Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Kunstige, unieke kosreis

’n Ete by die Gåte-restaurant neem jou op reis met eetbare kunswerke,skryf Alet Wichmann.

Dié dis wat jou na Namibië neem, lyk soos die naglug met skitterende sterretjies en ’n verdwaalde wolk.Foto’s: Alet Wichmann
Die eerste gang lyk soos ’n sigaar wat rook, maar dis inderwaarheid ’n broodjie en eetbare as. Foto Verskaf
In Kanada eet jy natuurlik salm. Die koraal is gemaak deur ’n beskuitjie in beetsap te week en dan te dehidreer.

Die bord is haar skilderdoek en kos die kwas en verf, het Nicole Loubser, hoofsjef van die Gåte-restaurant buite Stellenbosch, al gesê. En ek kan getuig, met hierdie gereedskap skep sy en haar span kunswerke.

’n Eetervaring by Gåte op die Quoin Rock-wynlandgoed is ’n samesmelting van kos, kuns, wetenskap en tegnologie. Dit speel af voor jou oë (alles van die beelde in die tuin, die ikosaëder – ’n veelvlakkige sfeer saamgestel uit driehoeke – op die tafel, fyn wynglase tot die skildery op jou bord) en smelt in jou mond.

Hul nuutste spyskaart neem jou op ’n reis. Elke vlak van die koperkleurige iko­saëder het ’n landkaart op en met elke dis word dit gedraai tot jou bestemming.

Die eerste gereg van ons sewegang-proespyskaart op ’n Vrydagaand neem jou na Italië. Dit proe soos ’n geurige tamatiesop en varsgebakte brood met ’n subtiele rokerige geur, maar dit lyk soos ’n macchiato en ’n sigaar wat rook met as op die punt. Die as lyk verbasend eg en is gemaak van gesmelte styselgom, geaktiveerde houtskool en tamatiepoeier, verduidelik ons kelner. Ons bevinding: Dis heerlik!

Die Gåte-restaurant op die Quoin Rock-wynlandgoed se ligging is net so mooi as die kos wat voorgesit word. Foto: Verskaf

In Frankryk eet ons natuurlik roomys, kompleet op horinkies. Dit smelt romerig in die mond, nes ’n mens sal verwag. In werklikheid is dit kamma-kamma foie gras. Hulle maak dit met eendlewer gemeng met mielieblom en vet om die perfekte tekstuur te kry.

Ons reise neem ons ook deur Kanada (salm), Oostenryk (kaaskrokette) en Griekeland (gruyère-kaasvla) tot in Namibië, die sjef se geboorteland. Daar skitter die meringue-sterretjies in die swart hemelruim, en ’n spookasemwolk hang in die lug.

Dit alles kom natuurlik met ’n allemintige prysetiket. R1 000 vir die sewe gange . . . jy kry darem ook ’n bonus-verrassing, ’n heerlike en pragtige verskeidenheid handgemaakte sjokolades en lekkernye. Vir R1 450 kan jy ook ’n wynparing doen. Ons het liewer net elk ’n glas Quoin Rock Chardonnay 2017 bestel teen R135 elk. ’n Bottel kos R400. Dis duur, maar vir ’n eens-in-’n-leeftyd-ervaring kan ek dit aanbeveel.

Daar is ook ’n 14-gang-ete teen R1 600 (R2 250 met die wynparing). Oor middagete betaal jy R800 vir ses gange.

  • Bespreek jou tafel by 021 888 4750 of besoek www.quoinrock.co.za vir meer inligting.
Meer oor:  Stellenbosch  |  Kos  |  Wetenskap  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.