Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Leeu-safari’s met lofwaardige doel

Groot katte en luukse ekotoerisme loop hand aan hand. Die dollars en euro’s wat toeriste uithaal om leeus en luiperds in ongerepte wildernisareas te sien, kan dalk net hul voortbestaan en dié van hul prooi verseker, skryf Carla Lewis.

Een van die leeumannetjies van die Papirus-trop, van die Busanga-vlaktes in die Kafue Nasionale Park. Foto: Carla Lewis

Dit sou normaalweg iets wees waarvan iemand op safari net kan droom, ’n toneel wat jy net een keer in ’n leeftyd sal sien.

Dit blyk dat ’n trop leeus in die Suid-Luangwa Nasionale Park in Zambië ’n olifant platgetrek het en hulle het aan die karkas gesmul.

Die gids wat op die toneel afgekom het, het egter gou onraad vermoed. Van die leeus het snaaks opgetree en gelyk asof hulle stuiptrekkings kry. Een het nie beweeg nie. Hy het dadelik die Suid-Luangwa-parkeraad laat weet hier is groot moeilikheid.

Die olifantkarkas was vergiftig, deurdrenk met ’n dodelike kelkie van die insekdoder karbuforan.

“Dit was mal, aaklig. Aan die een kant het jy ’n groep leeus gehad wat besig was om te braak en stuiptrekkings te kry,” vertel Ben Goodheart, ’n Amerikaanse ekoloog en die Zambian Carnivore Programme (ZCP) se terreinbestuurder van Kafue Nasionale Park, wat deel was van die span wat in 2016 uitgeroep is om die krisis te bestuur.

“Aan die ander kant moes ons die gesonde leeus wat nog besig was om te vreet van die karkas probeer verwyder. Dan moes ons deur die nag deur boendoes baklei om die ander op te spoor wat moontlik aan die karkas gevreet het, maar die bosse ingevaar het.

Twee leeuwelpies speel in die vroegoggendson. Foto: Carla Lewis

“Ons het deurnag gewerk om al die leeus op te spoor en verdoof te kry,” vertel hy.

Dit het ’n week geneem om al die vergiftigde leeus te behandel en van die olifantkarkas ontslae te raak, sodat ander aasdiere nie daardeur vergiftig word nie. Hulle moes ook enige liggaamlike oorskot soos braaksel en stoelgange van die leeus wat moontlik deur die gifstof gekontamineer is, vernietig.

“Ons het amper die hele trop deurgetrek en net een leeu verloor,” vertel hy trots. Geen aasvoëls of aasdiere soos hiënas het ook naby die karkas gekom om daarvan te vreet nie.

As dit nie was vir die intensiewe opleidingsessie oor vergiftiging wat lede van Zambië se Nasionale Parkeraad en nieregeringorganisasies soos ZCP slegs weke vantevore bygewoon het nie, was die skade miskien baie erger.

Die toekoms vir die wêreld se leeubevolking lyk troebel.

Die vernietiging van hul habitat, konflik tussen mens en dier, stropery vir die moetie- en Oosterse medisynemark, asook leeus wat in valstrikke beland, is net van die bedreigings wat druk op Afrika se leeu- en grootkatbevolking plaas.

Aan die begin van die 20ste eeu was daar meer as 200 000 wilde leeus in Afrika. Vandag is daar net 20 000 oor. Leeus is uitgesterf in 26 Afrika-lande en 90% van hul geskiedkundige habitat is vernietig, volgens Panthera, ’n nieregeringsorganisasie wat hom bemoei met die bewaring van groot katte.

Die koste van 'n halsband

Om ’n leeu met ’n satelliethalsband toe te rus en hul beweging te monitor kos sowat $2,200 (ongeveer R31 000), vertel Goodheart.

“Dan praat ons nie eens van die koste wat daarna volg nie: die brandstof van die voertuie wat die diere oor so ’n wye habitat moet volg, veeartskoste, slytasie en die salarisse van die personeel.

“Die ontvangstel wat ons gebruik om die halsbande se frekwensies op te tel, kos ’n verdere $1 000. Dit kan alles baie gou baie duur word.”

Plek van die vleisvreters

Die Busanga-vlakte in die noorde van die Kafue Nasionale Park in Zambië lyk soos ’n plek waar roofdiere kan gedy. Die miombo-woud waardeur die sonlig priem en skaduspikkels oor die woudvloer gooi, is die ideale wegkruipplek vir luiperds en wildehonde.

Dan kry jy wyd uitgestrekte goue vlaktes wat vroegoggend in mis gehul word, waar leeus soos spookagtige figure uit die missluier verskyn en weer in rivieroewerwoud van trosvye en wilde dadelpalms verdwyn.

Toeriste reis van oor die wêreld heen om die sogenaamde Papirus-leeutrop van die Bu­sanga-vlakte sien: die twee mannetjies Nervous en Scarface, en die wyfies Maggie, Princess, Queen en die superjagter Killing Machine en hul ses welpies.

Om hier uit te kom, is ’n uitdaging. Van Johannesburg vlieg jy na Lusaka, en daarvandaan volg ’n vlug van anderhalfuur in ’n viersitplekvliegtuigie na ’n vliegveld in die middel van nêrens.

Tydens my besoek middel Junie was dit besonder droog, maar wanneer die vlakte in vloed is, word jy en jou tasse in ’n mokoro gelaai wat jou roei na jou lift, ’n 4x4. Wanneer dit droog is, is dit net 40 minute met ’n viertrekvoertuig, maar in nat toestande kan dit enigiets tussen twee en drie ure van stoei kos om jou eindbestemming, Shumba-kamp, te bereik.

“As dit nie vir Kafue se leeus, luiperds en wilde honde was nie, sou min mense die moeite gedoen het om by die Busanga-vlakte uit te kom. Dan sou daar nie hulpbronne gewees het vir anti-stroping- en bewaringsprogramme nie,” verduidelik Goodheart, wat tans besig is met sy meestersgraad in wildsbestuur by die Universiteit van Montana.

“Daardie toeriste bring geld en hul geld word weer teruggeploeg in bewaring. Só vind almal baat by die roofdiere.”

’n Leeumannetjie bespied sy territorium op die Busanga-vlakte in die noorde van die Kafue Nasionale Park in Zambië. Foto: Carla Lewis

Word roofdiere voorgetrek?

Hy is bewus van die partydigheid in die wetenskap- en bewaringswêreld – dat roofdiere voorgetrek word wanneer dit by die finansiering van navorsing en bewaring kom.

“Maar as jy kyk na die omgekeerde driehoek waarvan roofdiere soos leeus die sogenaamde sambreelspesies is wat heel boaan die voedselketting is, syfer die geld wat aan karnivoorbewaring en navorsing toegeken word deur na ander spesies en die omgewing.

“Kyk nou maar na die lelkraanvoëls hier; hulle is pragtig. Ek vind hulle absoluut bekorend,” sê Goodheart.

“Maar die meeste mense kom nie hier om na kraanvoëls te kyk nie. Hulle kom vir die roofdiere.

“Ek is ’n voëlkenner en ’n ekoloog, maar eerstens is ek bewaringsgesind en bitter lief vir Afrika. Dit was nog altyd my droom om hier te werk. Om karnivore in Zambië na te vors bied my die geleentheid.

Witrugaasvoëls vreet aan ’n karkas wat ’n luiperd moontlik gevang het. Foto: Carla Lewis

“Wanneer jy karnivore bewaar en die habitat wat hulle nodig het om te gedy – reusewildernisareas – gaan oppas, gaan die diere wat deel uitmaak van die habitat, die skinke en akkedissies en die paddas . . . hulle gaan ook baat daarby vind.”

Maar sê nou al die leeus, luiperds, wilde honde en jagluiperds verdwyn? Hoe lyk ’n wêreld sonder roofdiere en is hulle regtig so ’n belangrik stukkie in die ekologiese legkaart?

Wanneer karnivore uit ’n ekostelsel verdwyn, beklemtoon Goodheart, is die gevolge katastrofies.

“Vlaktewild is baie meer paraat wanneer daar roofdiere in die omgewing is,” verduidelik hy.

“Hulle kan nie die hele dag met hul koppe tussen die gras of takke deurbring, besig om te vreet nie, maar moet darem ook ’n oog oor hul omgewing hou en seker maak hulle word nie deur ’n leeu of luiperd bekruip nie.

“As daar nie dreigende gevaar is nie, vreet hulle baie meer. Dit lei tot oorbeweiding, druk op die plant- en koshulpbronne en gronderosie.

“Die siek, verswakte diere en dié met slegte gene word ook nie uit die trop verwyder nie. Die resultaat is ’n verswakte genepoel en genetiese defekte binne ’n bevolking.”

In die oggende word die vlaktes gehul in ’n sluier van mis, terwyl rooi lechwes soos skimme in die duisternis beweeg. Foto: Carla Lewis

Ekotoerisme en bewaring

Wanneer leeus en luiperds verdwyn, verdwyn die toeriste wat die Busanga-vlakte besoek en so ook die R7 miljoen wat Wilderness Safaris jaarliks in Kafue se bewaring en die omliggende gemeenskap teruggeploeg het. Tientalle mense wat in die maatskappy se twee Kafue-safarikampe werk, verloor hul inkomste.

Arnold Tshipa, ’n omgewingsbeampte van Wilderness Safaris se Zambezi-streek, sê sedert die maatskappy in 2006 twee lodges in die Busanga-konsessie geopen het, het hulle ’n styging in die getalle vlaktewild gesien.

“In 2017 is daar vir die eerste keer in tien jaar ’n lugopname gedoen – die laaste een was in 2007. Die resultate spreek vanself, veral wanneer dit by die vlaktewild kom.”

Die rooi lechwe se getalle het met 487% toegeneem, poekoe met 103% en blouwildebeeste met 89%.

“Ek vergelyk dit altyd met ’n koekieblik,” sê Arnold.

“Hoe meer oë daar op die koekieblik is, hoe minder handjies gaan skelmpies koekies daaruit gaps.

“Kyk daarna vanuit ’n toerismeperspektief: die resultate van die peiling bewys dat die teenwoordigheid van ’n eko-toerisme-operateur in ’n spesifieke area ’n drastiese impak kan hê op stropery binne ’n gebied.”

Maar is die safari-lodges nie elitisties nie? Sluit die hoë pryse nie die land se eie mense uit, terwyl slegs bevoorregte buitelanders wat euro’s, ponde en dollars verdien, dit kan bekostig om na Busanga se leeus en luiperds te kom kyk nie?

Carla Lewis

“Dit is ’n netelige vraag,” gee Tshipa toe.

“Ek dink die sleutelperspektief, veral vanuit ’n ekotoerisme-operateur se oogpunt, is om na ongerepte, onbegaanbare areas soos die Busanga-vlaktes te kyk en vir onsself te vra wat is die beste manier om volhoubare ekotoerisme binne die area aan te moedig. En deel daarvan is om die gemeenskap betrokke te kry.

“Alhoewel die gewone Zambiër miskien nie kan bekostig om die lodges te besoek nie, word daar ekonomiese geleenthede geskep wat ’n rimpeleffek op die gemeenskap en bewaring het. Sonder die gemeenskap is daar nie bewaring nie.

“Ons het elke jaar ’n Children in the Wilderness-kamp, waar kinders rondom die gemeenskappe in die luukse safari-oorde kom bly en vir ’n paar dae leef soos bevoorregte toeriste uit Europa en Amerika. Hulle slaap in die luukse tente, gaan op wildritte en leer meer van die natuur en hul omgewing.

“Só wys ons vir die kinders daar is ’n ander manier om in harmonie saam met die wild en die natuur te leef.”

Pleks daarvan om wild te stroop om hul beursies aan te vul, of om ’n olifant te skiet vir sy ivoor en as voetsoldate vir ’n internasionale stroperskartel te werk, leer die kinders dat diere bates vir hul gemeenskap kan wees wat toeriste van oor die wêreld heen lok.

Goodheart beaam dit. “Om armoede uit te wis en mense finansieel te bemagtig loop hand aan hand met bewaring. Jy kan nie aan ’n arm gemeenskap vertel die leeu wat hul vee, hul bestaan uitroei, is beskermde wild en hulle mag niks aan daardie leeu doen nie. Hulle moet kan sien, ervaar en voel hoe daardie leeu vir hulle kos in hul mae sit.”

  • Carla Lewis was ’n gas van Wilderness Safaris. Sy is ’n senior joernalis van Beeld.
'n Dag in die lewe van 'n navorser

Die Zambian Carnivore Programme werk tans in drie gebiede, die Luangwapark, Liuwa en Kafue, waar die Busanga-vlakte is.

Hulle monitor die karnivore se bevolkings, kyk wat die diere bedreig en help die bestuur om die regte besluite oor die diere te neem.

Daar is nie so iets soos ’n tipiese dag in die lewe van ’n ekoloog of navorser nie, lag Goodheart, veral wanneer jy veldnavorsing doen.

Een van Kafue se grootste kwessies is wildstropery met strikke. Roofdiere wat in die strikke gevang word, was voorheen die onbedoelde gevolg van striklokvalle, maar dit blyk nou asof spesifiek die groot katte al hoe meer deur stropers geteiken word vir die tradisionele medisynemark.

Elke dag is anders en onvoorspelbaar. “Gewoonlik begin jou dae so vroeg soos 03:00 of 04:00 en kan tot verby middernag en selfs weer tot in die vroeë oggendure strek, veral wanneer jy ’n dier waarneem wat besig is om te jag.

“Dit hang ook alles van jou prioriteite af. Wanneer ons hoor van ’n dier wat in ’n strik vasgevang is, los ons alles en probeer dit opspoor, die strik verwyder en die wonde behandel. Ons het verlede maand ’n geval gehad van ’n leeuwelpie wat in ’n strik beland het en dit het gesorg vir baie laat nagte en vroeë oggende. Dit is uitputtende werk.

“Tans monitor ons agt troppe leeus, vyf troppe wilde honde en sewe jagluiperde oor ’n area van 11 000 km². (Dis ’n area groter as die helfte van die Krugerwildtuin, met onbegaanbare moeras­areas en digte miombo-woude vol tsetsevlieë.)

“Kafue het nie ’n wye padnetwerk nie en baie van ons tyd word net aan die opsporing van diere bestee. Satelliethalsbande help ons ongelooflik baie.”

Wanneer hulle die trop diere opgespoor het, doen hulle ’n bestekopname van diere wat dalk weg is of by die trop aangesluit het, wyfies wat swanger is, ensovoorts.

“In Kafue alleen het ons ’n databasis van 1 000 diere wat ons weer kan uitken. Dit word alles gebruik wanneer ons die karnivoorbevolking se demografie, oorlewingsvlakke en ouderdom en geslag ontleed en dokumenteer. Soos jy jou kan indink, is dit harde werk, baie rondry en is daar min tyd vir stilsit.”

Meer oor:  Zambië  |  Safari  |  Leeu  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.