekry en staan sedert verlede Oktober bekend as Crayfish Wharf. Dis om meer toeriste te lok.

Erika Vermaak se driehoek-leerhandsakke het my opgeval.

Koffie in die hand is ek vroegoggend na die Mattat-galery by die Crayfish Wharf. Dié galery se voorkoms vermeng oud en nuut, die gevoel van die ruwe en onafgewerkte voorkoms wat deur jare se natuuraanslae veroorsaak is, is net gepoets. Dit pas mooi by die betekenis van die Hebreeuse woord “Mattat”: Geskenk vir die lewe. Hier maak Erika Vermaak duursame leeritems. Dis veral die driehoek-handsakke wat my aandag trek.

“My leuse is: Gee vir mense twee naalde en jy het ’n besigheid. Ek doen slypskole, maar wil die plaaslike gemeenskap só oplei dat hulle hul eie onderneming kan begin,” sê sy.

Haar buurman is Uro Erichsen, ’n abstrakte kunstenaar. Hy verf al 22 jaar en het al ’n ruk in Italië gewoon en ’n gastehuis in Philadelphia naby Kaapstad bedryf. “Ek fokus op surrealistiese, intuïtiewe kuns, wat goed onder die oorsese toeriste verkoop.

“Ek loop baie op die strand. Só tel jy die energie in die rotse op. Ek kyk na ’n rots en ’n figuur kom uit wat ek dan gebruik,” sê Uro. Sy werke is donker, maar die lig straal daaruit in die vorm van ’n figuur. In sy The Gallery Café kan jy ’n Van Gogh-burger bestel.

(Kosgeesdriftiges met ’n avontuurlike smaak vir Indo-Europese tapas kan ook die Hungry Monk besoek by die Craywish Wharf, asook The Whale Rib wat bedags pizzas en wafels maak.)

In die Bekbaai-omgewing klop ek aan by Wayne en Sandy Attrill se huis wat op ’n eklektiese skuur trek wat reg in die see inloop. Wayne was jare lank in die rolprentbedryf en ’n versamelaar van kuns uit Chinese dinastieë en Indië. Een stuk wat aandag trek, is die spiraal van klaviernote wat Wayne gemaak het. Besoekers kan dié huis, wat al in verskeie tydskrifte gepryk het, volgens afspraak besoek.

Dianne Heersom-Green se keramiekbeeld van die oervis, ’n selakant.

Volgende is die Stone Fish-galery 

wat in die middel van die dorp langs die ou handelspos staan. As jy instap, groet die kunstenaar Linda Tsanga vriendelik. Sy het sowat agt jaar gelede in die beeldhouer en keramiekkunstenaar Dianne Heesom-Green se galery begin werk en hier geleer. “Ek is bekend vir my dekoratiewe harte, kersvoete en kleibakkies met vis-motiewe. Dit verkoop soos soetkoek,” lag Linda.

Gaby Dunn en Sandy Attrill in hul Ceramic Works-ateljee.

Dianne woon al 18 jaar op Paternoster. Sy het destyds ’n geskiedkundige gebou wat van 1863 dateer, omskep in haar galery. Sy speel heerlik met die see­beeld- spraak in haar werk. Die selakante dui op die antiekheid van die gebou, maar ook op haar voorliefde vir die see en die plaaslike gemeenskap wat ’n lewe maak uit die see. “Ek werk met die idee dat ek klei weer in steen verander.”

Dianne is verder bekend om haar drogbeelde en kreature.

Dié keramiekkleipot is die skepping van Gaby Dunn wat sy teen 1 200 °C bak.

By die Ceramic Works-ateljeedeel Gaby Dunn, Joanne Hurst en Sandy Attrill ’n kreatiewe ruimte. Elkeen se styl is anders en die samesyn is die teenvoeter vir alleendae. Gaby het eers in Houtbaai gewoon en is bekend om haar groot dekoratiewe potte wat sy met die hand maak. San­dy eksperimenteer weer met die maak van ou posseëls uit klei. ’n Reeks uitgekerfde Afrika-vroue hang bo haar kop. “Volgende fokus ek op Egipte,” sê sy.

Omdat ek ’n voorliefde het vir Paternoster, bly ek gereeld by Potters Rest met sy twee verskillende selfsorg-eenhede. Die gasvryheid van Danie Breytenbach en sy vrou, Pam, in ’n ruim plek laat jou van dag een af tuis voel. Pam het ’n keramiek-ateljee, pb Ceramics, aan die huis. Haar interessante gebruik van seegras, kant of enigiets wat tekstuur op klei skep, laat jou stom. Gaan loer na haar funksionele Mandelahemp-blomvase, moderne funksionele kaasborde of bolywe van vroue. Danie is ’n gids van die begeleide kajak-toere wat by Crayfish Wharf wegtrek. As die geluk aan jou kant is, kan jy enigiets van robbe en pikkewyne tot verskillende spesies endemiese dolfyne, skaars sonvisse en walvisse sien.

Kry kleur in jou dag deur na Delyse Hopkinsse Fleur Delyse-glaskrale en juwele te gaan kyk. “Aanvanklik het ek met bekende Murano-glas gewerk, maar dit word baie duur om in te voer. Ek het toe begin om ou bottels op die strand te versamel. Party is tot 200 jaar oud!” sê Delyse. Sy wys jou net daar hoe sy met ’n warm vlam en gereedskap gekleurde glasware tot krale omtower.

Jy kan Magalies Gin by Magda Art gaan proe. Die bottels is opsigself kunswerke.

Ek besin weer oor alles wat ek vandag gesien het oor ’n sopie jenewer by Magda Art. Hier kan jy jenewer proe én kuns kyk. Magda van Lille se seun Francois Joubert is die stoker van Magalies Gin by die Incendo-distillery op Hartbeespoortdam.

Magda en haar skoondogter, Vonmarie Joubert, het die sketse van botaniese bestanddele en plante vir die bottels se ontwerp gemaak. Jy kan ook van Magda se kunswerke, botaniese of stillewe-studies sien.

Ander kunstenaars in Paternoster om van melding te maak is, At Botha, Wilko Roon, Annalise Bosch, Liebet Jooste en Roelie van Heerden.

Die Abalone House & Spa is versier met groot en klein kunswerke in oordadige kleure.

Tretchikoff langs jou bed

Ná ’n dag van inspirasie gaan rus ek by die Abalone House & Spa. Die weelderige huis het ’n eksentrieke Tretchikoff-kinkel.

David Strauss is verantwoordelik vir die binnehuise ontwerp en hy verras jou in die slaapkamers met groot Tretchikoff-figure en badeendjies.

Besoekers aan Paternoster kan besluit of hulle in tradisionele wit huisies met skoon lyne wil tuisgaan, of hulle kan hulself bederf in dié gastehuis met sy panele, ou boeke, ’n meesterlike gebruik van kleur in Bo-Kaapse skilderye, Pierneef-afdrukke en ’n bederf wat jou soos een van die kitchmeester se karakters laat voel.

In die winter kan jy in ’n jacuzzi met ’n uitsig oor die koue Atlantiese Oseaan uitspan of eerder voor ’n kaggel kuier met ’n glas goeie wyn in die hand. Die spa hou met die aartappel-behandeling sy eie bekoring in.

  • Marzahn was ’n gas van die Abalone House & Spa. Tot einde Augustus kry ’n paartjie twee nagte in ’n standaardkamer, met ’n kruie-massering van ’n uur, ’n driegang-maaltyd en twee glase sjampanje teen R5 995. Bespreek by 022 752 2044 of besoek www.abalonehouse.co.za.
Meer oor:  Paternoster  |  Besoek  |  Reis  |  Toer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.