Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Lambertsbaai wemel van die doendinge dié tyd van die jaar

Lambertsbaai is een van die bekendste kusdorpe langs die Weskus. Dit laat jou aan see en vissoorte dink as jy van die plek hoor. Daar is egter soveel meer om te ervaar, het Tasneem van Rooyen onlangs uitgevind tydens haar besoek.

Met een van die beste hawens, van die mooiste voëlspesies en wêreldklasetes beskikbaar by vele eetplekke, het Lambertsbaai ietsie vir elkeen. Hannes Coetzee, voorsitter van die toerismevereniging in Lambertsbaai, sê dat die dorp spog met sy eie Groot Vyf wat hom net so bietjie anders maak as die res van die kusdorp.

Met jou aankoms in hierdie dorp sal jy verstaan hoekom dit die “diamant van die Weskus” genoem word, sê hy. Al waaraan jy kan dink, is vis en tjips, bote, seevoëls en die see wat jou laat voel dat iets groter as jy bestaan.

Natuurlik kan ek nie die inwoners se vriendelikheid en hul bereidwilligheid om spesiale stories te deel, nalaat nie.

Binne ’n paar minute van ons aankoms het die nuus dat ons geland het, soos ’n veldbrand versprei. My selfoon het sekondes uitmekaar gelui met gewillige, aangename mense wat my wou vertel van al die juwele van die plek. Dit is beslis die verwelkoming wat jy wil hê as jy ’n plek betree.

Buiten al sy seeskatte het Lambertsbaai ook ’n ryk Khoisan-geskiedenis. Dit is ook hier waar die skipbreuk van die reuse-Sybille in 1901 plaasgevind het. As jy op soek is na seelug en smaaklike geregte, gekombineerd met geskiedkundige stories wat spreek van romanse, sielsgemeenskap en bonatuurlike verhale, moet jy wikkel sodat jy hierdie plek kan besoek!

Harry is die bewaarder van die vissermanne en ook die voëleiland. Hy is gemaak van wrakhout wat op die stande op Lambertsbaai uitgespoel het. Jy sal hom sien sodra jy by die voëleiland opdaag. Foto: Lizelle van Jaarsveld

1. Lieflike klimaat: Volgens Hannes is die heerlike klimaat te danke aan die feit dat dié dorp relatief min wind het. Die grootste Harley-Davidson-saamtrek word jaarliks hier gehou, onder andere, danksy hierdie gunstige klimaat. Branderplankryers sal ook bly wees om te hoor twee bekende branderplankkompetisies word jaarliks hier gehou. Die branders word al hoe meer gewild weens die spesifieke manier waarop dit breek asook die konsekwentheid daarvan. Kry jou branderplank gereed en gaan maak gerus ’n draai!

2. Wêreldklasrestaurante: Lambertsbaai het bekroonde restaurante waar jy gehalte-kosse en ongelooflike ervaringe sal kry.

Van die restaurante is as volg:

Bosduifklip verskaf nie net heerlike etes nie, maar is ook ’n bekroonde troulokaal. Geregte wat eie is aan die see soos vis-, kreef- en mosselgeregte is hier te kry. Daar is ook brode, konfyt, spitbraailam en vele meer. Vir meer inligting skakel hulle by 027 432 2735 of stuur gerus e-pos na bosduifklio@gmail.com.

Muisbosskerm is as een van die Top-10- restaurante aangewys deur “Top ten seaviews to dine for”. Hier kan jy tradisionele waterblommetjiebredie of seekospaella kry saam met hul beroemde aartappelbrood. Skakel hulle gerus by 027 432 1017 vir meer inligting.

Mad Hatter Coffe Shop beskryf hulself as die “groot diamant aan die hand van ’n baie ryk tannie se ring”. Dié restaurant is voorwaar ’n juweel met die pragtigste binne-ontwerp.Kontak hulle gerus by 027 432 1673.

Isabellas is ideaal op die kaai geleë met uitstekende see-uitsigte. Die kos wat dié restaurant voorberei, is uit die boon-ste rakke. Jy wil nie hierdie geregte misloop nie! Skakel Isabellas by 027 432 1177 of stuur e-pos na isabellas.lam@gmail. com.

Weskus Kombuis is ’n oorspronklike vissermanskroeg uit die vroeër jare. Vandag is dit een van die gewildste restaurante in Lambertsbaai danksy hul seegeregte. Vir meer inligting, skakel 027 432 1774 of besoek weskuskomkom-buis@mweb.co.za.

’n Baie raserige kolonie Kaapse malgasse broei op Voëleiland in Lambertsbaai se hawe. Foto: Lizelle van Jaarsveld

3. Voëleiland: Dit is een van die doendinge wat jy sommer vroeg op jou lysie moet plaas as jy op pad is na Lambertsbaai. As jy nou ’n ervaring wil hê wat lyk soos iets uit ’n natuur- of avontuurtydskrif, móét jy Voëleiland besoek. Met jou aankoms lyk die massa voëls en die bote wat vasgemeer is teen die kaai reeds soos ’n onwerklike prentjie. Daar sien jy verskeie voëlspesies, maar hoofsaaklik die Kaapse malgasse. Hoe nader jy beweeg, sien jy hoe die voëls vergader.Vir besoekers se gerief is daar oral inligting oor voëls en die eiland self.

Daar is ook ’n interessante uitstal-lokaal met verskeie groot viskarkasse wat jy nooit sonder die beskrywing sou uitken nie. Toegang is slegs R50. Skakel gerus 071 657 5651 vir meer inligting.

Steenbokfontein het die mooiste Khoisan-grotte wat ’n belewenis is om te sien. Foto: Lizelle van Jaarsveld

4. Blomme: Danksy die sagte grond bied Lambertsbaai van die mooiste blomme gedurende blommeseisoen. Van die blomme het oulike, oorspronklike name soos sonskyn, stinkruik en weeskindertjies. Onthou om hulle uit te gaan soek tydens blommetyd!

Die wit madeliefie is een van die blommetjies wat jy op die roete kan sien in die blommetyd. Foto: Nelda van Zyl
Mooi rotstekeninge van die Khoisan is duidelik sigbaar in Steenbokfontein se grotte, ’n moet-sien in Lambertsbaai. Foto: Lizelle van Jaarsveld

5. Erfenis en kultuur:

Die geskiedenis van die Khoisan en die Sybille is van die juwele wat vereer word deur hierdie kusdorp. Kitta Burger van Die Plaaskombuis op ’n plaas net buite Lambertsbaai, genaamd Steenbokfontein, se verhale is soos dié van ’n argief self.

Sy onthou elke datum van elke gebeurtenis soos dit eeue gelede aangeteken is. Die Plaaskombuis is welbekend omdat dit steeds in die oorspronklike huis wat uit 1864 dateer, geleë is. Hier word heerlike tradisionele geregte bedien terwyl Kitta jou vertel van romanse in die einste huis, die Sybille en spookstories wat jou hart vinniger sal laat klop en die hare op jou arms sal laat rys! Die hele plaas is propvol besienswaardighede en Kitta is meer as gewillig om die stories en geskiedenis met jou te deel.

Die grotte hoog teen die heuwels op met asemrowende uitsigte oor die plaas en die see, was vir my die hoogtepunt van dié uitstappie. Hier het die Khoisan so ver as 133 000 jaar terug gewoon. Kitta vat jou op ’n interessante reis na die verlede terwyl jy die mooi rotstekeninge aanskou. Sy het ook gastehuise om van te kies!

Skakel 027 432 2720 vir meer inligting.

Meer oor:  Namakwaland  |  Lambertsbaai  |  Blomme  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.