Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Lokroep van die branders

By Jeffreysbaai kom die son op oor die see en dan is daar al ’n hele paar geesdriftiges in die branders. Foto’s: Heleen Coertze
Jeffreysbaai is soos ’n blink seeskulp tussen die ander gesogte vakansiebestemmings in St. Francisbaai, skryf Heleen Coertze.

St. Francisbaai, wat van Kaap St. Francis in die suidweste tot by Sea View in die ooste naby die huidige Gqeberha (Port Elizabeth) strek, is bekend vir sy lieflike strande en string kusdorpies.

Die baai, waarvan die kuslyn met ’n bietjie verbeelding byna soos ’n mens se kop, neus en boonste lip lyk, spog ook met hope visvangplekke en uitsoek-branders vir branderplankry. En daar op die bolip sit Jeffreysbaai.

Van toeka tot nou

’n Gewilde storie is dat Jeffreysbaai as ’n hawe en handelspos ontstaan het nadat kaptein Jeffreys, ’n walvisjagter van St. Helena, in 1849 hier aan wal moes gaan nadat skeurbuik op sy skip uitgebreek het. In 1850 het hy toe glo ’n dubbelverdieping-herehuis gebou – “The White House”. Deur die jare het “The White House” verskeie gedaantewisselings ondergaan, maar dis mettertyd gesloop.

Volgens navorsing wat gedoen is, het die dorp egter sy naam te danke aan ’n Engelse immigrant, Joseph Avent Jeffery, wat hom omtrent 1848 hier gevestig het as ’n algemene handelaar. In sy winkel, eens bekend as “The Fishery”, was alles beskikbaar – van koffie, tee en suiker tot spykers, medisyne en materiaal vir klere.

John Whitmore, die bekende Suid-Afrikaanse branderplank­pionier, het eers in 1959 die potensiaal van die branders in Jeffreysbaai opgemerk.

Die vissersbedryf het ook floreer, aangesien die strand ’n veilige “hawe” gebied het vir die bote net regs van waar die huidige hoofstrand vandag geleë is.

Tot ongeveer die laat 1950’s was Jeffreysbaai maar net nog een van die pêrels in die string van aanloklike vakansieplekkies in dié baai. John Whitmore, die bekende Suid-Afrikaanse branderplank­pionier, het eers in 1959 die potensiaal van die branders in Jeffreysbaai opgemerk. Teen 1964, toe die Kaapse branderplankryer John Grendon saam met sy makkers die grotes aangedurf het by die area wat later bekend sou staan as Supertubes, was die brandergeheim van die baai daarmee heen.

Mettertyd het branderplankryers van oor die wêreld heen bewus geword van dié ontspanne en vriendelike Oos-Kaapse kusdorpie met sy uitmuntende branderplankryplekke. Die warm Indiese Oseaan se louerige water wat vir kilometers op die goue strande teen die kus uitstoot, is ook ’n onweerstaanbare bonus vir ander son­soekers.

Die Supertubes-gastehuis se trappies neem jou tot op die strand waar branderryers graag die golwe aandurf.
Rollende branders

Jeffreysbaai is vandag wêreldwyd onder branderplankryers bekend vir sy rollergolwe, veral as ’n gronddeining saam met die noordwestelike bries met laagwater voorkom.

In die wintermaande, van Mei tot Augustus, is jy verseker van reusagtige regsbrekende “supertube”-golwe wat hoogtes van 3 m en lengtes van tot 800 m bereik. Sterk westewinde, die sogenaamde “Roaring Forties” wat dan hier waai, sorg vir branders waarin net die bestes onder die bestes kan deelneem. Kitchen Windows, Surfers’ Point en Supertubes is bekende branderryplekke wat Jeffreysbaai as een van die toptien-branderrybestemmings ter wêreld gevestig het. Internasionale kompetisies word gereeld hier gehou.

Natuurlike skulpversamelings

Dieselfde branders wat vir perfekte branderry-geleenthede sorg, is verantwoordelik vir die groot verskeidenheid skulpe wat hier uitspoel.

Die wisselwerking van die Agulhas- en die Benguela-seestroom sorg vir lieflike, interessante warm en koue waterskulpspesies wat hier op die inkomende getye uitgespoel word, veral ná windstorms.

Die oorspronklike skulpwinkel is in 1969 geopen deur ’n skulpversamelaar wat betower is deur die ryke verskeidenheid skulpe op die Jeffreysbaaise strand.

Die Jeffreysbaaise Skulpmuseum is amptelik op 15 September 1998 geopen met ’n private skulpversameling van ene Charlotte Kritzinger, maar is intussen uitgebrei en huisves nou van die grootste versameling skulpe in die land. Tans is daar meer as 2 000 verskillende spesies wat uitgestal word en altesame ongeveer 10 000 skulpe.

Skulpversamelaars van oor die wêreld heen kom loer gereeld na onder meer die papierdun nautilus, porseleinskulp (cowrie), mikroskulpe, jamtertjies, konusskulpe, en baie meer. Besoekers word ook interessante staaltjies en legendes vertel oor onder meer “sigaretskulpe” en money cowries.

By J-Bay Bru Co sit jy in ’n hippie-kombi aan.
’n Dorp vir doendinge

Die dorpie word aan albei kante omsoom deur natuurreservate en riviere. Die Kabeljousrivier se monding in die Kabeljous-natuurreservaat word goed in stand gehou en is bekend vir sy interessante inligtingsbordjies by verskillende plante.

Kom jy van Mei tot Junie, verwelkom verskillende aalwynspesies jou hier in die reservaat. Die gebied is ook die somertuiste van die migrerende, grasieuse flaminke. Jy kan dalk ook ’n duiker, bosbok of grysbok raakloop tydens ’n stappie op een van die gemaklike wandelroetes wat wissel van 3 km tot 7 km.

Indien jy net der dagen sat is en wil afskakel, kan jy die ballerinas van die see vanaf Mei tot September kom inwag. Die suidelike noordkapper- en bultrugwalvisse kan in hierdie tyd vanaf eetplekke soos die Kitchen Windows Beach Restaurant dopgehou word. Dié restaurant, een van die baie eetplekke in die dorp, het sy naam ontleen aan die branderplankryers wat deur hul kombuisvensters gekyk het om te sien of die branders roep.

By die Walskipper, een van Jeffreysbaai se top-seekosrestaurante, is daar tafeltjies wat letterlik teen die branders staan. Terwyl die son sak aan die westekant, grawe jy jou tone dieper in die seesand terwyl die branders hier neffens jou breek.

Ek verstom my by J-Bay Bru Co, ’n gesinseetplek met sy oulike en oorspronklike interieur, aan die lieflike stuk mosaïekwerk by die ingang. Die kunstenaar het dit reggekry om die elemente van die omgewing, die bruisende water, die ritmiese danse van die walvisse en die blink kleure van die seeskulpe op ’n meesterlike manier in een kunswerk vas te vang. Die eienaars het voorwaar met ’n unieke eklektiese aanslag kreatiewe ruimtes geskep waar hul klante met nostalgie terugverlang na toeka se dae.

Oornag in weelde en gasvryheid

Wat bly- en slaapplek betref, is jou keuses in hierdie vakansiedorpie legio. Eerste indrukke is egter blywend en die warm verwelkoming deur Maresa Meyer en Salome Seal by die Supertubes-gastehuis was soos manna ná ’n lang dag op die pad. By hierdie moderne vierster-gastehuis word jy behoorlik soos ’n koning behandel.

Soggens word ontbyt in die eetkamer, binne of buite soos die weer toelaat, deur die galante Moses Temaremoyo bedien. Jou perfek gekookte eier het sy eie silwerdekseltjie en herinner aan rustige maaltye sinoniem met vakansietyd.

Maresa vertel later dat hulle in 1996 die eerste van die Supertubes Versameling-verblyfopsies hier gekoop het.

Die kamers van al die verblyfopsies is ruim en luuks ingerig, en kry regmerkies vir al die verskillende graderings.

Die eiendom is perfek op die gelyknamige branderplankstrand geleë.

Hier kan jy byna vanaf jou kamervenster in Julie vanjaar die internasionale branderplankkompetisie dophou – en hopelik ook een van daai 44 internasionale branderplankryers raakloop. Of jy kan maar op ander tye soggens, soos ’n gesoute branderryer, die gordyne ooptrek en tuur oor die see om te sien of die branders vandag op hul beste is.

  • Heleen was ’n gas van Cape Country Routes, waarvan die Supertubes-gastehuis ’n lid is.

Om te weet

  • Slaap by die Supertubes-gastehuis. Jy kan bespreek by bookings@supertubesjbay.co.za of skakel 042 293 2957.
  • Eet by: Kitchen Windows (042 293 4230); Die Walskipper (042 292 0005); en J-Bay Bru Co (042 940 0165).
  • Verken die dorp saam met Gerhard Mans. Kontak hom by www.rik­shatours.com of skakel 063 491 6157.
  • Roei of neem branderrylesse by All Africa Adventures (083 661 5393) of JBay Surf Village (082 324 7284).
  • Verwyl tyd by die Skulpmuseum (082 852 4056) en die branderry-museum (071 169 6552).
Meer oor:  Jeffreysbaai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.