Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Leer kampeer by dié ‘trop’

Op Limpopo se ivoorroete saam met ‘Voetspore’ se manne. Stadsjapie Suzanne Venter het saamgekampeer.

Ons tente in die Makuya-reservaat, waar ons geslaap het.
Die Voetspore ‘kombuis’ en algemene ‘stoorkamer’ en die man wat in beheer is, Simon Wearne, slaap sommer bo-op in ’n tent.Foto: Suzanne Venter
Twee van die Voetspore span, Simon Wearne (links) en Streicher Badenhorst (regs) speel ’n potjie Boules tussen die koelte bome van die kamp area by die Makuya reservaat op die oewer van die Luvuvhu-rivier.Foto: Suzanne Venter
Een van vele ongerepte vlaktes vol kremetartbome in die Mutale Falls gebied in Limpopo. Onder in die rivier het ’n dikgevrete krokodil gelê en wag vir sy volgende prooi. Onthou om jou verkyker in te pak!Foto: Suzanne Venter

Die lekkerste bier wat ek onlangs gedrink het was nie yskoud nie. Maar daar langs die oewer van die Luvuvhu-rivier onder die koeltebome in die Makuya-reservaat (ná ’n rit van net meer as ’n uur oor klipbesaaide kronkelpaaie) het die Black Label in dié stadsjapie se keel afgegly soos stroop.

Dit het natuurlik ook gehelp dat ek hom gesluk het in ’n ongerepte kamp sowat 300 km noord van Polokwane met ’n uitsig oor die noordelike Krugerwildtuin aan die ander kant van die rivier.

Aan my regterkant was daar ’n trop rumoerige bobbejane waar ’n kees of twee al koggelend sy manlikheid wou bewys . . . Maar hulle het verniet probeer, want teen die ware manne van die bos, die sestal van die Voetspore-span aan my linkerkant, het hulle nie ’n kans gestaan nie.

Dié “trop” deurkruis tans weer die land onder die leierskap van Johan Badenhorst (59) om stories en staaltjies uit eie bodem na ons sitkamers te bring – elke Maandagaand op SABC2. Ek was bevoorreg genoeg om een aand saam met hulle in ’n tent onder die sterre te slaap.

Johan het elke man in sy span met die hand gekies, want die belangrikste bestanddeel vir ’n goeie reis is die mense wat saam met jou reis, sê Johan. “Ons is ses gewone ouens wat stories en ervarings bymekaar maak.”

Die jongste is Johan se seun, Streicher Badenhorst (24), wat in beheer is van avontuurfotografie op hul ekspedisies. Hiervoor gebruik hy ’n hommeltuig (of “swerm bye” soos sy pa spot) om tonele af te neem waar geen mens kan voetslaan nie. Daar is ook die rooikop Stefan Sonnekus (45), wat van sonsopkoms tot -ondergang agter sy kamera skuil en dié voor die kamera laat lag. Johan se jare lange vriend en reisgenoot Gideon Swart (55) sorg vir mooi foto’s. Norbert Coetzee (55) en Simon Wearne (46) is verantwoordelik vir die logistiek.

’n Olifantskedel by een van die kampe in die Makuya reservaat in die Mutale Falls area in Limpopo.Foto: Suzanne Venter
Een van vele ongerepte vlaktes vol kremetartbome in die Mutale Falls gebied in Limpopo. Onder in die rivier het ’n dikgevrete krokodil gelê en wag vir sy volgende prooi. Onthou om jou verkyker in te pak! Foto: Suzanne Venter
Net een van die vele pragtige kremetartbome wat ons gesien het.Foto: Suzanne Venter
Een van die vele pragtige kremetartbome.
Drie van die Voetspore-span se manne skep asem: Johan Badenhorst, Simon Wearne en Stefan Sonnekus.
Die son gaan onder oor een van die talle mooi valleie in die omgewing van die Mutale-waterval in Limpopo.Foto’s: Suzanne Venter
Norbert Coetzee van Riemvasmaak se wêreld is ’n staatmaker lid van die Voetspore span en bekend vir die lekker brood wat hy bak.Foto: Suzanne Venter
Die man wat alles wat ons op televisie sien afneem, die Voetspore-kameraman Stefan Sonnekus besig om nog ’n mooi prentjie op film vas te lê. Foto: Suzanne Venter
Streicher Bandhorst die olifant! Tydens ons rit deur die Makuya reservaat het ons op die ou bene en vel van ’n olifant afgekom wat net meer as ’n jaar gelede dood is weens ouderdom.Foto: Suzanne Venter
Die mooi uitkykpunt in die Mutale Falls area in die Makuya reservaat is bekend as World view omdat jy so ver kan sien. Maak seker dat jy gemaklike skoene pak want dit is ’n entjie se stap tot bo op die koppie.Foto: Suzanne Venter
En soms het ’n mens bietjie teëspoed terwyl jy lekkerkry. Dié band moes gestop word nadat ’n lastige klip hom stukkend gesny het en ’n keep sowat 2 cm groot agtergelaat het. Maar Johan Badenhorst het dit binne minute weer gefix. Foto: Suzanne Venter
Norbert Coetzee van Riemvasmaak se wêreld is ’n staatmaker lid van die Voetspore-span en bekend vir die lekker brood wat hy bak. Foto: Suzanne Venter

Kampeer is vir almal

Vir Johan en sy manne is kampeer die manier waarop hulle die lekkerste reis en ontspan. “Dis maar die manier hoe ek en my gesin nou al vir jare lank reis. Voetspore Suid-Afrika is die 13de reeks wat ons verfilm en dit wat ons doen, is regtig iets wat almal kan doen,” sê hy. “Solank jy nuuskierig is, ’n sin vir avontuur het en goed voorberei, is jy verseker van ’n fantastiese ervaring.”

Simon stem saam. “Dis ook belangrik dat elke ou in die groep sy deel doen. En ja, daar is soms uitdagings, maar as jy saam met die regte mense reis, kry jy dit reg om te fokus op die positiewe en onthou jy net al die goeie ervarings,” sê hy.

En jy moet geduldig wees, laat hoor Simon, terwyl hy en Streicher ’n potjie boules onder die koeltebome speel.

“Kampeer gee jou vryheid en voer jou weg van daardie picket fence-bestaan,” sê Simon.

“Dis nie net ’n ontdekkingstog van jou omgewing nie, jy leer jouself ook beter ken,” meen Gideon.

Johan se raad aan kampeergroentjies is om goed voor te berei. “As jy op ’n lang ekspedisie gaan, is die AA se webtuiste (www.aa.co.za) jou vriend. Daar sê hulle vir jou presies wat jy vir elke reis nodig het. Sorg dat jy dit alles saamvat en ook dat al jou papierwerk deeglik gedoen is.”

En soms het ’n mens bietjie teëspoed terwyl jy lekkerkry. ’n Klip het die band gesny en ’n gaping van sowat 2 cm groot agtergelaat. Maar Johan Badenhorst het dit binne minute weer gestop.Foto: Suzanne Venter
Dié skoene trap die groot voetspore – selfs Johan Badenhorst se vellies het soms rus nodig.
Alle grappies op ’n stokkie. Hier is Suzanne Venter van Rapport (vierde van regs) saam met die Voetspore span en besoekers na ’n wonderlike boservaring. Van links na regs is Thinus Ferreira, Simon Wearne, Streicher Badenhorst, Elri Boucher, Caroline Phalakatshela (SABC 2), Suzanne Venter, Norbit Coetzee, Johan Badenhorst en Gideon Swart.Foto: Verskaf
Gideon Swart van die Voetspore span neem ’n kiekie van die pragtige uitsig by een van die vele uitkykpunte in die Makuya-reservaatFoto: Suzanne Venter
Die Voetspore regisseur, Stefan Sonnekus, besig om nog ’n mooi sonsondergang op film vas te lê.Foto: Suzanne Venter
Johan Badenhorst leer op die harde manier dat ’n plakkie nie gemaak is vir bergklim nie.Foto: Suzanne Venter

Die Ivoorroete

Johan het ’n reis deur Limpopo se Ivoor-roete by die jongste Voetspore-reeks ingesluit omdat mense Limpopo altyd sien as ’n plek wat “té droog, té warm en daar té veel malaria” is.

Die Ivoorroete strek oor die noordelikste dele van die provinsie. Die uitleg op ’n kaart herinner aan ’n perd se hoefyster en die naam is te danke aan die ivoorhandel wat jare lank hier plaasgevind het. Olifante is steeds te sien, asook allerhande ander wild wat die rivier uit die Krugerwildtuin oorsteek.

Ek het my veral verkyk aan die ongerepte rotsvalleie en die kremetartbome wat volop in die omgewing groei.

Volgens Fixon Hlungwani (61), hoof van kommersiële en operasionele ontwikkeling in Limpopo, is dit beter om die streek in die winter te besoek as jy werklik bang is vir hitte.

Eet soos ’n koning as jy kampeer

Simon is ’n ervare kampeerder wat saam met Norbit moet sorg dat die manne gevoer word.

Hy is in beheer van die Voetspore-span se kombuis en het ons keer op keer verras met die geurige disse wat hy op ’n eenvoudige opslaantafel en kampvuur voorberei het.

Volgens hom is buigsaamheid die belangrikste ding wanneer jy maaltye beplan. Vir lang reise is harde groente soos pampoen en wortels ideaal omdat dit lank hou. “Dis ook goed om die basiese goed soos mielies, tamaties en kekerertjies geblik te vat. ’n Mens kan veral wondere verrig met geblikte kersietamaties.”

Wat geur betref, kan jy ook nooit verkeerd gaan met knoffel en gemmer nie, asook kerriepastas en poeiers.

“Nog ’n staatmaker is toevou-etes (wraps). Veral dié wat vir lank in die kas kan lê. Jy kan dit die volgende oggend vul met die oorskiet van die vorige aand. En dis ook heerlik vir ’n breakfast on the go as jy dit vul met iets soos ’n gaar worsie, gebakte eier, vars tamatie en wat ook al beskikbaar is.”

En natuurlik maak jy dan geen borde vuil nie.

“Dit spaar ook baie tyd as jy vooraf bredies en kerries by die huis maak en vries vir jou reis. Dan kan jy dit net vinnig in die pot gooi en vars groente bysit.

“ ’n Mens is nie lus om te sukkel wanneer jy laat by ’n kamp aankom nie en ek het al geleer dat alles altyd langer vat as wat jy dink,” sê Simon.

Indien jy op lang ekspedisies gaan, beveel hy aan dat jy ook vooraf navorsing doen oor die beskikbare varsprodukte. “Plaaslike inwoners is gewoonlik gretig om aan jou te verduidelik hoe om goed gaar te maak en so ervaar jy ook iets nuuts en dit raak ’n lekker avontuur,” sê hy.

Goeie kampe
Dit het ons R130 per dag per persoon uit die sak gejaag om in die Makuya-reservaat te kampeer. ’n Donkie sorg hier vir warm water in basiese badkamergeriewe. Dis een van talle goeie kampe in die omgewing. Vir meer inligting, besoek www.africanivoryroute.co.za.

Meer oor:  Limpopo  |  Besoek  |  Reis  |  Kampeer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.