Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Liefde so diep soos die see . . .

Op en in waters regoor die wêreldoral ter wêreld is die Conradie-gesin van Vilankulo se lewe sorgvry, maar onvoorspelbaar, skryf Daréll Lourens. 

Andrea neem dokumentêre foto’s van die Bazaruto-eilandgroep en Janneman is aan die stuur.

Dis ’n windstil oggend op die waters van die Bazaruto-eilandgroep. Die see vou sy golwe soos blou stroop om die boeg van die Marine Mega­fauna-stigting (MMF) se navorsingsboot. Aan boord het die Conradies pas klaar geduik vir die dag. Janneman skuif agter sy stuur in, Andrea neffens hom, albei besig om toebroodjies te eet, terwyl hy huis se kant toe mik waar hul tweejarige dogtertjie wag. Die perfekte prentjie van ’n sorgvrye lewe aan die kus.

Sorgvry, maar onvoorspelbaar. Daar bestaan nie iets soos ’n tipiese dag in die Conradie-gesin se lewe nie. “Soms dryf ons op ’n seilboot van R100 miljoen tussen die Karibiese Eilande rond, en ander dae kruip ons kniediep in moerasse saam met haainavorsers,” vertel Janneman. Andrea beaam dat hulle die afgelope ses jaar minstens agt maande per jaar weg van die huis deurgebring het. “Sedert Mia se geboorte het ons dit probeer afskaal – nou reis ons slegs ses maande per jaar!”

Die Conradies vier Halloween as pylsterte in die Maledive.
Mia reis al van babatyd af saam met haar ouers. Hier is sy en Andrea in Mexiko in opdrag van National Geographic toe sy net nege maande oud was.

Op hul MMF-ekspedisies duik Janneman, ’n onderwaterkameraman en vlieënier, en Andrea, ’n mariene bioloog, minstens vyf tot ses maal per dag. Saam identifiseer, bestudeer en verfilm hulle gedragspatrone van mariene megafauna, veral mantas of pylsterte. As die MMF versamel hulle ook genetiese monsters en gebruik akoestiese en satelliet-koderingsmeganismes vir verdere mariene opsporingsprogramme.

“Die MMF is uit frustrasie gebore. Ek kon ná my doktorsgraad nie ’n organisasie vind waar ek buite ’n kantoor, in die see of tussen gemeenskappe vir 365 dae per jaar geplaas kon word nie. Plaaslike mense reageer nie positief op buitelanders wat vir ’n paar weke kom praatjies maak en hulle vertel wat om te doen nie. Dit is nie hoe natuurbewaring veronderstel is om te werk nie. Ek wou dinge anders aanpak.”

Kort nadat Andrea die MMF aan die Mosambiekse kus gestig het, het sy opspraak verwek in die internasionale media en dis waar Janneman toe sy toekomstige vrou raaksien. Hy het toevallig ’n program oor haar op die National Geographic-kanaal gesien. “Niemand het my nog ooit só beïndruk nie. Ek het onmiddellik vir haar geskryf en gevra of sy nie die hulp van ’n ywerige Porterville-boerseun met ’n kamera en ’n duikpak nodig het nie. Nadat sy my menigmaal skriftelik afgekeur het, het ek persoonlik aan haar strandhuisdeur in Mosambiek gaan klop – in die hoop om haar te oortuig – maar steeds kon ek nie die geleerde Amerikaner uit San Francisco se voete onder haar uitslaan nie,” terg Janneman met sy outentieke Kaapse aksent.

Gelukkig is hierdie ’n ware liefdesverhaal, en die noodlot laat hul paaie ’n paar jaar later weer kruis, weliswaar en ironies genoeg nie op land nie: “Bykans vyf jaar later, tydens die jaarlikse sardynstormloop in Port St. Johns, vlieg Janneman my in sy Bat Hawk-mikroligtevliegtuig rond om lugfoto’s te neem. Ek kon nie anders as om te erken dat hy hierdie keer letterlik my voete onder my uitgeslaan het nie,” bieg Andrea blosend in verbasend vlot Afrikaans.

Sedertdien is Janneman en Andrea ’n onafskeidbare span gevestig in die klein kusdorpie Tofo in Mosambiek.

Soms vereis die navorsingsekspedisies dat die Conradies vir ’n tyd lank op ’n seiljag woon. Hier is hulle op die waters van die Dominikaanse Republiek.

Waar die pylsterte swerf

“Ek respekteer Janneman se nederigheid bo al sy eienskappe. Hy is die beste vlieënier wat ek ken en is boonop ’n besonder talentvolle kinematograaf. Hy is my duikvennoot, want hy is die beste duiker van wie ek weet.”

“Ag, dit gaan vir my bloot om die avontuur van verkenning,” skerts Janneman voor Andrea in alle erns benadruk dat hy haar en die MMF se grootste dryfkrag en ondersteuning oor die jare was en is.

Andrea fokus nou al jare met haar navorsing op mantarôe en pylsterte. “Soos ekself in my eie veld groei en meer studente ondersteun wat uit eie reg kritiese navorsing behartig, word ek minder selfsugtig as navorser,” vertel die vrou wat self ’n lang lys navorsingsuksesse en kwalifikasies agter haar naam het.

Volgens Janneman is Manta Matcher (MM) – ’n wêreldwye aanlyn databasis vir pylsterte – haar grootste nalatenskap tot op hede. “MM stel alle navorsers in staat om saam aan projekte te werk en groter waarnemings vinniger as tevore te maak. Nalatingsprojekte is belangriker as individuele navorsing.

“Ons skep dinge wat tydloos en nuttig vir mense lank ná ons tyd op aarde sal wees,” vertel Janneman trots.

Tans werk die MMF in Oos-Afrika, Suidoos-Asië en ’n klein deeltjie van die Amerikas – tussen Florida en die bopunt van Suid-Amerika. Daar is nie planne om uit te brei nie. “Ons wil fokus en met aktiewe doktorsgraadstudente werk wat daagliks data plaaslik versamel. Dit is wat werklik ’n verskil gaan maak, veral op grondvlak in ontwikkelende lande.”

Pa en dogter speel in die water by Raja Ampat, Indonesië.
Andrea het ’n groot liefde vir ’n mantarog. Hier swem sy saam met een by Ecuador.

Liefde deur vlak én diep waters

Hoe werk ’n huwelik van saam woon, werk en reis?

“Byt vas, wees goed vir mekaar, leer om toegewings te maak en deel mekaar se passie,” sê Janneman.

“Selfs al het ons uiteenlopende verantwoordelikhede en vaardighede, pas ons onder en bo die water by mekaar. Ons het albei ’n voorliefde vir kamerawerk en ons oorkoepelende doel is altyd om die oseaan te beskerm.”

Dit is natuurlik moeiliker ná die geboorte van hul dogtertjie. “Mia reis al sedert sy vier maande oud is oral saam met ons. Dit is nie iets wat sy noodwendig uit vrye wil doen nie,” erken Janneman.

Mia se realiteit kan ongenaakbaar wees. “Elke nuwe maatjie groet sy noodgedwonge ’n paar dae later. Sy word in verskillende hotelle, bote en huise wakker. Hopelik word sy ’n wêreldwyse kind, maar ek maak my ook gereed – al skerm ek sterk teen die moontlikheid – dat my kind ’n vrees vir verlating kan ontwikkel, aangesien sy nooit werklik weet wat of wie sal weggaan en wanneer nie,” voeg Andrea eerlik by. Dan vertel sy van hul planne om Mia tuis te onderrig en hoe hulle daarna uitsien om haar die onderwaterwêreld te wys. “Ons hoop om haar veilig en verrykend groot te maak, selfs al doen ons dit op maniere wat anders as die norm is.”

Andrea kyk peinsend na die water om ons en steek haar hand oor die rand van hul navorsingsboot, so al of sy iets magies neffens die steeds stroperige oppervlak kan sien en wil aanraak. Dan ontmoet haar blik dié van haar man. In stilte nader ons die vasteland by Vilankulo en ek besef dat net ’n liefde soos hierdie, so diep soos die see self in die harte van alle rolspelers, sal sorg dat daar eendag wel veel meer as net pylsterte onderwater vir Mia en haar maats kan ronddraai.

  • Volg Andrea en Janneman se omswerwinge: instagram.com/queenofmantas en instagram.com/jannemanconradie.
  • Daréll is ’n vryskutjoernalis en -fotograaf wat vir twee jaar op Vilankulo gewoon het. Volg haar: instagram.com/thegoodholiday.
Meer oor:  Werk  |  Leef  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.